Ruil self ’n motorband

(Foto: Counselling/Pixabay)

Volgens ’n opname wat KwikFit in die Verenigde Koninkryk gedoen het, kan 38% van motoriste tussen die ouderdomme van 18 en 34 jaar nie self ʼn motorband omruil nie.

Jonger mans blyk ook huiwerig te wees om te stop en iemand in die knyp te help, aangesien hulle nie vertroud is met basiese voertuigonderhoud nie, lui die verslag.

Dit is moontlik dat dié scenario in Suid -Afrika soortgelyk kan wees.

 Volgens Ricardo Coetzee, ʼn woordvoerder van Virseker, beklemtoon hierdie opname juis die belangrikheid daarvan om te weet hoe om ’n band om te ruil.

“Jy kan nie voortdurend op ander mense of dienste staatmaak om te help nie. Die soort afhanklikheid stel jou ongelukkig aan rooftogte en kapings bloot. Met genoeg kennis en die regte gereedskap is dit eintlik redelik eenvoudig om ʼn band om te ruil en neem dit slegs ’n paar minute.”

Virseker stel hierdie 13 wenke voor vir die ruil van ʼn band:

Wees voorbereid: Dit is belangrik om seker te maak dat jy die telefoonnommers van nooddienste sowel as jou versekeringsmaatskappy byderhand het. Maak seker dat jy ’n veiligheidsdriehoek, flitslig, basiese gereedskapstel, draagbare domkrag, ’n geskikte moersleutel en dan die noodwiel byderhand Handskoene en ’n weerkaatsende baadjie is ook handig om te hê.

Stop slim: Stop op ʼn veilige plek as jy vermoed dat jou band dalk pap is of gebars het. Maak seker dat jy ver van ander bewegende voertuie is en duidelik sigbaar is vir aankomende verkeer. Waar moontlik, probeer altyd om op gelyke grond te parkeer. As jy moontlik teen ʼn op- of afdraande staan, kan jy die wiele draai om te verhoed dat die voertuig wegrol. Jy kan die voertuig afsluit, die handrem van die kar optrek en dit in rat sit. Outomatiese voertuie kan in “drive” gelaat word.

Wees sigbaar: Om te verseker dat jy duidelik sigbaar is, is dit noodsaaklik om jou nooddriehoek sowat 45 tot 50 meter agter die voertuig te plaas sodat ander bestuurders gewaarsku kan wees en ook genoeg tyd kan hê om te reageer. As jy op ʼn draai stilstaan, is dit belangrik om dit selfs nog verder te plaas.

Wees op die uitkyk: Wees paraat en kyk uit vir verdagte individue of ander moontlike bedreigings wat dalk gevaarlik kan wees.

Gebruik die domkrag: Plaas die domkrag onder die voertuig. Die meeste voertuie het domkragpunte, waar die onderstel sterk genoeg is om die gewig te kan dra. Hierdie punt is gewoonlik aan die onder-sykant in die middel van die voertuig. Dit is belangrik om seker te maak dat die domkrag op soliede, harde grond staan wat nie sal meegee nie. Verstel die domkrag só dat dit aan die onderkant van die voertuig sowel as aan die grond raak. Die domkrag dien op hierdie stadium nog net as ʼn noodstut; die voertuig moet dus nie in die lug wees nie.

Wielmoere los: Verwyder die doppies wat die wielmoere beskerm en maak hulle los. Tensy daar ʼn “L” op die wielmoer verskyn, maak die meeste wielmoere antikloksgewys los. Jy moenie die wielmoere heeltemal losmaak nie; hulle moet net los genoeg wees sodat jy hulle gemaklik met een hand en die moersleutel kan draai.

Domkrag op: Sodra die wielmoere los genoeg is, kan jy die voertuig met die domkrag begin oplig. Moenie die voertuig te hoog oplig nie, want hoe hoër jy dit lig, hoe hoër sal jy die noodwiel moet optel om dit in plek te kry. ʼn Goeie hoogte is gewoonlik een of twee vingerspasies tussen die ou band en die grond.

Wielmoere uit: Draai nou die wielmoere heeltemal los en haal die band af. Maak seker dat jy die moere op ʼn veilige plek hou sodat jy hulle weer kan terugsit.

Vervang: Kry die noodwiel en plaas dit waar die ou wiel was. Daar sal waarskynlik merkies op die band wees om te wys watter kant waar moet wees asook watter rigting die band moet draai. Plaas dan die ou band in die plek waar die nuwe band was.

Maak vas: Om seker te maak dat die wiel gelyk vasgemaak word, moet jy die moere in ʼn oorkruis-patroon terugsit en vasdraai. Maak die moere so styf as wat jy kan met die moersleutel vas en laat dan die voertuig sak tot die wiele aan die grond raak. Voordat die voertuig heeltemal gesak is, moet jy die moere in ʼn oorkruis-patroon heeltemal vasdraai.

Laat sak en maak styf vas: Laat sak die voertuig heeltemal tot op die grond, terwyl die domkrag steeds as ʼn stut dien. Maak die moere so styf as moontlik – ʼn mens kan selfs op die moersleutel staan indien dit nodig is. Sodra die moere styf vasgedraai is, kan jy die voertuig laat sak en die domkrag verwyder. Moenie vergeet om die doppies weer terug oor die wielmoere te plaas nie. Bêre dan al die gereedskap wat jy gebruik het.

Toets die band: Voordat jy weer verder ry, is dit uiters belangrik om eers stadig te ry om seker te maak dat alles mooi vas is voordat jy begin versnel. Hou altyd by die voorgestelde spoedbeperking vir die noodwiel, gewoonlik 80 km per uur.

Herstel: Maak seker om so gou as moontlik by ʼn kundige uit te kom om die wiel te laat herstel of te vervang. Soms is dit moontlik om die band te herstel as die skade minimaal is, maar as die skade groot is, sal die band waarskynlik vervang moet word.

“As jy eerder nie jou hande wil vuil maak nie, kan jy altyd jou versekeraar se padbystanddiens skakel. Dit behoort die eerste stap te wees as jy onveilig voel, omdat hulle ook nooddienste kan ontbied indien nodig. Om ʼn band te kan ruil, is nietemin ʼn vaardigheid wat jou bemagtig, uit ʼn lelike penarie kan help en selfs jou lewe kan red.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek maak altyd die band reg met een van daai taai toutjies en pomp dit op met ‘n klein kompressortjie wat agter in my kar is. Daai toutjies hou vir ewig. Ek het een wat al 18000km en drie jaar gedoen het.

Jan Seerot ·

Laat ek net eers vra: Is dit die wiel wat jy omruil of die band? Buiteband teenoor binneband, wat oor die velling getrek is. Die hele ding is tog ‘n wiel.
Hierdie is darem ‘n ding wat jy as kind by jou pa geleer het. Liewe land, dit is ‘n eenvoudige proses.
Goed, dit gesê, ek verwag nie dat my fyn Skotse vrou in haar stywe denimpie dit moet doen nie. Maar deksels, ek het haar geleer hoe om dit te doen.
As jy jou sout werd is, jong man, moet jy uithaal en wys. My dogter sal dit self doen en jou daarna onder jou stert skop.

SjN ·

Die omruil van n spaarwiel moet n vereiste wees van die k53 toets.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.