Polo Perfek

(Foto: Verskaf)

Daar is letterlik derduisende voertuie op die mark beskikbaar. Van piepklein en basies tot enorm en luuks. Ek het in die afgelope vyf jaar met 512 voertuie gery, en ek kan op my twee hande tel dié wat “perfek” voorkom.

As ek sê perfek, dan bedoel ek die voertuig is perfek vir dít waarvoor hy gebou is. ʼn Paar wat uitstaan is die vorige Toyota Corolla- sedan, spesifiek die 1,4 diesel en Porsche se GT3. As supermotor is daar niks wat só betower nie. Gewoonlik kom daar altyd iets kort, soos sagter vering, beter stilering of beter kalibrasie, maar die jongste Volkswagen Polo skiet die ligte uit.

Ons het die Volkswagen Polo 1.0 TSI 70kW Life onder hande gehad. ʼn Pérs een. Dit is ʼn B-segment luikrugmotor. Hy bied sitplek vir vyf, het ʼn 1,0 driesilinderturbopetrolenjin en ʼn 5-spoed handrat. En kom ek vir jou sê – die motor is perfek.

Die ontwerp agter is vir my bitter mooi. Voor is weer nie só mooi soos sy voorganger nie, maar nietemin. Die binneruim is uiters ruim en die nuwe Polo is groter as wat die Golf III was. Volkswagen het werklik getoor met die ruimte tot hul beskikking. Die voorste kajuit voel baie groot, gemaklik en ruim. Agter is nie knap nie, én die Polo het ʼn indrukwekkende kattebak vir ʼn B-luikrug.

Die enjin onder die kap bied dalk nét 70 kW, maar dít – gepaard met die 205 Nm maak die enjin fantasties. Die 5-spoed handrat se ratverhoudings is perfek gespasieer – en die ligte koppelaar en seepgladde rathefboom veroorsaak dat mens perfek wegtrek en ratte wissel, elke keer. In die Polo mis mens geensins ʼn outomatiese ratkas nie. Die verhoudings en kalibrasie is perfek. Die Polo is lekker lig op brandstof – én hy kan by die 200 km/h haal voluit.

Die Life ry op 15”-wiele. Die wiel is oorgetrek met ʼn 185/65/15 band. Dít, gepaard met die goeie vering, bied ʼn lieflike soepel rit. ʼn Mens moet ook onthou dat die Polo’tjie sy onderstel met die GTI deel, so die padhouvermoë is ook meer as wat mens sou benodig in dié klas.

Wat veiligheid betref, is daar ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap- en- stabiliteitsbeheer, blindekolwaarskuwing, baanbeheer, botsingwaarskuwing én noodremhulp. Indrukwekkend in dié prysklas.

Ek sal die Polo TSI Life só opsom: As ʼn kompakte voertuig, is daar min só gemaklik. Die funksionaliteit is indrukwekkend met die digitale instrumente, raakskerm, CarPlay en Android Auto en draadlose laaimatjie. Die kombinasie van gemak, gereedskap en kalibrasie maak die Polo perfek. Veral teen R350 000.

Die reeks lyk só:

Volkswagen Polo 1.0 TSI 70 kW handrat70 kW/ 175 Nm5.3 ℓ/ 100 kmR315 000
Volkswagen Polo Life 1.0 TSI 70 kW handrat70 kW/ 175 Nm5.3 ℓ/ 100 kmR353 600
Volkswagen Polo Life 1.0 TSI 85 kW DSG85 kW/ 200 Nm5.4 ℓ/ 100 kmR374 400
Volkswagen Polo R-Line 1.0 TSI 85 kW DSG85 kW/ 200 Nm5.4 ℓ/ 100 kmR426 100
Volkswagen Polo GTI 2.0 TSI 147 kW DSG147 kW/ 320 Nm6.4 ℓ/ 100 kmR494 600

Die kompetisie lyk só:

Opel Corsa74 kW/ 205 Nm5.7 ℓ/ 100 km3 jaar/ 120 000 km waarborg

3 jaar/ 45 000 km diensplan

R339 900
Renault Clio74 kW/ 160 Nm5.7 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km waarborg

2 jaar/ 30 000 km diensplan

R349 900
Citroën C381 kW/ 205 Nm6 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg

3 jaar/ 60 000 km diensplan

R352 900
Peugeot 20874 kW/ 205 Nm5.8 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg

3 jaar/ 60 000 km diensplan

R365 900

(Foto: Verskaf)

Ek het slegs mededingers met turboaangejaagde enjins hier gelys. Die pryse is so te sê die selfde – dit gaan slegs van smaak afhang. Die Polo is die gemaklikste, die C3 die oulikste en die 208 die mooiste. Die Clio se kalibrasie is nie puik nie, so hy ry ʼn bietjie moeilik. Gaan toetsbestuur beslis elkeen en kies een.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kirst ·

Die 70kW en 205Nm in die artikel strook nie met die spesifikasies van enige van die modelle in die reeks tabel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.