Plaas jou kind se veiligheid in die motor eerste

karstoeltjie-dogtertjie-meisie

Foto: Pixnio.comonge

Die nooddiensbeamptes van ER24 is vroeër in Julie na ʼn ongelukstoneel in Kempton Park, Gauteng ontbied waar twee kinders, ʼn agtjarige en vyfjarige, op die toneel dood is. Hulle ses maande oue sussie is wonderbaarlik lewend in haar karstoeltjie tussen die bosse op die toneel gevind.

“Sy het geringe beserings opgedoen, maar ʼn mens kan net wonder wat sou gebeur het as sy nie in ʼn karstoeltjie vasgemaak was nie,” sê dr. Robyn Holgate, hoof mediese beampte van ER24.

Volgens haar bly dit altyd ʼn ouer se verantwoordelik om te verseker dat hul kinders behoorlik vasgemaak is wanneer hulle in ʼn motor reis. Sy gee raad oor wat ouers kan doen om hul kinders se veiligheid in ʼn motor te verseker.

“Babas moet altyd in ʼn gepaste karstoeltjie, wat na die agterkant van die voertuig kyk, vasgemaak word. Die karstoeltjies is gewoonlik gepas vir ʼn kind tot tweejarige ouderdom of totdat hulle meer as 9kg weeg. ʼn Baba moet in hierdie soort karstoeltjies vervoer word om te voorkom dat hulle nek- en/of rugbeserings opdoen wanneer die motor in ʼn ongeluk is, of skielik en vinnig vorentoe beweeg of stop,” verduidelik Holgate.

Peuters en kleuters kan in ʼn karstoeltjie sit wat vorentoe kyk mits die stoeltjie vir hul lengte en ouderdom gepas is.

ʼn Skoolgaande kind moet in ʼn booster-stoeltjie sit tot die ouderdom van agt jaar of tot die kind 1,4m lank is. Holgate sê dit is om te verseker dat die sitplekgordel op die regte plek op die kind se bors en bobene pas.

ʼn Karstoeltjie moet altyd volgens die vervaardigers se aanbeveling in ʼn motor geïnstalleer word.

Dit is ook volgens Holgate belangrik dat babas en kinders nie voor in ʼn motor moet sit nie omdat die lugsakke hulle makliker kan beseer.

“Dit sal ideaal wees as kinders wat lank genoeg is om ʼn volwasse sitplekgordel te dra tot en met die ouderdom van 13, agter in ʼn motor ry,” sê sy.

Die sitplekgordel se onderste gordel moet by die dye kruis en die diagonale gordel moet die borskas by ʼn punt tussen die kind se nek en skouers kruis.

“Die gevalle waar kinders in motorongelukke sterf het dramaties afgeneem sedert daar bykomende veiligheidsmaatreëls vir die vervoer van kinders en babas ingestel is. Hierdie riglyne is ondersoek en dit is bewys dat dit kan help om die klein mensies in ons lewens tydens ʼn motorongeluk te beskerm.

“Dit is sekerlik een van ouers se belangrikste take om te verseker hul kinders is veilig wanneer hulle reis. Die wet vereis dat alle kinders jonger as drie in ʼn karstoeltjie vasgemaak moet word,” het Holgate bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

Dis skokkend hoeveel klein kindertjies stééds nie vasgegordel ry nie. Baie staan sommer op die voorsitplek langs mamma of pappa, of sit op ma se skoot! Ons spreek gereeld mense aan as hul kinders los ry; dikwels lag hulle net sónder om iets daaraan te doen. Baie redeneer dat hulle kinders nie daarvan hóú om vasgemaak te word nie, en dat hulle dan skree/huil/kerm. Wel, ons kinders is nie vasgegordel omdat hulle daarvan hóú nie, maar omdat ons van húlle hou! Hulle het aanvanklik hulle soms teëgesit, maar gou geleer dat dit nutteloos is, hulle sal níé los ry nie! Hulle is nou pragtige tieners met respek vir reëls, en beslis ook vir lewe – óók die lewe van die kleintjies wat nog moet leer dat hulle nie baas in die huis (of motor!) is nie.

Klein Jane ·

Wens dat meer ouers moeite sal doen om hul kinders te versorg in die motor. Ek sien daagliks
hoe kinders in motors staan.

arizona ·

My 3 jarige is mal daar oor om te tatta. Maar hy weet mamma sluit eers die kar aan as hy in sy stoeltjie sit en vasgemaak is. Hy sal by die voorkant in klim en dan self agter toe klim en in die stoeltjie gaan sit sodat ek hom kan vas maak. Dit het baie tantrums in die begin veroorsaak maar ek is so bly met eind resultaat. Ek weet my kind is veilig en dis absoluut roetine by ons. Stoeltjies is baie duur maar daar is n organisasie wat mense help met kar stoeltjies, namate jou kind grooter word ruil hulle hom in vir sy ouderdoms groote, jy betaal n donasie en gaan tel jou stoeltjie op.

Anton ·

Gee asb vir my die naam van die organisasie wat mense help met karstoeltjies?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.