R1,1 miljoen … vir ʼn luikrug!

Die Mercedes-AMG A45S 4MATIC+. (Foto: Verskaf)

Ons was onlangs by die Zwartkops-renbaan in Pretoria vir ʼn welkome bekendstelling nadat die Covid-19-pandemie ook die motorbedryf se planne ietwat deurmekaargekrap het.

Mercedes-Benz Suid-Afrika se bestuurskool is by Zwartkops – en ek het nou al die mense daar redelik goed leer ken. Ek kon skaars wag! Dit sou my eerste keer agter die stuur van Mercedes-AMG se A45 wees. Om meer spesifiek te wees, die A45S … en ʼn allernuwe model, die A35.

Kom ons kyk eers na die A35. Daar is drie modelle in die reeks: ʼn luikrug en ʼn sedan, asook ʼn vierdeurkoepee in die vorm van die CLA 35. Die 35-reeks is ʼn aangename verrassing vir my. Ek het verkeerdelik gedink – ag, die 35-weergawe gaan louwarm wees, dis mos die baba.

Sjoe, wat ʼn verrassing.

Die 2.0-viersilinderturbo-petrolenjin bied 225 kW en 400 Nm wat deur ʼn sewespoed-dubbelkoppelaarratkas krag aan al vier wiele stoot. Let wel, 0–100 km/h neem minder as 5 sekondes en al die voertuie is beperk tot 250 km/h.

Die 35-reeks ry met Michelin se fantastiese Pilot Sport 4S-bande. Daai bande, en Zwartkops se taai teer, is ʼn resep vir fantastiese hantering en ʼn puik ervaring.

Toe klim ons in die A45S.

Dit lyk nes die 35-reeks, net met meer vinne en vlerke. Met die wegtrek weet ek egter dadelik die A45S is ʼn dier van ʼn ander soort. Hy voel oombliklik stywer en klink harder en soos ons uit die kuipe kruip, begrawe ek my voet in die mat tot my eie enorme verbasing.

Die Mercedes-AMG A45S se 2.0-viersilinderturbo-petrolenjin bied ʼn verstommende 310 kW en 500 Nm. O ja, 0–100 km/h neem ʼn belaglike 3,9 sekondes en hy is elektronies beperk tot 270 km/h. Die A45S dra dieselfde Michelin-tekkies as die A35, maar skielik voel Zwartkops bitter klein.

As jy teen 180 km/h by die vierde draai aankom, weet jy dié buksie is nie hier om te speel nie.

Ons gaan weer tyd met die reeks AMG’s deurbring en sien hoe die voertuie hulle in die alledaagse roetine gedra, maar sjoe, die pure feit dat dié voertuie bestaan, is fantasties.

Die 35-reeks lyk só:

Mercedes-AMG A35 4Matic luikrug225 kW/400 Nm7.4 ℓ/100 kmR841 000
Mercedes-AMG A35 4Matic sedan225 kW/400 Nm7.3 ℓ/100 kmR850 000
Mercedes-AMG CLA35 4Matic225 kW/400 Nm7.3 ℓ/100 kmR948 000

Die 45-reeks lyk só:

Mercedes-AMG

A45S 4Matic+

310 kW/500 Nm8.4 ℓ/100 kmR1 101 000
Mercedes-AMG CLA45S 4Matic+310 kW/500 Nm8.3 ℓ/100 kmR1 211 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

amot ·

Manie wat gekla het oor die Mazda 2 luikrug wat R300,000 kos gaan ‘n ligte beroerte kry as hy hier lees.

JohanR ·

Dink BMW, Mercedes, en Audi probeer met mekaar meding om te sien watter prys JanArm sal bereid wees om op te dok. En dan wonder hulle hoekom ander motorvervaardigers soos Kia, Hyundai en self Haval soe goed verkoop. 4 wiele een in elke hoek en gaan van A tot B, en elke nou en dan ‘n lang rit, of ‘n rit in berge in. Dit hoef jou nie R1 miljoen te kos nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.