Perfekte balans tussen gehalte en prys

Ek was so drie jaar gelede by die bekendstelling van die huidige Swift en was nie regtig beïndruk nie.

Wat het verander? Daar was by dié bekendstelling slegs die GL-model en hy het ʼn bietjie yl gevoel. Suzuki het sy Swift intussen opgekikker en die topmodel is nou die GLX. Met die eerste oogopslag lyk hy sommer baie beter met sy sierwiele en tweekleurverfskema.

Ook aan die binneruim lyk dinge baie beter. Die bekleedsel op die sitplekke lyk van ʼn beter gehalte. Die stuurwiel is met leer bedek, en daar is ʼn lekker raakskerminligtingstelsel met Apple CarPlay en Android Auto. Daar is selfs klimaatbeheer!

Die oomblik wanneer ʼn mens egter die Suzuki Swift GLX begin ry, val alles as’t ware mooi in plek. Die motortjie het ʼn gretige atmosferiese 1.2-viersilinderpetrolenjin. Aangesien die Swift slegs 875 kg weeg, is dit regtigwaar nie nodig vir turbo’s nie. Ek was nog altyd gek oor Suzuki se enjins, maar dié enjin, gepaard met perfekte versneller- en koppelaar-kalibrasie, verseker dat ʼn mens seepglad in die verkeer kan toer, en as die wind só waai, kan jy hom lekker hard ry en elke greintjie perdekrag benut wat die Suzuki kan lewer.

Die Swift kan 100 km/h van stilstand haal in ʼn billike 12 sekondes, en hy sal aanhou hol tot 170 km/h. Dit is nie te versmaai nie. Maar die Swift voer nog ʼn truuk in sy mou en dit is verstommende brandstofverbruik. Suzuki sê dat hy 4,9 l/100 km kan handhaaf. Ek het 4,7 l/100 km gekry terwyl ek hom soos ʼn wafferse klein sportmotor in dorpsverkeer en op die snelweg gery het.

Baie van die klein motortjies ry nie baie lekker nie. Die ritgehalte is óf kliphard óf so sag dat daar soveel bakrol is dat die voertuig voel of hy om die draaie op sy spieëltjies lê. Nie die Swift nie. Suzuki het ʼn goeie middeweg gevind. Aan die veiligheidskant is daar twee lugsakke, sluitweerremme, remkragverspreiding, remhulp en stabiliteitsbeheer. Dit is ʼn goeie spesifikasie.

Dit is bitter maklik om die Swift op te som. Die Engelse gesegde lui: “cheap and nasty”. Gewoonlik is dit die geval as ʼn voertuig baie bekostigbaar, maar van slegte gehalte is. Dit kan nie verder van die waarheid wees met dié Swift nie. Die Swift GLX is ʼn mooi buksie en teen dié prys maak dit hom eenvoudig perfek.

Die reeks lyk só:

Suzuki Swift 1.2 GA61 kW/113 Nm4,9 l/100 kmR180 900
Suzuki Swift 1.2 GL61 kW/113 Nm4,9 l/100 kmR199 900
Suzuki Swift 1.2 GL outo61 kW/113 Nm4,9 l/100 kmR214 900
Suzuki Swift 1.2 GLX61 kW/113 Nm4,9 l/100 kmR218 900
Suzuki Swift 1.2 GLX outo61 kW/113 Nm4,9 l/100 kmR234 900
Suzuki Swift Sport 1.4T103 kW/230 Nm6,1 l/100 kmR349 900
Suzuki Swift Sport 1.4T outo103 kW/230 Nm6,1 l/100 kmR369 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/200 000 km-waarborg. Die GA-, GL- en GLX-modelle geniet ʼn 2 jaar/30 000 km-diensplan en die Sport-modelle ʼn 4 jaar/60 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Volkswagen Polo Vivo 1.4 Comfortline63 kW/132 Nm5,9 l/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

Geen diensplan

R235 000
Ford Figo 1.5 Titanium88 kW/150 Nm5,7 l/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R255 800

Tussen dié mededingers is die Swift ʼn ware winskoop. Die Figo se enjin is wel bitter sterk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos

Ek is definitief oudmodies – alle voertuie is vir my belaglik duur. Byvoorbeeld, ‘n nuwe NP200 bakkie met safety pack was nuut R120k in 2012. Presies, en presies, dieselfde bakkie is vandag nuut meer as R200k. Hoe op aarde verduidelik mens dit anders as gulsigheid? Nie eens die wisselkoers veranderinge kom hierby uit nie. Ons gaan hier soos Kuba word – ouer voertuie op die pad wat mooi deur hulle eienaars onderhou (moet) word.