Padtoets: Pure BMW-rygenot

Foto: Verskaf

Motors word met elke nuwe weergawe groter, beter, swaarder, luukser, ensovoorts. Ek dink terug aan my dae as laaitie, ʼn E30 BMW 3-reeks was luuks. As ʼn mens nou in een ry, is dit net beknop. ʼn Ford Escort was ʼn aanvaarbare gesinsmotor … Hoe het ons almal ingepas?

In ʼn see van reusedubbelkajuitbakkies is dit verfrissend om ʼn kompakte BMW teen te kom, met sy hoofdoel om dit lekker te maak om te bestuur … dis al. Die BMW onder oë is die 2-reeks. ʼn 220d om spesifiek te wees. Dié nuwe 2-reeks laat my dink aan die ou E30 3-reeks, maar hy bied baie meer ruimte as die ou BMW’tjie.

Die 20d staan vir ʼn 2.0-viersilinderturbodieselenjin met 140 kW en 400 Nm. Daai krag gepaard met BMW se 8-spoed-sport-outoratkas is lieflik. Let wel, 0–100 km/h neem net 7 sekondes en die 220d sal aanhou hol tot 230 km/h. Nie net is hy rats nie, maar as mens mooi ry, kan mens 4 ℓ/100 km handhaaf. Dit wil gedoen wees.

Foto: Verskaf

Die ontwerp is vir my netjies. Klein en kompak, met net twee deure en skoon lyne. Mooi en eenvoudig. Al waarvan ek nie gehou het op ons toetseenheid nie, is die swart wiele waarmee hy hier opgedaag het. Mens kan gelukkig jou eie kleurkombinasie kies as jy jou eie 2-reeks koop.

Die binneruim is lekker luuks. Voorste passasiers het meer as genoeg plek, die sitplekmeganisme werk puik as jy passasiers agter inpak en skuif maklik terug na waar hy gestel was. Jy sou nie reuse agter kon vervoer nie – maar dis nie waarvoor jy ʼn 2-reeks koop nie.

Die 220d is tóg ʼn BMW. Die sitplekke kan oneindig gestel word tot jy perfek gemaklik is. Die stuurwiel kan lekker ver uittrek nader aan jou en op en af. So, ongeag jou grootte of bou – jy sal gemaklik kan wees in die 2-reeks.

Foto: Verskaf

Die klankstelsel beïndruk en die inligtingskerm se uitleg is intuïtief. Ek is reeds gewoond aan BMW se iDrive en dit werk maklik. Al waarna ek verlang, is ʼn volumeknoppie vir die klankstelsel langs die handrem; talle vervaardigers begin dit nou doen, en dit werk regtig lekker.

Die 2-reeks het óf 17″- óf 18″-wiele, en BMW het weer die vering fantasties gekalibreer, want die ritgehalte is geensins ondeund nie. Padhouvermoë is baie goed en die agterwielaangedrewe onderstel is opwindend as mens hard begin ry.

Die 2-reeks is maklik om op te som. Daar is verskeie enjins beskikbaar, net wat jou smaak pas. Die 220d bied my ʼn fantastiese kompromis tussen verrigting en brandstofverbruik. Die 220d sal ʼn puik genoot wees vir elke dag lekker ry. Die M240i is ʼn winskoop vir die verrigting wat hy bied.

Die reeks lyk só:

ModelKragBrandstof-verbruik0–100 km/hTopspoedPrys
BMW 220i Coupé Steptronic135 kW/270 Nm5.5 ℓ/100 km7.2 sek230 km/hR512 700
BMW 220d Coupé Steptronic140 kW/400 Nm4.0 ℓ/100 km7 sek230 km/hR550 800
BMW 230i Coupé

Steptronic

185 kW/250 Nm5.7 ℓ/100 km5.6 sek250 km/hR556 500
BMW M240i Coupé

Sport Auto

250 kW/500 Nm7.1 ℓ/100 km4.6 sek250 km/hR693 800

Die reeks word gedek deur BMW se 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km-  omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

ModelKragBrandstof-

verbruik

0–100 km/hTopspoedWaarborgPrys
Audi A3 sedan 2.0TFSI outo140 kW/ 320 Nm5.6 ℓ/

100 km

6.8 sek250 km/h1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R485 500
Mercedes-Benz CLA220d AMG Line130 kW/ 350 Nm4.2 ℓ/

100 km

7.7sek232 km/h2 jaar/onbeperkte km-waarborg

6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R589 732

In dié klas is slegs die BMW agterwielaangedrewe, en ʼn tweedeurvoertuig, dus is die ander nie werklik mededingers nie. Ek hou van die BMW se karakter en dus bly dit my keuse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.