Resep vir sukses

(Foto: Verskaf)

Elke soort voertuig het ʼn resep vir sukses.

ʼn Bakkie moet taai wees en ʼn sportnuts veeldoelig. ʼn Koepee moet mooi en vinnig wees. En só kan ons aanhou.

Die resep vir ʼn luikrug is seker die ingewikkeldste. Dit moet so mooi soos ʼn koepee wees, so vinnig soos ʼn sportmotor, so lig op brandstof soos ʼn begrotingsbuksie en so ruim soos ʼn sportnuts. Of wat praat ek dan nou?

Peugeot het ʼn lang geskiedenis met die luikrug. Die Europeërs sal sê dat die Peugeot 205 GTi die beste warm luikrug ooit is. Ek het nog nooit een bestuur nie, maar dit is bitter, bitter mooi!

Die spiksplinternuwe 208 is nóg mooier en ek sien al vir langer as ’n jaar daarna uit om dié buksie onder hande te kry.

Die ontwerp is pragtig.

Dit is sinoniem met Peugeot se huidige ontwerptaal en dit is geensins ʼn slegte ding nie. Sodra ʼn mens ingeklim het – nadat jy vir die ontwerp jou aantreklikste glimlag probeer gee het – stel die binneruim geensins teleur nie. Dit is modern, luuks en netjies aanmekaar gesit.

Soos met die meeste Europese voertuie, is die spesifikasievlak sterk. Daar is alle luukshede, van klimaatbeheer tot Android Auto en Apple CarPlay. Aan die veiligheidskant bult die Peugeotjie verder sy spiere met ses lugsakke, sluitweerremme, vastrap- en stabiliteitsbeheer, wegtrek- en noodremhulp met elektroniese remkragverspreiding.

Onder die kap sit ʼn lekker 1.2‑turbopetrol-driesilinderenjin wat 74 kW en 205 Nm bied. Dít is egter net een snytjie van die pizza. Die 6-spoed‑handrat met sy lekker gladde wisselaksie en sagte koppelaar maak saam met daardie enjin die 208 ʼn plesier in dorpsverkeer, óf op die oop pad. Van

100 km/h in onder 10 sekondes, 188 km/h voluit én die feit dat die Peugeot teen 5,8 ℓ/100 km om die gekombineerde siklus aan die brandstof kan teug, is ʼn lekker veelsydige pakket.

Op die pad is waar die 208 sy staal wys. Wanneer ʼn mens moeg is, toer hy tjoepstil en sag geveer. As jy stout voel, jaag hy soos ʼn klein blitsbuksie tussen die verkeersligte én hy sluk drie kinders se skooltasse gemaklik elke oggend in.

As ʼn mens na die resep vir ʼn puik luikrug kyk, verdien die 208 net regmerkies.

Dit is uiters maklik om die 208 op te som. Ek het self al drie Franse luikrûe besit in die vorm van ʼn Citroën C3. Ek is egter nou bitter spyt dat daar nie só ʼn 208 in my oprit staan nie. Ek het my hart geheel en al op dié tjor verloor.

Is daar enige foute? Geen kar is perfek nie. As ek dus moet rondkrap, sou ek sê die klein stuurwiel kan irriterend raak en die raakskerm om funksies soos die klimaatbeheer te stel, sou lekkerder werk met fisieke knoppies.

Die reeks lyk só:

Peugeot 208 1.2 Active55 kW/118 Nm5,8 ℓ/100 kmR302 900
Peugeot 208 1.2T Allure74 kW/205 Nm5,8 ℓ/100 kmR365 900
Peugeot 208 1.2T Allure outo96 kW/230 Nm6,3 ℓ/100 kmR396 900
Peugeot 208 1.2T GT96 kW/230 Nm6,3 ℓ/100 kmR443 900

Die reeks word deur ʼn 5 jaar/100 000 km‑waarborg en 3 jaar/60 000 km‑diensplan gedek.

Die mededinging lyk só:

Opel Corsa 1.2T Edition74 kW/205 Nm5,7 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km‑waarborg

3 jaar/45 000 km‑diensplan

R333 900
Renault Clio 1.0 Turbo Intens74 kW/160 Nm5,7 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km‑waarborg

2 jaar/30 000 km‑diensplan

R349 900
Citroën C3 1.2T Shine81 kW/205 Nm6 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km‑waarborg

3 jaar/60 000 km‑diensplan

R352 900
Ford Fiesta 1.0T Titanium92 kW/170 Nm4,3 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km‑waarborg

Diensplan opsioneel

R354 700
Volkswagen Polo 1.0TSI 85 kW Life85 kW/200 Nm5,4 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km‑waarborg

3 jaar/45 000 km‑diensplan

R370 700

Dit is almal slegs turboaangejaagde, Europese mededingers. Almal is werklik puik – maar die ontwerp van die 208 het vir my nie ʼn gelyke nie.

Dit is ʼn pragvoertuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.