Porsche se kroonjuweel

Ek het verlede jaar met die fantastiesste ryding wat ek al ooit ervaar het, gery – Porsche se verstommende GT3 RS. Een van die gedagtes wat in daai vier dae by my opgekom het, is hoe verbeter mens iets wat absoluut perfek is?

Andreas Preuninger, direkteur van GT-voertuie by Porsche, het in 1999 die eerste GT3 aan die wêreld gewys. Dit was ʼn asemrowende sportmotor met die vermoë om naweke jou plaaslike renbaan aan die brand te jaag weens die feit dat dit ʼn homologasiemodel was vir voertuie wat in die FIA se GT3-beker deelgeneem het.

Die res is geskiedenis. Dit is een van die suksesvolste 911-modelle vir Porsche. Een van die belangrikste bestanddele van die GT3 is sy atmosferiese bokser-sessilinderenjin. In die nuutste weergawes verplaas die enjin vier liter, en het ʼn onlesbare dors vir toere… al nege duisend van hulle! Ek het die crescendo van 383 kW teen 8 400 r/min ervaar in die GT3 RS, en die laaste duisend toere tussen 8 000 en 9 000 gee vir mens hoendervleis oor jou hele lyf!

Die nuutste 992-generasie 911 GT3 is beskikbaar met ʼn 4.0-bokser-sessilinderenjin wat 375 kW en 470 Nm uitskop. Van 0 tot 100 km/h met die PDK-dubbelkoppelaarratkas neem ʼn verstommende 3,4 sekondes, 200 km/h in 10,8 sekondes en sal aanhou tot ʼn fantastiese 318 km/h. Vir diegene wat elke vibrasie en emosie wil ervaar, is daar ʼn handrat beskikbaar.

Daar is agterwielstuur, groter remme wat minder weeg, meer koolstofvesel om gewig te bespaar en beter lugdinamika vir beter padhouvermoë.

Daar is weereens ʼn Clubsport-pakket beskikbaar met ʼn rolstaaf, sespunt-harnas, ʼn brandblusser en ʼn skakelaar om die battery te ontkoppel. Die pakket is ʼn gratis opsie.

Toe Porsche met die eerste GT3 met ʼn padvoertuig die agt minute-grens gebreek het by die Nürburgring in Duitsland was Porsche self verstom. As jy toe vir hulle gesê het dat hulle twee dekades later meer as ʼn minuut vinniger sou wees met dieselfde kar, sou Andreas vir jou sê dat jy jou sinne verloor het. Wel, die nuutste GT3 het sopas die 20,8 km-baan in 6:59 gejaag:

Porsche se bestelboek maak einde Maart oop en plaaslike pryse sal dan bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
JohanR

‘n Plaas se prys maar lekker. Wonder of die ANC kaders ‘n keuse sal he tussen ‘n plaas of ‘n GT3?