Renault se planne gestuit

Die Renault Triber. (Foto: Verskaf)

Soos die wind ʼn uitvoerende hoof by ʼn motorvervaardiger in- en uitwaai, só verander die nuwe hoof die rigting van ʼn maatskappy om sekere doelwitte te behaal.

Renault se vorige uitvoerende hoof het die idee gehad dat volumes die regte rigting was.

Die nuwe hoof, Luca de Meo, meen egter dat gehalte – eerder as suiwer getalle – ʼn beter rigting is om in te slaan. Gelukkig vir hom het hy reeds sy sogenaamde Renaulution- strategiese plan – ingevolge waarvan kapasiteit met 30% afgeskaal is – in werking gestel voor die Covid-19-pandemie uitgebreek en die halfgeleier-mikroskyfiekrisis getref het.

In Suid-Afrika plaas dit Renault onder geweldige druk. Hy het beplan om die Renault Kiger, sy B-sportnutsbuksie, bekend te stel. Die Kiger vervang die Sandero. Om die situasie selfs verder te bemoeilik, is die nuwe nuwe Clio en Captur vir tyd en wyl op ys.

Ongelukkig sal Renault Suid-Afrika tot September al sy eiers in die Kwid-, Triber-, Duster- en Koleos-mandjie moet plaas. Die Triber, Duster en Koleos kry geringe opknappings om die aanbieding mooi vars te hou.

In September kan Suid-Afrikaners uitsien na die Kiger. Dit is ʼn B-sportnutsvoertuig om met Honda se WR-V, VW T-Cross, Hyundai Venue, Kia Sonet, Nissan Magnite en dies meer mee te ding.

Renault sê daar is ʼn atmosferiese enjin, asook ʼn turbo, en ʼn outomatiese ratkas.

Renault Suid-Afrika word nou plaaslik ten volle deur die Motus-groep besit. Motus is ʼn rateltaai mededinger in die invoerder- en verspreidersegment. Motus besit Renault, Kia, Hyundai en Mitsubishi in Suid-Afrika.

Dit stel die maatskappy in staat om die onderneming so lig moontlik te bestuur en van alle geleenthede – soos multi-franchisehandelaars – gebruik te maak. Op dié manier word groot koste bespaar.

Tot die volgende opwindende produkbekendstelling van Renault – die Kiger is September – sal ons maar intussen na die mooi nuwe embleem moet kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.