Peugeot se bakkie-erfenis herleef

Deur Bernie Hellberg jr.

Wie onthou die Peugeot 404-bakkie, of sy opvolger, die 504, wat in 1979 hier sy buiging gemaak het? Ja, sowaar, Peugeot het tot die vroeë jare 80 nog bakkies gebou, en Suid-Afrika, asook Afrika, was gesaai van dié ryding. Vra bietjie die ouer garde, en baie sal beaam dat Peugeot se bakkies die “Meester van Afrika” was, lank voor die Toyota Hilux hier koning gekraai het.

Met die bekendstelling van die splinternuwe Landtrek is Peugeot gereed om weer sy stempel in die ligtehandelsvoertuig-segment af te druk. En, ná ek ʼn dag in albei nuwe Landtrek-bakkies deurgebring het, kan ek nie aan veel redes dink waarom dié Franse avonturier nie verskeie kopers se aandag sal trek nie.

Van buite is die Landtrek onmiskenbaar ʼn Peugeot – die leeukenteken wat ook op die nimlike 3008- en 2008-sportnutse pryk, is groter as ooit en pronk met trots in die oorgrootte verchroomde sierrooster. Daar is prominente LED-tipe kopligte, misligte met draaifunksie, en ʼn algehele fris voorkoms. Niks aan die Landtrek is effentjies nie.

Binne die kajuit kan die Landtrek kers vashou teen die meeste mededingers. Soos dit enige Peugeot betaam, is die Landtrek tjok-en-blok vol tegnologie, veiligheidstelsels en luukshede. Hetsy jy die 4×2 Allure kies teen R579 900, óf na 4×4-avontuur soek in die 4Action (R669 900), kry jy onder meer ʼn 10 duim-raakskerm met Android Auto of Apple CarPlay, ʼn 4 duim- digitale instrumenteskerm, klimaatbeheer, multifunksie-stuurwiel, outomatiese kopligte en ruitveërs, spoedbeheer, en meer.

Sou jy die 4Action oorweeg, sê Peugeot dankie met 18 duim-allooiwiele (Allure kry 17 duim), elektriese sitplekke vir albei voorste sitplekke, wegbreek-waarskuwing, ʼn 360-grade-kamera, 4×4 met ʼn laestrek-funksie en ewenaarslot.

Peugeot beplan nie om binnekort die Ranger- of Hilux-bakkies te onttroon nie. Hulle mik eerder vir kopers van nuwe bakkies wat boonop ʼn ryding met ʼn unieke identiteit soek, maar tog nie luukshede of tegnologie wil prysgee nie. Met die Landtrek hoef jy ook nie veiligheid in te boet nie. Standaard op albei modelle is stabiliteitsbeheer, vastrapbeheer, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en remhulp, traksiebeheer en verskeie lugsakke.

Waar die Landtrek opdraande van kopers sal kry, is egter by Peugeot se keuse van enjin. Die bakkie se 1.9 liter-turbodieselenjin bied kraglewering van 110 kW en ʼn wringkragsyfer by die 350 Nm, terwyl die naaste vergelykbare bakkie, GWM se 2-liter P-Series, 120 kW en 400 Nm uitstoot. Vir daaglikse gebruik is dit heeltemal voldoende, maar of die Landtrek sy gesertifiseerde 3 000 kg sonder nonsies sal sleep, sal ons bepaal wanneer ons weer later met die Landtrek ry.

Peugeot se bakkiereeks is wel van sy opponente een voor wat rygenot betref. Ek het ʼn kleintjie dood aan bakkies wat té hard ry. Die Mazda BT-50 en Mitsubishi Triton sukkel daarmee. Ná ek die Allure- en 4Action Landtrek-modelle op die pad én op ʼn 4×4-baan deur hul passies gesit het, is ek dankbaar dat die Landtrek se onderstel nie ook van klip gebou is nie. Hy ry wel nie so lieflik sag soos ʼn Navara of Ranger Raptor nie – met effens te veel momentum laat ʼn fris spoedwal jou steeds les opsê – maar vir “elke dag saamleef” is sy rygemak in die kol.

Die Peugeot-leeu kom tot sy reg in die Landtrek. Vir ʼn premium bakkie is sy prys min of meer reg, en synde daar boonop ʼn rits bybehore by Peugeot-handelaars vir die Landtrek beskikbaar is, glo ek die teiken om tussen 100 en 150 bakkies per maand te verkoop is binne maklike bereik.

Die reeks lyk só:

Landtrek 1.9D Allure110 kW/350 NmR579 900
Landtrek 1.9D 4Action 4×4110 kW/350 NmR669 900

Die Peugeot Landtrek word gedek deur ʼn 5-jaar/100 000 km-waarborg, en ʼn 5-jaar/100 000 km-diensplan word by die prys ingesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Grens ·

Al twee keer uit die land ontrek, parte wag jy tot 6 maande voor, en is vrek duur. Sorry vir hulle, gaan nie regkom teen die ander vasbyters in die land.

Wielspore ·

Is hierdie Franse Le pick-up gemik op die vroulike geslag met franse fleur, gevul met rose, mode klere en parfuum. As ek kyk na die kleur van die bakkie is my opmerking nie vêr verkeerd. Ek hoop die Le pick-up kry sy plekke in die vorm van verkope hier in SA se son net om tradisionele bakkie eienaars se tonge los te maak van jaloersie.
Lekker ry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.