Padtoets: Ontwerp is nie alles nie

Die nuwe Nissan Micra. Foto: Verskaf

Ons was ʼn geruime tyd terug in die Kaap met die bekendstelling van Nissan se splinternuwe Micra. Regtig ʼn mooi ou buksie wat op Renault se Clio baseer is.

In ʼn paar opsigte is die Nissan vir my ʼn beter voertuig as die Clio waarop hy baseer is – maar een spesifieke probleem kan ek nie verby kyk nie, en dit ruïneer die hele voertuig.

Die Micra het ʼn netjiese ontwerp met ʼn uiters moderne binneruim. Nissan maak gebruik van hul nuwe D-vorm stuurwiel en dit voel sommer lekker in mens se hande. Al die skakelaars het ʼn gevoel van uiters goeie gehalte. Die afwerkings en bougehalte is in ʼn ander klas teenoor die Clio.

Waar die Micra vir my faal, is met sy versnellerreaksie. Bo op die platorand is daar redelike turbotraagheid op die klein 898cc driesilinder. Die turbo word eers mooi wakker hier vanaf 2 000 r/min waarna die enjin 66 kW en 140 Nm bied. Met die wegtrekslag moet mens redelik aggressief raak met die versneller sodat die voertuig nie vrek nie … dán spring alles aan die lewe en al die perde wil oombliklik uit die stal ontsnap.

Binne Nissan se nuwe Micra. Foto: Verskaf

Mens kom dadelik bietjie uit die versneller, dan wil die Micra weer op sy neus staan en kom amper tot stilstand. Ek was oortuig ek’t vergeet hoe om te bestuur, so ʼn ander motorjoernalis is ingespan – en tot hy het gesê daar’s iets nie lekker daar nie.

Terug na die positiewe aspekte. Die Micra het ʼn mooi tweekleur‑afwerking aan die binneruim met sitplekke wat goeie steun bied. Die stuurwiel kan kantel en vir reikafstand stel, so ʼn mens is verseker om gou gemaklik te wees. Die inligtingstelsel is toegerus met CarPlay en Android Auto met billike luidsprekers. Daar is elektriese vensters voor, ABS, ses lugsakke – de lot.

Die ritgehalte op die Micra is lieflike sag, sonder enige belaglike bakrol. Nissan het nie op reuse‑wiele met simpel bandprofiele besluit nie, maar eerder ʼn lekker 17”‑wiel met ʼn 45‑bandprofiel. Padhouvermoë is heel in die kol vir wat die enjin sal vereis.

Die Micra is maklik, dog hartseer, om op te som. Dit is regtig ʼn mooi, goeie voertuig wat goed met die Polo en Fiesta sou kon meeding, maar die enjin laat veel te wense. Sou Nissan die Micra met hul 1.2 viersilinderturbo of 1.5 diesel enjin bekendstel, dink ek dit sou ʼn groot verbetering bied. Ongelukkig is beide daai enjins baie duurder as die 900cc.

Die reeks lyk só:

Nissan Micra 66 kW Turbo VisiaR242 900
Nissan Micra 66 kW Turbo AcentaR268 500
Nissan Micra 66 kW Turbo Acenta PlusR283 900

Die reeks word gedek deur ʼn 6 jaar/ 150 000 km waarborg en 3 jaar/ 90 000 km  diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Opel Corsa 1.0T Enjoy85 kW/ 170 Nm5.0ℓ/100km5 jaar/ 120 000 km waarborg

3 jaar/ 60 000 km diensplan

R256 429
Peugeot 208 1.2T GT-Line81 kW/ 205 Nm4.5ℓ/100km3 jaar/ 100 000 km waarborg

3 jaar/ 45 000 km diensplan

R276 900
Volkswagen 1.0TSI Highline85kW/ 200Nm4.7ℓ/100km3 jaar/ 120 000 km waarborg

3 jaar/ 45 000 km diensplan

R292 800
Ford Fiesta 1.0T Titanium92kW/ 170Nm4.3ℓ/100km4 jaar/ 120 000 km waarborg

4 jaar/ 60 000 km diensplan

R304 900

Ek het slegs die kleinkapasiteit turboaangejaagde modelle hier ingesluit. Die Opel is ʼn winskoop teen dié prys. Die Ford en Volkswagen is albei splinternuut en bied tog puik waarde teen die hoë prys. Gaan toetsbestuur almal – die Micra is regtig ʼn lekker kar en dalk pla die turbotraagheid nie so baie soos vir my nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Boeremeisie ·

Ek lief my Micra 2017 Model. Baie baie ekonomies wat brandstof aanbetref!

VW ·

Besef net weereens hoe goed my Polo 1.2 TSi (66 Kw) se enjin presteer (en reageer!) as ek hierdie berig lees. (Dan praat ek nie eens van die Polo 1.0 (70Kw) se prestasie, wat nog beter is ??)

marco polo ·

n 17 duim wiel met 45 profiel op n klein karretjie soos die Micra sal ek as n ‘reuse wiel met simpel bandprofiel’ beskou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.