Renault stel sy Sandero-vervanger bekend

Renault het uiteindelik sy splinternuwe Kiger bekendgestel. Dié voertuig moes al geruime tyd gelede bekendgestel geword het, maar die halfgeleiermikroskyfiekrisis én al die inperkings het Renault se planne in die wiele gery.

Die nuwe Kiger (klink soos Tiger in Engels) is beslis eerder ʼn klein sportnutsvoertuig as ʼn klein luikrug. Die ontwerp is netjies; ek hou daarvan. Dit is ʼn lekker moderne ontwerp. Ek het drie verskillende modelle op die proef gestel. Die intree Life-spesifikasie is heel goed, behalwe die instrumente as ʼn mens eers die skerm in die Intens-model sien.

Die binneruim is eenvoudig, maar aangenaam met lekker gemaklike sitplekke. Die posisionering van die pedale voel vir my vreemd. Dit is heeltemal te naby aan mens. Ek voel dit moet verder onder die paneelbord inskuif. Die stuurwiel kan ook nie nader of verder gestel word nie, net op en af – die gevolg is jy moet nóg nader sit vir jou arms om by te kom en dan is die pedale éérs te naby.

Al die luukse truuks is in die binneruim. Daar is kragstuur, elektriese vensters, ʼn raakskerminligtingstelsel met Android Auto en Apple CarPlay. Op die Intens-model is daar vier lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, stabiliteitsbeheer en ISOFIX. Nie te versmaai nie. Die Kiger is egter nog nie deur NCAP getoets nie; ons kan dus nog nie sê presies hoeveel sterre hy het nie.

Daar is twee enjins en drie ratkaste in die reeks beskikbaar. Die atmosferiese 1.0‑driesilinderenjin is beskikbaar met óf ʼn handrat óf ʼn AMT‑ geoutomatiseerde handratkas wat presies soos ʼn outo werk. Die turboaangejaagde 1.0‑driesilinder is beskikbaar in óf ʼn handrat, of ʼn CVT‑palwisseltransmissie. Die atmosferiese enjin bied 52 kW en 96 Nm. Die turbo bied 74 kW en 160 Nm.

Ek verstaan heeltemal hoekom die intreemodel bestaan, en dit is omdat Renault ʼn model nodig het in daardie prysklas – maar die 1.0 sonder die turbo is aaklig om te ry. Die enjin is nie vreeslik sterk nie, maar wat die ervaring verder omkrap, is die swak versnellerkalibrasie. Dit is onmoontlik om glad weg te trek, ratte te wissel en versnellerinsette te moduleer.

Die turbomodel se kraglewering is ʼn wesenlike verbetering, al is die versnellerkalibrasie op daai model ook nie fantasties nie. Ek vind die Eco-rymodus die beste om die skerp versneller ietwat te verdoof indien jy egalig in die verkeer wil ry.

Die CVT op die turbo-enjin pla glad nie, omdat die enjin só stil is, hoor mens hom glad nie sing en trek soos kenmerkend is van dié tipe ratkaste nie.

Ek wil weer tyd met die Kiger deurbring om te kyk of die ervaring verbeter soos hy inloop. Die intreemodel is nie vir my ʼn lekker motor nie, maar die turbomodelle is beslis ʼn opsie – al raak hulle weer duur vir ʼn intreebuksie. Dié segment is baie groot, en daar is ʼn klomp mededingers. Tyd sal leer, maar Renault het groot drome vir die Kiger in die Suid-Afrikaanse mark.

Die reeks lyk só:

Renault Kiger Life 1.052 kW/96 Nm5,3 l/100 kmR199 900
Renault Kiger Zen 1.052 kW/96 Nm5,3 l/100 kmR214 900
Renault Kiger Zen 1.0 AMT52 kW/ 96 Nm5,2 l/100 kmR224 900
Renault Kiger Zen 1.0T74 kW/160 Nm5 l/100 kmR249 900
Renault Kiger Intens 1.0T74 kW/160 Nm5 l/100 kmR269 900
Renault Kiger Intens 1.0T CVT74 kW/160 Nm5,4 l/100 kmR289 900

Die hele reeks word deur ʼn 5 jaar/150 000 km‑waarborg gedek. Die atmosferiese weergawes kry ʼn 2 jaar/30 000 km‑diensplan en die turboweergawes 3 jaar/45 000 km.

Ons sal weer tyd met die Kiger deurbring en hom dan met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Janice du Plessis ·

Dagsê Rudolf
Baie dankie vir jou vraag. Ja, die Kiger word inderdaad in Indië vervaardig in die selfde fabriek as die Nissan Magnite.
Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

koos10 ·

Brandon, het jy die AMT self gery? My rede vir die vraag is dat die AMT in Suzuki ‘n nagmerrie is en glad nie soos ‘n krag omsitter autobox of CVT werk nie. Trek teen ‘n opdraande weg moet jy beide voete gebruik, of die handrem. As jy hom ry soos ‘n gewone auto, loop jy eers 5 meter agteruit voordat die rat gevind word.
Ek wil weet of die Kiger beter is as die Suzuki wat ratkaste betref?

Brendon Staniforth ·

Dagsê Koos

Baie dankie vir jou vraag. Ongelukkig is ‘n AMT die selfde tegnologie vir alle handelsmerke. Dit is ‘n ‘automated manual transmission’. Dit is ‘n handrat met blikbrein aandrywers wat die ratte wissel. Ons het hom nie gery nie, die handelsmerke hou ons met opset weg van die AMT’s af – omdat hulle só sleg is.

Groetnis, Brendon.

koos10 ·

Dankie Brandon. Ek verstaan die rede van die AMT. Handrat petrol gebruik met gerief van outomatiese ratkas. Ek dink die tegnologie moet nog bietjie ontwikkel.

Wielspore ·

Opsig self lyk die Kiger heelwat meer modern as die Sandero en gaan meer aanklank onder jonger kopers hê. Dit is net vreemd dat ‘n intree model voertuig van R200K ‘n prysverskil van R90K het tussen die goedkoopste en duurste model. Teen die einde van die dag gaan die verkoop syfers die sukses bepaal.
Na my mening betaal ons heeltemal te veel vir voertuie in SA en die vervaardigers weet Suid Afrikaners het trots in hulle wiele en buit die situasie uit.
Lekker ry!

Boerkind ·

Doen ook sommer asb. ‘n opvolg toets van die 2021 Duster 1.5 turbo-diesel auto… (ek aanvaar die auto ratkas in die Duster is aansienlik beter as die van die Kiger?)

Brendon Staniforth ·

Dagsê Boerkind,

Baie dankie vir jou kommentaar. Ek het al klomp keer oor die Duster geskryf. Ek is oortuig dat daar nie beter waarde verkrygbaar is nie. Die ratkas in die Duster is wel ‘n EDC (Efficient Dual Clutch)… soos Volkswagen se DSG. Hy werk puik, en is fantasties lig op brandstof. Baie mense dink al ek is op Renault se betaalstaat soos ek die Duster voorstel. Dis ‘n puik voertuig.

Groetnis
Brendon

Boerkind ·

Dankie! Goed om te weet – ek het 2 weke terug een gekoop – juis omdat ek jou kommentaar gevolg het!! Groete!!

koos10 ·

Geen mens sal weet hoekom jy ‘n af duimpie gekry het nie. Mag ‘n motor joernalis nie sy eerlike opinie uit spreek nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.