Peugeot wil weer sy stempel afdruk in SA

Peugeot se eerste bakkie, die Landtrek. (Foto: Verskaf)

Peugeot, deel van die groter Stellantis-groep, het oor die afgelope 36 maande enorme werk ingesit om sy sake in Suid-Afrika agtermekaar te kry.

Die motorvervaardiger is nie skaam om pa te staan vir sy foute nie en het skouer aan die wiel gesit om sy reputasie te herstel. Die eerste punt op die agenda was om die meer as 500 voertuie wat op onderdele of diagnose gewag het, te herstel. Dit is intussen tot minder as 40 afgebring en die kwessie geniet steeds op senior bestuursvlak prioriteit.

Die herstel van sy handelaarsnetwerk was volgende op die lys. Daar is tans 38 handelaars in sy netwerk en almal is nou ten volle toegerus om seker te maak hulle kan hul klante die diens bied wat hulle toekom. Dit is wat Peugeot in staat gestel het om die beste markaandeel in die afgelope agt jaar te geniet.

Linda Jackson

Linda Jackson, internasionale uitvoerende hoof van Peugeot, was onlangs in Suid-Afrika. En op ’n vraag aan Jackson oor hoekom dit so belangrik is om Peugeot se reputasie in Suid-Afrika te herstel, het sy geantwoord: “Dis eintlik heel eenvoudig. Peugeot is een van die sterkste handelsmerke in Europa, dis vanselfsprekend.

“Waar groei ons? Ons het twee gebiede geïdentifiseer waar ons ʼn klein markaandeel het, maar die ruimte het om ʼn wesenlike verbetering aan te bring. Dit is Afrika en Suid-Amerika. Ek voeg nie China hier by nie want dis ʼn perd van ʼn ander kleur. Ons het tans ʼn 0,5%-markaandeel in Suid-Afrika, en wil dit wesenlik verbeter!”

Wat is Peugeot se teiken? “Ons wil teen 2025 ʼn 3%-markaandeel bereik,” sê Leslie Ramsoomar, uitvoerende hoof van Stellantis Suid-Afrika. “Ons glo dat die Peugeot Landtrek ons gaan help om dit te bereik.”

Stellantis het reeds verskeie elektriese voertuie in sy onderskeie handelsmerke. Kan Suid-Afrika dalk binnekort elektriese weergawes van die 208 en 2008 sien?

“Kyk, daar is steeds enorme uitdagings wat wetgewing betref en hoe elektriese voertuie in Suid-Afrika belas word, maar as ons die groei [in elektriese voertuie] in ag neem en die vermoede dat die vraag gaan toeneem, is daar beslis ʼn dringendheid. Ons moet net ons huiswerk doen en sien of ons die voertuie na die mark toe kan bring teen billike pryse.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Groen Ghoen ·

Die Peugeot 404 motor en bakkie was ware wenners! Mag die nuwe Peugeots in hul voetspore volg.

Wielspore ·

Dit is jammer dat die 404 van ouds nie met vandag se Peugeot modelle vergelyk kan word.

Wielspore ·

November 2012 staan ek op Peugeot se vloer om die voertuig wat ek by hulle gekoop het te laat regmaak, die verkoopsman trek sy skouers op en sê die handelaar maak toe en hulle kan niks vir my doen. My verkoops bestuurder is nie beskikbaar en die handelaarshoof (Volvo, Peugeot en Landrover) kan ek op afspraak sien. Die eienaar is afgetree en sal my nie sien oor die saak. Ek het daardie dag besluit as ‘n vervaardiger nie wortels in SA het (fabriek)het sal ek nie weer die brand koop. Week later staan die perseel leeg, geen indikasie van die tragedie.

Manie ·

Ek bly maar eerder weg van die volksvreemde voertuig vervaardigers wat elke dan en wan die pad landuit neem. Toyota besit die woord betroubaarheid.

VaalDonkie ·

Ford is seker baie bly dat hulle nie meer die onbetroubaarste bakkie in die land gaan he nie!

earthwormjim ·

Ai toggie jy ry seker weer Toyota! Ek ry al jare Ford en geen probleme ooit gehad nie. Diens is ook uitstekend. Go Ford!!! #KenBlock

SjN ·

Vaal donkie, hy is seker net aan n donkie gewoond, jy klink soos n Landroverman.

Plotman ·

Hul voertuie is maar flou teen hopeloos te hoe prysse vir dit wat jy kry.

SjN ·

Die Peugoet van die 80 jare was baie lig op brandstof, dit het gelyk of hul heeltyd afdraande loop.

Manie ·

Nee wat dankie. Met ‘n 1.9l turbo diesel enjin wat 110KW en 350 NM lewer @ R670 000.00 kan ek aan ‘n handvol ander bakkies dink wat strate beter is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.