In die groot bakkiegebaseerde sportnutsvoertuig-segment is daar ná die vertrek van GM net drie mededingers oor: Toyota se Fortuner, Ford se Everest en Mitsubishi se Pajero Sport. Daar is nóg twee mededingers op pad, Nissan se Terra en Isuzu se MU-X. Terwyl ons wag en daar net drie is, kan ek nie uitwerk hoekom die Pajero Sport net 24 eenhede in Maart 2018 verkoop het nie.
Die Fortuner lei die segment met 1 274 verkope en die Everest ook regtig sterk met 559. Dus is die Pajero Sport nie in dieselfde sonnestelsel nie. As ek my besluit slegs op die produk grond, is daar géén rede hiervoor nie.
Die Pajero Sport se voorkoms is nie na almal se smaak nie, maar ek hou daarvan – veral die voorkant. Agter is vir my effe kieskeurig – maar mens raak gewoond daaraan. Die binneruim is waar die Pajero Sport vir my uitblink. Dit is eenvoudig genoeg, maar gee ʼn indrukwekkend luukse gevoel. Ergonomies is al die kontroles mooi uitgelê, en die paneelbord van sagte materiale aanmekaargesit. Die derde ry sitplekke bied goeie ruimte, selfs vir volwassenes.
Spesifikasievlakke is heel in die kol vir dié klas voertuig. Waar ek glo die Pajero Sport sal uitblink, is in die veldryafdeling. Die Pajero Sport het Mitsubishi se bekende Super Select II 4×4-stelsel. Daar is afdraandbeheer en ʼn middel- en agterste ewenaarslot. My ervaring is dat Mitsubishi se 4×4-stelsel sy kop bo water kan hou teen enige mededinger, en die meeste uitstof.
Mitsubishi se nuwe 2.4-viersilinderturbodieselenjin is indrukwekkend. Dit bied 133 kW en 430 Nm. Gepaard met Mitsubishi se nuwe 8-spoed-outokas bied dié Pajero Sport goeie brandstofverbruik. Die ritgehalte is verrassend gemaklik en aangenaam. Padhouvermoë is heel goed vir dié klas, maar mens moet onthou dat die Pajero Sport ʼn groot wa is met ʼn hoë swaartepunt.
Die slegte verkoopsyfers is vir my ʼn frustrasie. Ek weet wat 150 verkope ʼn maand vir Mitsubishi sou beteken. Dit sou ook amper nie deur Ford & Toyota gevoel word nie, én ek glo vas dat die Pajero Sport nie vir die ander twee hoef terug te staan nie, en hy is boonop effe goedkoper. Indien jy in dié mark is, gaan toetsbestuur een – jy sal moontlik aangenaam verras word.
Die reeks lyk só:
Mitsubishi Pajero Sport 2.4D outo | 133 kW/430 Nm | 8 ℓ/100 km | R569 995 |
Mitsubishi Pajero Sport 2.4D 4×4 outo | 133 kW/430 Nm | 8.1 ℓ/100 km | R599 995 |
Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.
Die kompetisie lyk só:
Toyota Fortuner 2.8GD-6 4×4 outo | 130 kW/450 Nm | 8.1 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg 5 jaar/90 000 km-diensplan | R646 800 |
Ford Everest 3.2 4WD XLT | 147 kW/470 Nm | 8.2 ℓ/100 km | 4 jaar/120 000 km-waarborg 6 jaar/90 000 km-diensplan | R655 000 |
Ek glo dat die versekering op die Pajero Sport baie goedkoper sal wees as die ander twee mededingers, en hy is R50 000 goedkoper … hy verdien ʼn tweede kyk.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
Die probleem is mens verloor te veel geld wanneer mens hom weer verkoop, waar met die Toyota mens weer n goeie prys kry en nie meeste van jou geld verloor nie. My rede hoekom ek die Toyota gekoop het
Ons is tans in die mark vir ‘n nuwe voertuig en ‘n Sportnuts voertuig is hoog op die inkopie lys. Die prys van die beskikbare voertuie soos in die berig hier bo plaas almal ongelukkig buite ons koopkrag. Die volgende stap is natuurlik om af te beweeg na die Mini Sportnuts voertuig mark. Die enigste voertuig wat ons werklik van hou is die Ford Eco sport maar die enjin reeks, alhoewel betroubaar, is duur om te onderhou. Nou verneem ons dat Volkswagen werk aan ‘n T-Cross model wat op die platform van die nuwe Polo gebou gaan word. Blykbaar is… Lees meer »
Ja, maar jy kan in n splinternuwe Fortuner weg ry vir onder R500k. En om die waarborg te verdubbel kos jou nie veel meer nie. Ek stem wel saam dat die Pajero Sport se binneruim tops in sy klas is (dit weeg selfs goed op teen n duurder ryding soos die Prado)
goeiedag.Ek het lank Mitsubishi gery. Swak diens.Wag jou agterent af vir parte wat van oorsse af moet kom.Die laaste strooi was toe my voertuig in n ongeluk was.7 maande gewag vir die voertuig herstel by paneelklopper aangesien parte van oorsee moes kom.Toe verlaat ek hulle en ek gee nie om hoe mooi die voertuig is en hoe goedkoop nie en of hulle nou al verbeter het nie , nooit weer nie. Daardie tyd vir my gese hulle is oorgeneem deur n ander maatskappy.Verder het hulle geen hulp aangebied om bv. vir my n voertuig aan te bied om intussen mee… Lees meer »
Mitsubishi hoofkantoor stel te min belang in die Suid Afrikaanse mark vir mense om sulke groot geld te waag op ‘n Mitsubishi motor. My opinie – ek is bereid om verkeerd bewys te word.
Baie goeie produkte, met swak ondersteuning in Suid-Afrika.