Revolusionêre opgradering van evolusionêre voorvader

Die Land Rover Defender. (Foto: Verskaf)

Ek is tans in ʼn tweestryd gewikkel. Ek dink die evolusionêre benadering tot die verbetering van ʼn voertuig, soos Porsche se 911, is die beste manier: Klein, perfekte treetjies in die regte rigting.

Dan kom ons egter by ʼn produk soos Land Rover se Defender…

Die oorspronklike Land Rover Series 1 is direk na die Tweede Wêreldoorlog gebou. Rover het voor die oorlog luukse motors vervaardig, maar weens streng rantsoenering van grondstowwe en met Rover se fabriek wat in die oorlog verpletter is, het hulle geskuif na ʼn fabriek in Solihull wat Bristol Hercules-vliegtuigenjins vervaardig het.

Maurice Wilks, in daardie stadium Rover se hoofontwerper, het besluit ʼn landbouvoertuig soos die Willys Jeep is die regte oplossing.

Die res is amper geskiedenis.

Daar is oor die twee miljoen Series I-, II-, III- en Defender-modelle wêreldwyd vervaardig. In ʼn stadium was die Blackheath-fabriek in Suid-Afrika die grootste vervaardiger van Land Rovers buite die Verenigde Koninkryk. Tussen 1947 en 2016 het die Land Rover grootliks onveranderd gebly… tot 2020.

Die nuwe Land Rover Defender is ʼn fantastiese revolusionêre opknapping van die oorspronklike model. Die voertuig wat getoets is, was die Land Rover Defender 110 P400 S. Dit is die langer een van die twee modelle en die sterkste petrolweergawe. Die P400 spog met 294 kW en 550 Nm.

Met die aflewer van die Defender by die huis word ons summier genader deur ʼn verbyganger in ʼn ou TD5 110. Die dame hou net daar stil en kom kyk. Sy is die volgende oggend vroeg terug met haar skoonpa om te kom spog met die nuwe Defender.

Op besoek aan ʼn winkel later die middag besluit nog ʼn aanhanger om die Defender van nader te kom bekyk. “Nee wag, ek moet kom kyk!” roep hy uit en parkeer sommer dadelik weer om te kom gesels.

Vrydagmiddag haak ons die woonwa vir ʼn vinnige wegbreek. Ek dink my karavaan sal moet terug na die werkswinkel, want wragtig die Defender sleep soos ʼn droom. Dis ongeveer 94 km van my huis tot by die oord. Noordwaarts teen 110 km/h het die Defender 16,9 ℓ/100 km nodig gehad – glad nie sleg vir ʼn petrolvoertuig nie.

Dit is opvallend hoe stabiel en bekwaam die Defender is.

Ja, my wa is maar net oor ʼn ton en die Defender kan 3 000 kg sleep, maar die lugvering maak ligte werk van die wa. Ek het aspris nie my stabiliseerder opgesit nie en al kom reusevragmotors verby, bly die Sprite tjoepstil in lyn agter die Landy. Dis fantasties.

Nog ʼn funksie eie aan Land Rover is die knoppie in die kattebak wat die ligte self toets en vir jou roteer om te kyk of alles werk. Terwyl jy sleep, flikker daar ook ʼn waentjie op die paneelbord om te wys dat die sleepsel se liggies werk. Puik.

By die oord kom ʼn paar van die ooms ook dadelik nader. Hulle het elkeen al vorige ervaring met Land Rovers as sleepvoertuie gehad. Ek dink as ons die D300-diesel mettertyd kry, sal dit die lekkerste balans tussen verrigting en brandstofverbruik bied.

Tot dan moet mens maar self besluit: Wil jy jou karavaan rekmerke trek met ʼn P400, of sal die D240 voldoende wees met sy 177 kW en 430 Nm? Ek dink hy sal.

As ʼn mens die binneruim betree, is dit ʼn aangename verrassing. Gooi elke herinnering wat jy van die ou Defender het in die vullisdrom. Die nuwe Defender is luuks, groot en uiters gemaklik. Daar is luukse maar duursame afwerking in die binneruim gebruik en die Defender is nou gepeper met allerhande slim tegnologie in sy inligtingstelsel.

Daar is die gewone magdom veiligheidstelsels soos ses lugsakke, ABS met EBD, vastrap‑ en stabiliteitsbeheer en aktiewe stelsels soos botsingwaarskuwing en remhulp. As ʼn mens ʼn bietjie in die veld gaan rondploeter, is daar Land Rover se indrukwekkende Terrain Response-stelsel wat alles onder beheer hou. Die Defender het ʼn 8-spoed-wringkragomsitter‑ outomatiese ratkas met lae strek. Die Defender kan op teer 100 km/h in 6,1 sekondes haal en hulle sê hy sal 191 km/h voluit hardloop, maar dit klink bitter min vir die P400-weergawe. Hy kom blitsig by 160 km/h uit.

Dit bring my by die heel lekkerste deel van die Land Rover – benewens die stilering en verrigting laat die vering jou in vervoering.

Op die pad toer die Defender soos ʼn droom. Dit is die sagste, soepelste vering wat ek al ooit in ʼn voertuig teëgekom het. Daar is geen gestamp en gehop oor hobbels nie. Net ʼn sagte wip en jy’s oor. Die jammerte is dat dit beklemtoon hoe sleg die meeste van die Duitse sportnutse deesdae ry.

Ek moet nou afsluit, want ek kan dae lank babbel oor die kar. Ek is ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste en is vanjaar ook ʼn leerling-jurielid in die Motor van die Jaar-kompetisie. Die reëls is só geskryf om uitnemendheid en vordering te bekroon. Van die 62 voertuie wat ek vanjaar al bestuur het, is die Defender tot dusver my gunsteling vir dié toekenning.

Die Defender is duur, maar vir die wat dit kan bekostig, is dit goeie waarde vir geld. Gaan toetsbestuur een. Dit is ʼn belewenis.

Die reeks lyk só:

Land Rover Defender 110 D240177 kW/430 Nm7,7 ℓ/100 kmR1 050 100
Land Rover Defender 110 D240 S177 kW/430 Nm7,7 ℓ/100 kmR1 096 100
Land Rover Defender 110 D240 SE177 kW/430 Nm7,7 ℓ/100 kmR1 155 600
Land Rover Defender 110 D240 HSE177 kW/430 Nm7,7 ℓ/100 kmR1 259 800
Land Rover Defender 110 D240 First Edition177 kW/430 Nm7,7 ℓ/100 kmR1 260 600
Land Rover Defender 110 P300221 kW/400 Nm10,2 ℓ/100 kmR1 050 100
Land Rover Defender 110 P300 S221 kW/400 Nm10,2 ℓ/100 kmR1 096 100
Land Rover Defender 110 P300 SE221 kW/400 Nm10,2 ℓ/100 kmR1 155 600
Land Rover Defender 110 P300 HSE221 kW/400 Nm10,2 ℓ/100 kmR1 259 800
Land Rover Defender 110 P400294 kW/550 Nm9,9 ℓ/100 kmR1 187 000
Land Rover Defender 110 P400 S294 kW/550 Nm9,9 ℓ/100 kmR1 224 200
Land Rover Defender 110 P400 SE294 kW/550 Nm9,9 ℓ/100 kmR1 286 700
Land Rover Defender 110 P400 HSE294 kW/550 Nm9,9 ℓ/100 kmR1 387 900
Land Rover Defender 110 P400 First Edition294 kW/550 Nm9,9 ℓ/100 kmR1 377 100
Land Rover Defender 110 P400 X294 kW/550 Nm9,9 ℓ/100 kmR1 574 500

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Toyota Land Cruiser Prado 4.0 VX-L202 kW/381 Nm11,5 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

9-dienste-diensplan

R1 071 300
Nissan Patrol 5.6 V8 LE 4WD298 kW/560 Nm14,4 ℓ/100 km6 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/90 000 km-diensplan

R1 515 700
Toyota Land Cruiser 200 4.5D-4D V8 VX-R195 kW/650 Nm10,2 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

9-dienste-diensplan

R1 540 300
Lexus LX570270 kW/530 Nm14,5 ℓ/100 km7 jaar/100 000 km-waarborg

7-dienste‑ omvattende instandhoudingsplan

R1 890 200
Mercedes-Benz G400d243 kW/700 Nm9,6 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/-100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R2 755 840

Die Defender is ietwat uniek in die segment en het nie in hierdie stadium ʼn werklike direkte mededinger nie. In daardie prysklas kan jy koop net wat jou hart begeer, maar vir die ruimte, innovasie en vernuf kies ek die Defender.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kruger ·

Ek het dit al male sonder tal gesien….teen daai prys gaan bitter min die bos sien….dis meer n prestige ding….dis jammer want ek dink almal is goeie 4×4’s. Ek het in Mosambiek kringe om hulle gery met my verweerde Nissan….

Brendon Staniforth ·

Dagsê Kruger

Baie dankie vir jou kommentaar. Ek dink hulle skep moontlik vir hulself ‘n gaatjie in die mark vir ‘n basiese 90, intreevlak diesel, handrat sonder die lugvering oor ‘n jaar of wat teen ‘n baie goedkoper prys.

Land Rover het dit al voorheen gedoen met die Discovery XS… en hy was heel goedkoper as die res van die reeks. Ek dink ‘n kortasafstand 90 met staal wiele en al die meganiese truuks teen R750 000 sal moontlik die bos sien… of hoe?

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Kruger ·

Hi Brendon

Vir my was die Disco altyd die stadsjapie en die Defender die plaas lorrie. Is lekker om al die truuks te he, maar so baie kan verkeerd loop in die bos. En as daai foefies begin breek in die bos…jy het n ding nodig wat enige plek kan gaan sonder probleme en met bloudraad en tang reggemaak kan word. En dis waar my Nissan so lekker gewerk het. Nie dat ek n Nissan “fen” is nie…bygese deesdae kan jy nie meer ry waar jy wil nie….maar ek lief die ou Defender.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.