Pragontwerp nie alles nie

Die Mazda CX-5. (Foto: Verskaf)

Ons het onlangs tyd met Mazda se pragtige CX-5 2.2DE Akera AWD outo deurgebring. Met die eerste oogopslag is dit duidelik dat die CX-5 bitter mooi is. Die rooi kleur is ook een van die mooistes wat ek in ʼn bitter lang tyd gesien het.

Die Mazda is nie net buite mooi nie, maar die binneruim is selfs baie netjies. Dit is vir my verbasend hoe moderne Mazdas beslis luuks voel binne. Bougehalte is van die boonste rak en die ergonomie is bitter slim uitgedink. Die Mazda het ʼn uiters sterk standaardtoerustingvlak met ʼn windskerm-vertoonpaneel (heads-up display, oftewel HUD), CarPlay en Android Auto, verhitte sitplekke, spoed en klimaatbeheer – de lot.

Dit is by die enjin waar die CX-5 gelyktydig beïndruk, maar ook teleurstel. Die 2.2-viersilinderturbodieselenjin bied ʼn indrukwekkende 140 kW en 450 Nm. Dit is voorwaar sterk – maar, dan kom die sleg. Daai krag is beskikbaar teen 4 500 r/min … in ʼn diesel! Die CX-5 luier skoon tot 5 000 r/min as jy hom hard ry. Dit voel aardig vir ʼn diesel. Hy brul ook sommer soos ʼn petrolvoertuig. Dit is vreemd. Al die krag kom met ʼn ander probleem … die CX-5 2.2 DE is geensins lig op brandstof nie. Ek het tydens my toets met hom 10.4 ℓ/100 km gehandhaaf. Vir ʼn diesel is dit bitter swaar.

Dié CX-5 het vierwielaandrywing, so hy behoort ʼn modderplas en ʼn grondpad maklik baas te raak, maar die sportiewe voorkoms en redelike harde vering gaan dit effens onaangenaam maak om die teerpad te verlaat. Die Mazda het ʼn sterk veiligheidsvlak met ABS, EBD, vastrap- en stabiliteitsbeheer én ses lugsakke.

Dit is vir my maklik om die Mazda CX-5 2.2 DE Akera AWD outo op te som. Dis ʼn pragtige voertuig, en as jy ʼn sportiewe sportnuts soek, is hy beslis ʼn opsie. Mazda kon vanjaar al 1 669 CX-5’e verkoop. Toyota kon al 1 897 Rav4’e verkoop en laastens kon Volkswagen al 2 429 Tiguans verkoop. Hy is ʼn sterk mededinger in die segment en nog altyd onder die topdrie.

Die reeks lyk só:

Mazda CX-5 2.0 Active121 kW/213 Nm6.8 ℓ/100 kmR437 900
Mazda CX-5 20 Active outo121 kW/213 Nm6.9 ℓ/100 kmR450 900
Mazda CX-5 2.0 Dynamic121 kW/213 Nm6.8 ℓ/100 kmR465 600
Mazda CX-5 2.0 Dynamic outo121 kW/213 Nm6.9 ℓ/100 kmR479 700
Mazda CX-5 2.0 Individual outo121 kW/213 Nm6.9 ℓ/100 kmR541 400
Mazda CX-5 2.5 AWD Individual outo143 kW/258 Nm7.3 ℓ/100 kmR619 300
Mazda CX-5 2.2DE Akera AWD outo140 kW/450 Nm5.7 ℓ/100 kmR649 900

Die reeks word gedek deur Mazda se puik 3 jaar/onbeperkte km-waarborg en diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Toyota Rav4 2.5 AWD VX152 kW/243 Nm7.3 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

6-dienste- diensplan

R630 800
Volkswagen Tiguan 2.0TDI 4Motion Highline130 kW/380 Nm6.4 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R665 100

Tussen dié drie mededingers is die Rav4 en die Tiguan vir my die sterkste. Die Mazda is bitter mooi, maar daai brandstofverbruik is té erg vir ʼn diesel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.