R18 Classic – Miskien het BMW iets beet

(Foto: Brian Cheyne)

Toe BMW verlede jaar die R18 bekendgestel het, was ek nie beïndruk nie. Ek het met soveel afwagting die fiets gaan ry en niks het vir my sin gemaak nie. Die enjin is in jou pad, die hele fiets skud en wikkel weens die enorme enjin, en die grondvryhoogte was lagwekkend. So, toe BMW die nuwe R18 Classic by my kom aflewer het, was ek nie juis borrelend van opgewondenheid nie.

Waar die R18 die mees basiese model in die reeks is, is die Classic een trappie op. Voorlangs het die Classic ’n kleiner en dikker voorwiel. Dan is daar twee bykomende kolligte en ’n windskermpie. Die voetruste word vervang met gemaklike voetplate en dan is daar ook ’n meer gemaklike saal. Die vering het effens meer beweging. Om die prentjie af te rond, het die Classic twee leerkanttasse en daaronder twee lang, elegante uitlaatpype.

(Foto: Brian Cheyne)

Die voetplate het sy voordele en nadele. Dit is uiters gemaklik en verbeter die leunhoek van die R18. Om ratte te verander op die tradisionele manier is egter onmoontlik, tensy jy baie dun voete het. Daar is bitter min plek tussen die voetplaat en die rathefboom. Om te help, het BMW die rathefboom verleng na agter, wat beteken dat jy nou agter trap om ’n rat op te skakel. Die laaste fiets waarmee ek so ratte verwissel het, was ’n 1980- Suzuki AC 50. Jy raak die dansie gou gewoond en ek moet BMW ’n pluimpie gee oor hoe glad eerste rat geskakel word.

(Foto: Brian Cheyne)

Die R18 se afwerking is uitstekend. Alles waaraan jy vat, voel solied en van die hoogste gehalte. Tog voel die moderne flikkerligte en handkontroles nie tuis op die fiets nie.

Die fiets waggel nog steeds as jy hom aanskakel, en ek het dadelik begin terugdink aan alles wat my gepla het van die R18 tydens die bekendstelling. Maar toe gebeur daar iets besonders: ek begin die fiets geniet. Selfs met alles wat verkeerd is, is dit presies die bekoring van die R18. Ek het begin verskonings soek om te gaan ry. Die R18 is, ondanks sy grootte, verbasend lig op sy voete. Daar is nog twee ander modelle in die reeks, naamlik die Transcontinental en die R18 B. Ek gaan binnekort hierdie twee modelle ook op ’n langer rit ry en ek sien werklik uit daarna.

Die nuwe saal is heelwat dikker, hoewel die fiets steeds baie laag is. Dit maak lang ritte meer gemaklik. Die kanttasse kan genoeg vat vir ’n kort naweek weg, maar kan nie sluit nie. Jy kan hulle heeltemal verwyder, maar daarvoor het jy gereedskap nodig. BMW het darem in elke tas ’n binnetassie wat jy kan uithaal as jy by jou bestemming aankom.

Die R18 Classic is ’n paradoks. Daar is soveel verkeerd met die fiets, en tog is dit juis sy onvolmaaktheid wat hom amper perfek maak. Ek begin nou verstaan waarheen BMW op pad is met die R18-reeks, en dalk het hy iets beet. Dalk is dit die model wat vir BMW ’n voet in die deur gaan gee in die Amerikaanse mark.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

pieter ·

belaglik.Kan my net indink hoe daai groot enjin die heel tyd in jou pad is

Brian ·

Hy is pieter, maar ek moet sê, ek het juis sy karakter begin geniet. Mag BMW net nooit besluit om daai enjin in ‘n GS te sit nie!

Harley Davidson ·

Bikers dink anders oor motorfietse as jy ‘n bmw soek koop ‘n GS of ‘n RR as jy ‘n fiets soos op die foto soek dan koop jy ‘n klassieke Harley,of dit ‘n fatboy of ‘n glider is .

Brian ·

Ek stem saam met jou. Prysgewys is die Harley-Davidsons egter aansienlik duurder as die BMW. Ek ry more die R 18 Transcontinental en die R18 B, dan sal ek beter kan oordeel of Harley-Davidson bekommerd hoef te wees.

Chris dupreez ·

Lyk vir my na n mooi fiets. Mense sal maar altyd verskil oor die handelsname. Toe ons jonk was was dit maar die een groep Chev en die ander groep Ford, met die karre. Geniet die toetsritte, sekerlik n lekker werkie.

Kirst ·

Daardie tasse wat nie kan sluit nie is genoeg rede om nie die fiets te koop nie.

Chris dupreez ·

As hulle die fiets in suid afrika wil verkoop , sal die tasse vir seker moet kan sluit.

Brian ·

Die R18 Transcontinental en R 18 B modelle het harde tasse wat wel kan sluit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.