Puik gehalte – teen ‘n prys

Porsche Panamera Foto: Bernard K Hellberg

Porsche Panamera Foto: Bernard K Hellberg

By die eerste aanblik lyk Porsche se vierdeur Panamera soos ‘n worshond op ‘n skaatsplank – die ene lang lyf en vier pootjies wat steun bied. Maar foto’s en ‘n sy-aansig kan bedrieglik wees. Staan gerus nader en beskou hierdie gespierde luuksheid wat as vervoermiddel vir die superrykes sonder weerga is.

Alhoewel die Panamera ‘n redelike groot passasiersmotor is – hy is 5,01 meter lank en 1.981 meter breed – tel sy lae, sportiewe voorkoms in sy guns wanneer daar teen hoë snelhede gereis word. Die Panamera is dus in elke sin van die woord ‘n ware Porsche, met ander woorde, ‘n sportmotor wat vier mense in gerief, veiligheid en luukse kan vervoer.

Die onlangse bekendstelling in die omgewing van Gansbaai – na ‘n dramatise tog oor die Franschhoek-pas – het die Panamera se veelsydige persoonlikheid ten beste blootgelê. Die veerstelsel kan vooraf gekies word en wissel van ietwat sagter en luuks tot redelik hard en sportief vir fantasiese klouvermoë. Selfs die enjin-beheerstelsels kan gekies word – en wissel van rustig (met lae verbruik) tot aggressief-sportief vir die bestuurder wat elke gram verrigting uit hierdie volbloed-voertuig wil tap.

Ek het die geleentheid gehad om al drie modelle te bestuur wat tydens die bekendstelling beskikbaar was.

Daar is afgeskop met die Diesel (R950 000), gevolg deur die 4S met sy vierwiel-aandrywing R1 271 000) en dan, uiteindelik, die topmodel Panamera Turbo teen ‘n awesomerowende (soos sekere Pretorianers praat) R1 996 000.

Maar soos dit goeie sportmotors betaam, kyk ‘n mens eerstens – en laastens – na die voertuig se hart, sy enjin.

Die diesel is ‘n 3-liter V6 turbo wat 228 kW ontwikkel en die 0-100 km/h lopie in 6.3 sekondes kafdraf. Maksimum snelheid is 259 km/h en aandrywing is deur die agterwiele met hulp van ‘n 7-gang PDK-ratkas. Hierdie ratkas – tans die beste in die motorwêreld – is toegerus met twee koppelaars. Vandaar die naam: Porsche Doppelkupplung.

Die vierwiel-aangedrewe Panamera 4 het ‘n 3.6-liter petrolgedrewe V6 wat ook 228 kW ontwikkel. Fraksioneel vinniger in die 0-100-wegtrek (6.1 sekondes) is hierdie model terselfdertyd ietwat stadiger (257 km/h) as sy diesel-stalmaat. Wanneer daar nie teen 257 kilometers per uur gery word nie, is die brandstofverbruik, aldus die vervaardigers, 8.7 liters/100 km. Maar wys my die mens wat met so ‘n motor tot sy of haar beskikking lus sal wees om stadig in die bondel saam te draf.

En dan is daar grootboet – die 4.8-liter dubbelturbo wat 382 kW ontwikkel en sekerlik sy topsnelheid van 305 km/h en 0-100 km/h-versnelling van 4.2 sekondes moeitevry kan bereik – en dit terwyl vier mense in gerief, veiligheid en styl vervoer word.

Trouens, die mense van Stuttgart/Weissach (Porsche se Heimat) maak aanspraak op brandstofverbruik van 10.3 liters/100 km wanneer daar ‘beskaafd’ gery word.

Die binneruim van al drie modelle is ‘n lus vir die oog. Topgehalte leer – met die hand gestik – is oral sigbaar, en die kontroles word gou-gou aangeleer en onder die knie gekry. Die snelheidsmeter, toereteller en enjin-inligting is steeds die tradisionele drie-in-een sirkels reg voor die bestuurder, terwyl alle sitplekke – voor en agter – ten volle elektries verstelbaar is. Alle sitplekke kan òf verhit òf verkoel word – vir absolute gerief tydens die koudste winter of die warmste somer.

Die Panamera is ook een van ‘n handjievol voertuie wat dit vir die bestuurder moontlik maak om die volmaakte stuursposisie te kry, terwyl beenspasie voor en agter vir ‘n hoë mate van gerief sorg. Selfs die bagasiebak is ruim en in staat om vier mense se bagasie gemaklik te akkommodeer.

Gegewe Porsche se reputasie as waarskynlik die wêreld se beste vervaardiger van die beste sportmotors, was daar aanvanklik vier jaar gelede heelwat skeptisisme toe die ondenkbare gebeur het – ‘n vierdeur passasiersmotor, en dit ook in diesel!
Puriste het gewonder en geween, maar na verkope van meer as 100 000 eenhede van hierdie gewilde model die afgelope vier jaar, sing mense nou ‘n ander deuntjie.

Dit blyk dat Porsche een van daardie organisasies is wat sy huiswerk behoorlik doen, sy mark behoorlik analiseer – en dan ‘n produk ontwikkel waarsonder die mark nie kan nie.

Terloops, bogenoemde pryse sluit ‘n omvattende 5 jaar/100 000 km instandhoudingsplan in.

Opsommend: Duur, maar sy mededingers ‘n hele paar tree voor – as daar enigsens mededingers is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Somerset Morkel ·

Wonderlike voertuig, maar veels te duur vir ons gewone ouens…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.