Petrol, diesel of hibried?

Die Toyota Corolla Cross

Terwyl die Diesel vs. Petrol-debat al baie jare lank aan die gang is, is hibriede en elektriese voertuie ook nou in die prentjie.

En met brandstofpryse wat die hoogte inskiet, wil motoriste weet watter ander opsies tot hul beskikking is.

Maroela Media het onlangs met drie voertuie gery, almal min of meer in dieselfde klas – tussen ʼn B- en C-segment-sportnutsvoertuig. Dit was ʼn turbopetrol, ʼn turbodiesel en ʼn hibried. Hul pryse is almal na aan mekaar en ek wonder nogal of ek petrol, diesel of hibried sou vat indien ek nou ʼn nuwe motor moes koop.

Die petrolaangedrewe voertuig waarmee ons gery het, was Ford se EcoSport – die reeksleier met sy 1.0-EcoBoost-turbopetrolenjin. Die dieselmotor was Renault se Duster. Hy maak gebruik van ʼn 1.5-viersilinderturbodiesel. Die derde voertuig was Toyota se Corolla Cross – die 1.8-XR-Hibried-weergawe.

Kom ons vergelyk hulle:

Ontwerp:

Ford EcoSport Renault DusterToyota Corolla Cross
4/54/53,5/5

Elkeen van dié drie buksies is gewild. Ek hou die meeste van die Duster se ontwerp – hy lyk vir my die meeste na ʼn ware sportnutsvoertuig. Die Ford en Renault het amper dieselfde grondvryhoogte – Ford met 206 mm en die Duster met 210 mm. Die Corolla Cross val ʼn bietjie agter met slegs 160 mm. Met die toestand van ons paaie tans is elke millimeter nodig.

Binneruim en veiligheid:

Ford EcoSport Renault DusterToyota Corolla Cross
3/54/54,5/5

Dié kategorie moet klomp goed insluit. Omdat ek die voertuie as gesinsmotors beskou, is kattebakspasie vir my belangrik. Die EcoSport s’n is die kleinste met 333 ℓ. Die grootste is die Duster met 478 ℓ en in die middel is die Toyota met 440 ℓ. Aan die passiewe veiligheidstelselskant is die voertuie min of meer gelyk. Die Toyota het egter ʼn sterk suite aktiewe stelsels soos aanpasbare spoedkontrole, blindekolwaarskuwing met baanhulp, botsingwaarskuwing en noodremhulp. Die Ford en Toyota het sewe lugsakke, en die Duster slegs vier.

Enjin, ratkas en dryfstelsel:

Ford EcoSport Renault DusterToyota Corolla Cross
3/54/54/5

In hierdie kategorie val die EcoSport ongelukkig ietwat uit die bus. Sy driesilinder-1.0-turbo-enjin is nie baie lig op brandstof nie. Sy ratkas is heel lekker, maar as mens die ander twee se gevorderde dryfstelsels in ag neem, sukkel hy. Die Duster bied verstommende brandstofverbruik op ʼn minder ingewikkelde manier: ʼn 1.5-viersilinder-turbodiesel met ʼn 6-spoed-dubbelkoppelaar- outomatiese ratkas. Die Toyota kom naby aan die Duster se ekonomie, maar met ʼn hibriede dryfstelsel. Daar is ʼn 1.8-viersilinderpetrolenjin, elektriese motor en palwisseltransmissie (CVT). As mens bitter sag met die Duster werk, is hy effens ligter op diesel as die Toyota op petrol, en sy ratkas bietjie meer aangenaam. Die Toyota haal wel minder as 100 g/km CO2.

Ritgehalte en padhouvermoë:

Ford EcoSport Renault DusterToyota Corolla Cross
3/54/54/5

In hierdie kategorie is die Corolla Cross en Duster bitter naby aan mekaar. Die Duster het vir my die sagste vering van almal – en ek is mal daaroor. ʼn Gesinsbuks moet gemaklik wees, nie hard ry soos ʼn sportmotor nie. Al drie voertuie se padhouvermoë is in die kol, maar die stuurakkuraatheid en min bakrol in die Corolla Cross, te danke aan sy lae swaartepunt, wen weer vir hom ʼn paar punte. Die EcoSport is ʼn kort regop buksie met ʼn kort asafstand. Dít met die 17″-sierwiele sorg maar vir ʼn besige rit teenoor die ander twee.

Opsomming:

Ford EcoSport Renault DusterToyota Corolla Cross
13/2016/2016/20

Tussen dié mededingers is die Duster en die Corolla Cross eenvoudig nuwer voertuie as die EcoSport en dus vaar hulle beter. Ek is bitter lief vir die Duster en as mense nou vir my vra wat koop hulle in dié klas, is my aanbeveling die Duster of die Corolla Cross. Dit hang dan slegs af van smaak. Die Duster het sterk herverkoopwaarde; die dieselweergawe is uiters betroubaar en hy is nie gewild onder die boewe nie. Toyota het egter ʼn rateltaai reputasie vir herverkoopwaarde, waardevermindering en naverkopediens.

Om my eerste vraag te beantwoord sal ek só sê: Ek vrek oor ʼn dieselvoertuig. Die Duster kan van Johannesburg af Kaapstad toe op ʼn enkeltenk diesel ry as jy mooi te werk gaan. Dit wil gedoen wees. Maar hibriede tegnologie is interessant en die feit dat mens remkrag herwin en later gebruik uit die batterye om versnelling te help, is puik. Die feit dat hy ook sagter is op die omgewing wen seker vir hom nóg punte. Ek kan nie kies tussen die Corolla Cross of die Duster nie, maar met my geld, koop ek die diesel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Waaneer laas het Ford ‘n NUWE NUWE NUWE motor in SA bekend gestel. Lyk my hulle is nou maar gelukkig om maar 2000 – 3000 Ford Rangers ‘n maand te verkoop, want selfs die Kuga en Fiesta is geskiedenis, en die Focus is al lankal weg. En daar kom Toyota met die Corolla Cross wie se verkope somer net soe tot bo die parade skiet. Wil ook nie ‘n Ford EcoSport he nie dankie!

andre ·

Ek dink dis tyd dat iemand n hibried diesel vervaardig.Dit behoort meer ekonomies as al bogenoemde te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.