Reis op die ompaaie

Die betroubare Mitsubishi ASX in die skilderagtige Meiringspoort. Foto: Bernard K Hellberg

Die betroubare Mitsubishi ASX in die skilderagtige Meiringspoort. Foto: Bernard K Hellberg

Suid-Afrikaners is maar eenmaal lief vir hulle voertuie en sal enige geleentheid aangryp om die langpad aan te durf – ongeag die plundereffek van buitensporige brandstofpryse en tolgelde.

ʼn Onlangse langpadrit van Pretoria na Stilbaai het besoeke aan verskeie interessante plekke ingesluit – onder meer ʼn plaas in die Karoo waar van ons land se beste olywe en olyfolie gekoop kan word, ʼn jenewer-distilleerdery op die buitewyke van Stilbaai, en Stilbaai se strand self wat oor meer as ʼn kilometer strek en in Desember deur letterlik duisende vakansiegangers besoek word.

Ons reis, met ʼn Mitsubishi ASX, het in Pretoria begin met die tradisionele N1-roete wat oor die algemeen in goeie toestand is behalwe die totaal ontoereikende stuk pad tussen Ventersburg en Kroonstad. Dikwels is daar net enkelbane, terwyl die padoppervlak soms soos klein golfies ter see aandoen.

Die owerhede is ook nie skaam om R108-50 se tolgeld te eis vir die 262 kilometer tussen Grasmere en die Vaal Plaza nie. Motoriste moet ook maar gerus daaraan gewoond raak dat die wind vanuit die suide na die binneland waai – en ʼn stewige 25-30 km/h wind reg van voor tussen Ventersburg en Beaufort-Wes, het die ASX se brandstofverbruik op 7.98 liter/100 km te staan gebring. En dit teen ʼn aangeduide 110 km/h op die Garmin, terwyl die ASX se eie snelheidsmeternaald op 117 km/h gestaan het.

Van Beaufort-Wes gepraat: Dit gons al lankal in die media dat hierdie ANC-beheerde munisipaliteitjie in groot mate staatmaak op – dikwels vals – verkeersboetes wat hulle willens en wetens uitpos nadat daar deur die dorp gery is. Selfs al bly ʼn mens by die letter van die wet wag daar dikwels, soos met ons gebeur het, ʼn R200-boete oor ek kwansuis 78 km/h in ʼn 60 km/h-sone sou gery het! Lesers moet maar self raai wat van hierdie dokument geword het.

As jy nie haastig nie, is dit ʼn goeie plan om buite Beaufort-Wes die De Rust-pad na Oudtshoorn te neem. Dit neem jou deur die pragtige Meiringspoort wat blinkskoon piekniekplekke en ablusiegeriewe bied. Oral is daar parkeerinhamme waar ʼn mens moet stop en foto’s neem.

Die volgende dorpie, De Rust, is redelik onpretensieus, maar stop gerus vir ʼn visburger by Herrie se Padstal. Jy kan dit nie mis nie – dis by die pienk-pers olifant op linkerhand soos ʼn mens die dorp binnekom. Die visburger is smaaklik en die diens is flink.

Hierna het ons die pad gevat na Oudtshoorn waar Bella-Mia Olywe gewag het. Vernoem na die eienaar se twee kleindogters – Isabella en Mia – bied die plaas ongefiltreerde topgehalte olyfolie. Die plaas self is geleë digby Schoemanshoek op die pad na die Kangogrotte.

Wat Bella-Mia se olyfolie so merkwaardig maak is die klinies-skoon proses waardeur die olie uiteindelik na parsing in groot opgaartenks beland. Omdat Oudtshoorn, soos almal weet, maar taamlik hoë temperature in die somer aanteken, is hierdie proses voortdurend onder temperatuurbeheer. Goeie nuus vir Pretorianers is dat Bella-Mia-olyfolie te koop is by die Van die Bijls se melkerywinkel in Irene.

Maar nog wil die pret nie ophou nie. Intussen is ons deur Oudtshoorn op pad see toe met die Robinson-pas wat wag om die ASX se padhouvermoë te toets. Hierdie pas, wat in 1869 deur die beroemde Thomas Bain gebou is, is een van twee roetes see toe. Die ander is natuurlik die Outenikwapas wat na George lei.

In Mosselbaai aangekom is dit nog so ʼn entjie verder al met die N2 langs, verby Albertinia en sy ewe bekende aalwynprodukte wat digby die pad te koop is.

Vanaf die N2 loop en kronkel die afdraai na Stilbaai vir 28.5 kilometer, maar voor ʼn mens die dorp binnery (5 kilometer buite Stilbaai) kom jy af op sekerlik een van die mees buitengewone bedrywe in hierdie deel van die land. Die Inverroche-distilleerdery is veral bekend vir sy topgehalte jenewers – Classic (wit, deursigtig, soos ons dit ken), Verdant (effe groen tint) en Amber, ʼn geurige effe ligbruin jenewer wat deur die toevoeging van fynbos tydens die distilleerproses sy kenmerkende tannien-agtige kleur kry.

Pryse is nogal aan die stywe kant – R240 per bottel – maar die uitsonderlike gehalte regverdig waarskynlik die prys.

Om die aanleg te besoek en van die produkte te proe, moet ʼn afspraak gemaak word. Skakel hulle by 028 754 2442.

Uiteindelik bring ons reis – na 1 400 kilometer – ons by die gewilde Stilbaai, ʼn slaperige dorpie wat buite seisoen net sowat 10 000 inwoners het. Tydens die Desember-vakansie moet die dorp se infrakstruktuur egter bontstaan wanneer nog sowat 90 000 besoekers daar aankom.

Stilbaai is ʼn ietwat verwarrende samevoeging van aftree-oorde, woonwaparke en luukse vakansiehuise, en die “ou” dorp (Stilbaai-Wes) is dié plek waar hoofsaaklik Afrikaanssprekendes hulle tuisvoel. Hier is die gevoel meer landelik, rustig en minder freneties – en almal praat Afrikaans!

Benewens die strand, wat een van die veiligste swemplekke is wat ek nog beproef het – bied Stilbaai ook bergfiets- en staproetes – benewens die jaarlikse “touchies” (raakrugby)-kompetisie wat oor die Nuwejaarstyd op die strand aangebied word.

Die dorp is ook daarvoor bekend dat die goedkoopste draairoomys (soft serve) teen R5 by die vulstasiewinkel in die hoofstraat beskikbaar is – ʼn ware winskoop na ʼn warm dag op die strand of na ʼn lang rit op jou bergfiets.

Opsommend
Ons land is so besonders, en die inwoners so uniek dat almal van ons periodiek ʼn rustige lang reis moet aanpak. Lees boeke of Google die inligting, maar moenie net agter die stuur inklim en jaag nie. Daar’s baie te sien (en te proe)!

Wat die Mitsubishi ASX betref, was die bykans 3 000 kilometer rit louter plesier. Die 2-liter viersilinder was sterk genoeg vir bergpasse, en die algehele brandstofverbruik was uiteindelik 7.37 liter/100 km.

Ek het die gevoel gekry dat hierdie stewige en betroubare sportnutsvoertuig my nog jare se plesier en goeie diens sal gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.