Renault Kiger draf maklik die langpad kaf

Die Renault Kiger het hom op die langpad gedra. (Foto: Verskaf)

ʼn Mens word baie dinge van jouself en ʼn voertuig wys as jy die langpad aanpak – alleen of met jou gesin.

Ons sal nou nie te diep in die sielkundige aspekte van selfontdekking en selfkennis ingaan nie, maar die vermoë om wakker te bly en steeds by die spoedgrens te hou as jy geïrriteerd en ongeduldig raak, verg deursettingsvermoë of ouderdom, wat ook al eerste kom.

Dit is dan wanneer ʼn reisiger dankbaar word as die voertuigbouer aan die fyner dinge aandag gegee het, soos die ontwerp van die sitplek, die uitleg van die kajuit en oudiovisuele stelsel.

Eenvoudige goed, soos die greep, reaksietyd en logiese uiteensetting van die knoppies op die raakskerm en stuurwiel, begin punte tel na baie ure agter die stuur.

Die gemaklikheid en flinkheid van die handvryeselfoonstelsel is net so belangrik.

Gelukkig is daar al in die eerste voertuig wat ooit vervaardig is, aan ergonomika aandag gegee. Die bestuurder moet elke handvatsel, hefboom en knoppie maklik kan bykom en dit sonder sukkel kan manipuleer of aktiveer.

Die gemak waarmee knoppies gedruk kan word klink onbeduidend, maar dit dra by tot ‘n positiewe bestuurservaring. (Foto: Renault)

En dan pakplek, pakplek, pakplek… Dit voel vir my of dit een van die goedkoopste maniere is wat die verskil tussen ʼn gemiddelde en uitstekende bestuurservaring bepaal.

Daar móét plek wees vir jou koffiebeker, waterbottel, die pakkie skyfies waaruit jy so elke vyf minute ʼn paar skyfies uitvis, die pakkie Whispers wat dreig om te skeur en die balletjies oor die hele kar rond te strooi en daardie halfgeëte Wimpy-hamburger.

In ʼn vorige artikel het ek die normaal- en eko-modus van die Renault Kiger Intens tussen Pretoria en Orania getoets en bespiegel of dit werklik die moeite werd is. Tydens hierdie vakansierit kon ek ook besluit of die Kiger vir die langpad geskik is.

Die 703 km-rit is laatmiddag begin sodat ek dit in die daglig en donkerte kon ervaar.

Die Kiger se bagasieruim bied heelwat pakplek. (Foto: Renault)

Ek moes vir drie weke se weggaan inpak en boonop kamptoerusting inlaai en het derhalwe die agterste sitplek afgeslaan. Dit was ʼn vinnige en maklike proses en die Kiger het meer as genoeg ruimte gebied vir ʼn ongerieflike skottelbraai, ʼn paar kratte, tot ellelange los tentpale.

ʼn Gesin van vier sal egter hulle bagasie beter moet beplan, maar die voertuig sal jou nie in die steek laat as jy vier tasse en ʼn koelhouer of twee inpak nie.

Ek kon tevrede die agterste deur toemaak en daar was steeds genoeg oop ruimte tussen die dak en die bagasie sodat ek gemaklik deur die agterste ruit kon sien.

Die voertuig se oudiovisuele stelsel koppel vinnig en maklik met ‘n slimfoon. (Foto: Renault)

Renault sal net iets aan die gordel se knip moet doen. Dit lê te diep tussen die middelste konsole en die sitplek en ek het omtrent ʼn paar sekondes gesukkel om dit vas te maak.

Vir die eerste 100 km moet jy maar op die stadsverkeer konsentreer tot jy deur Johannesburg en ʼn veilige afstand in die platteland is voor jy met die kar se funksies kan begin vroetel. My selfoon se Bluetooth het maklik met die voertuig sʼn gekoppel en deur middel van die Android-Apps‑funksie kon ek met Google Maps deur die agtduim‑skerm die roete dophou.

Dit is ook daar waar die verskeidenheid radiostasies min word en ek het na die speellys op my selfoon oorgeskakel. My gunstelingmusiek het net soveel beter deur die kar se luidsprekers as deur my selfoon sʼn geklink.

Die uitleg van die kajuit is bevredigend. Foto: Renault)

Kort voor lank het ek lus geword vir ʼn versnapering of twee. Soos in ʼn vorige artikel genoem, kon Renault regtig meer prakties gedink het oor pakplek in die Kiger. Ek kon nie my koffiebeker in die deur sit nie, want die gat lê skuins. Daar is ook nie plek in die middelste konsole daarvoor gemaak nie. Ek mos dit saam met die skyfies en Whispers in die gat langs die handrem sit. Dié ruimte, wat wel deur ʼn oulike roldeurtjie toegemaak word, het darem al my lekkernye bymekaargehou terwyl ek maklik my hand in en uit kon steek.

Met sononder het ek die hoofligte aangeskakel en die gebied wat gedek word, het ver genoeg na weerskante gestrek sodat ek darem ʼn kans kon kry om ʼn verwarde koedoe te sien voor hy kan besluit om ʼn dom ding aan te vang. Motoriste van voor af het ook nie nodig gehad om vir my te flikker om my gedempte ligte verder te demp nie.

Die Kiger se hoofligte kwyt hulle goed van hulle taak. (Foto: Renault)

Daarbenewens kon ek betyds die slaggate op ʼn veilige afstand raaksien.

Die sitplek het wel na twee-derdes deur die rit begin pla en ek moes so ʼn paar keer my boude apart kans gee om my lyf te dra. Ek het wel maklik wakker gebly tot aan die einde van die rit.

Tydens die vakansie se rondry het ek ook ʼn paar keer op die agterste sitplekke gaan sit terwyl een van my familielede bestuur het, om te besluit of kinders ook die langpad in ʼn Kiger gemaklik sou kon aandurf. Die beweeg- en voetruimte was groot genoeg en ek het amper jaloers geword toe ek sien die agterste passasiers kry ʼn middelste afslaanarmleuning met twee regop bekerhouers.

Alles in ag geneem, dink ek die Kiger kan hom op die langpad gedra en sal ʼn middelklas-gesin se vakansie met tevredenheid laat begin en eindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Duck ·

Hoe veilig is die Kiger?
Lyk na ‘n klomp plastic op twee dun wiele

JohanR ·

Ek se nie is sleg nie, of die motors is sleg nie, maar alle Renault’s kom deesdae uit India. Maak hulle nie meer ‘n Franse kar in Frankryk nie?

andre ·

Die Renaults uit Indie is meer vir ons slegte paaie geskik as hul Franse modelle

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.