Video: Padtoets: Mitsubishi Pajero Legend II SWB

Mitsubishi Pajero Legend II SWB (Foto: Mitsubishi)

Mitsubishi Pajero Legend II SWB (Foto: Mitsubishi)

Die motor-wêreld is opgedeel in ʼn paar verskillende genres. Een van hierdie genres is gewone werkesels  vir alledaagse gebruik, wat bedoel is om altyd net betroubaar te wees. Hulle raak amper nooit aan mens se hartsnare nie, maar hulle dien hul doel.

Dan kry mens warm luikrûe, wat ook betroubaar is, maar vinnig genoeg om jou broek aan die brand te steek. Hulle tokkel die hartsnare. Dan is daar sport- en super-motors. Dié vuurvreters kan selfs mense wat nie van motors hou nie, se hartsnare laat sing, maar hulle is onprakties en onbetroubaar. Dan kry jy ʼn klein nismark: die regte, egte 4×4. Hierdie voertuie moet nie verwar word met moderne softroaders nie.

Om ʼn ware 4×4 te wees, is ʼn kortasafstand en laestrek gewoonlik ʼn vereiste. Ek hou baie daarvan om in die bos te gaan speel. Toe die nuwe Pajero Legend II SWB by die kantoor opdaag, het ek en Kobus, Maroela Media se rekenaarfoendi, ʼn plan beraam om Groenkloof se 4×4-hindernisbaan te besoek. Gelukkig is dit reg langs die kantoor en toe ʼn kragonderbreking die kantoor in die donker dompel, het ons van die geleentheid gebruik gemaak en weggeglip.

Mitsubishi Pajero Legend II SWB (Foto: Mitsubishi)

Mitsubishi Pajero Legend II SWB (Foto: Mitsubishi)

Die Pajero is al sedert 2007 in Suid-Afrika beskikbaar in sy huidige vorm. Die Legend II is die nuutste opknapping. Dit ʼn paar bykomstighede, soos ʼn swaardiensbeskermingplaat onder die enjin en ratkas en rotsglyers. Yokohama Geolander-dubbeldoelbande van 265/65/17 maak die ritgehalte in die SWB lekker verfynd. ʼn Bosal-swaardienssleepstang is ook standaard op die Legend II en ʼn chroom nerfstamper rond dit mooi af.

Die binneruim van die Pajero wys egter sy ouderdom. Dis glad nie lelik nie, maar teen hierdie prys verwag ek beter afwerkings. Die bougehalte is nie ʼn probleem nie en al die funksionaliteit wat jy nodig het is daar en nog meer. Verhitte sitplekke, ʼn panoramiese sondak, leerbekleedsel, elektries-verstelbare voorstiplekke en ʼn lekker klankstelsel is alles standaard op die Legend II SWB. Swaardiensrubbermatte, met ʼn Legend II embleem op, beskerm die matte teen nat, modderige voete en is ʼn doeltreffende bykomstigheid. ʼn Funksie wat ek wel na verlang het, is ʼn reikverstelbare stuurwiel. Verder is die Pajero heeltemal gemaklik en met sy talle speelgoed, luuks.

Mitsubishi Pajero Legend II SWB (Foto: Mitsubishi)

Mitsubishi Pajero Legend II SWB (Foto: Mitsubishi)

Die 3.2 liter viersilinderdieselenjin in die Pajero is baie sterk. 140kW en 441Nm, saam met ʼn 5-spoed outomatiese ratkas, maak die Pajero ʼn aangename ryding. As jy egter haastig raak, is hierdie Pajero dors, BAIE dors. Op die gekombineerde siklus het ons omtrent 12.8l/100km gehandhaaf. Die Pajero is ook nog toegerus met ʼn viskeuse-koppelaar op sy verkoeler. As dit soms klink asof die Pajero probeer opstyg, is dit net die waaier wat inskop om alles af te koel. Die Pajero SWB gedra homself heel goed op die pad. Die klankdigtheid is heel goed en die vering sag. Daar is taamlik bakrol, maar mens moet onthou die Pajero is gebou vir veldryvermoë.

Die Pajero het ʼn ongeëwenaarde 12 Dakar-oorwinnings onder sy belt. Dit wys mens waar die Pajero se DNS vandaan kom. Die Pajero kan klim en klouter soos min. Ek is nie ʼn verskriklik ervare 4×4-foendi nie, maar die Pajero het dit regtig maklik gemaak. Die Groenkloof 4×4-hindernisbaan is nie vreeslik gevorderd nie, maar tog was die een hindernis ʼn redelike uitdaging.

Mitsubishi Pajero Legend II SWB (Foto: Mitsubishi)

Mitsubishi Pajero Legend II SWB (Foto: Mitsubishi)

Die Pajero het net een mededinger in die vorm van die Jeep Wrangler. Die Wrangler is wel ook puik as die paadjies rof raak, maar is nie vir my so goed soos die Pajero nie. Die Pajero is ʼn gemakliker, meer afgeronde pakket as die Wrangler en sy 4×4-vernuf is merkwaardig. Om op te som, sou ek sê die tannies wat ʼn Pajero SWB wil hê om in die dorp rond te rits, maak ʼn fout. Hoewel hy mooi genoeg is om in enige omgewing te pas, het die Pajero ʼn reuse kassie vol truuks wat nooit in die dorp benut sal word nie. Hierdie speelding is duur, maar as jy daarvan hou om die teerpad te verlaat, is dit regtig ʼn goeie opsie.

Die reeks lyk so:

Pajero SWB GLS140kW/ 441Nm10.1l/100kmR689 900
Pajero SWB Legend II140kW/ 441Nm10.1l/100kmR719 900
Pajero LWB GLS140kW/ 441Nm10.1l/100kmR769 900
Pajero LWB Exceed140kW/ 441Nm10.1l/100kmR789 900
Pajero LWB Legend II140kW/ 441Nm10.1l/100kmR819 900

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000km waarborg en 5 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan.

So lyk die mededinger:

Jeep Wrangler 3.6 Rubicon209kW/ 347Nm11.6l/100km3 jaar/ 100 000km waarborg

3 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan

R618 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Giep ·

R819 000??? !! WAT DE HEL??

Wat rook die mense? Dan moet dit teen n superieure voertuig soos die Fortuner meeding wat LIGJARE goedkoper is!!
Kyk , ek werk vir Jaguar/Land Rover and die die arme sotte spandeer ook dubbel soveel geld aan rubbish omdat hulle dink die ding is beter as ander rygoed.
Die Pajero is mooi , alle erkenning…maar dis g’n Legend nie…ek sal dalk R400 000 opdok as ek moet. Ek hoor goeie goed van Pajero’s en dink dis n goeie voertuig vir die regte mens , maar dis nie naastenby die geld werd nie. Gladnie…

John Cox ·

Te duur !!!! Amper 2 fortuners se prys.
As jy opsoek is na n praktiese , bekostigbare motor, gaan kyk gerus na die HONDA BR-V.
Teen so R240-000 WAARDE vir geld

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.