Porsche se Macan – ’n pragtige, kompakte sportnuts

Soos met die meeste sport- of supermotorvervaardigers word daar altyd gekerm as hulle aankondig dat hulle ʼn sportnutsvoertuig uitbring. Porsche met die Cayenne, Alfa met die Stelvio, Maserati met die Levante, Lamborghini met die Urus en so kan mens aanhou. Ek het al ʼn paar keer met ʼn Macan gery en dit is ʼn lieflike voertuig, maar was vir my nog nie in die kol soos ʼn Porsche hoort nie.

Ons het so pas drie splinternuwe Porsche Macans onder hande gehad. Die Macan, Macan S en Macan GTS. Dit is die nuwe Macan III-reeks. Die reeks is ʼn kompakte sportnutsvoertuig. Daar is een ratkas – Porsche se 7-spoed-PDK-dubbelkoppelaarratkas. Daar is twee enjins – een 2.0-viersilinderturbopetrol met 195 kW en 400 Nm. Die S het ʼn 2.9 V6 met twee turbo’s. Hy bied 280 kW en 520 Nm. Die reeksleidende GTS het ook ʼn 2.9 V6 met twee turbo’s, maar hy bied 324 kW en 550 Nm.

Die binneruim van die Macan-reeks is eg Porsche. Dit is soos ʼn pantserwa gebou, maar tog gemaklik. Porsche se unieke gevoel en ergonomie maak dat ʼn mens dadelik tuis voel. Ek moet bieg dat die klankstelsel in die Macan my ore nou nog laat tril.

Op die pad is waar die Macan-reeks ʼn mens van mening laat begin verander. Ons het eerste die S op die proef gestel. Al is die GTS uiters indrukwekkend, dink ek die S is moontlik die beste een in die reeks. Dit is die beste balans tussen verrigting en gemak. Ons bestorm Helshoogtepas naby Stellenbosch, en ek sal hier sê die Macan klou soos ʼn Porsche.

Tweede aan die beurt is die intree-Macan. Sy 2.0-viersilinderturboenjin is voorwaar gewillig. Sy ritgehalte en padhouvermoë nes die S s’n. Dis eintlik ʼn grap om te dink dat dit die intreemodel is.

Laaste aan die beurt is die GTS. Hy’t ʼn knoppie wat sy uitlaatpyp se kleppe oopdraai. Lekker. Terwyl mens se ore na die orkes van die 2.9 luister, voel jou boude dadelik dat die GTS se ritgehalte harder is. Dit is vinnig voor die hand liggend dat die GTS ʼn ernstige Porsche is; nie net ʼn sportnutsvoertuig met ʼn Porsche-embleempie op nie.

Dit is ietwat van ʼn openbaring om die Macan op te som. Ons het twee bekendstellings gelyktydig gedoen – die 911 GTS en die Macan-reeks. Die Macan is vir my indrukwekkender betreffende wat Porsche daarmee bereik het. Dit is ʼn pragtige kompakte sportnuts, met fantastiese bougehalte en asemrowende verrigting. Indien jou sakke diep genoeg is, gaan toetsbestuur beslis ʼn Macan, dit is ʼn belewenis.

Die reeks lyk só:

Porsche Macan195 kW/400 Nm8,8 l/100 km6,4 sek.232 km/hR1 050 000
Porsche Macan S280 kW/520 Nm9,9 l/100 km4,8 sek.259 km/hR1 271 000
Porsche Macan GTS324 kW/550 Nm9,9 l/100 km4,5 sek.272 km/hR1 551 000

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 2 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan.

Ons sal weer tyd met die Macan deurbring en hom dan met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hardekwas ·

Is daar enigsins n nut om motors in hierdie prysklas te toetsbestuur in Suid Afrika, wat waarskynlik nou naby aan een van die armste lande ter wêreld is?

Grens ·

Baie lekker motor daai, en ook goed geprys. Dalk my Hilux inruil.

Michael ·

Hang af van watter kant jy kyk-die Tiguan is ‘n Porche met ‘n ander bakwerk vir ‘n fraksie van die prys

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.