S-Presso staan kop en skouers bó sy mededingers uit

Die Suzuki S-Presso. Foto: Verskaf

In die motorbedryf is baie dinge moontlik … met geld kan ʼn mens amper enigiets doen. Dink aan ʼn Lamborghini Urus … ʼn massiewe vierwielaangedrewe sportnutsvoertuig wat oor die 300 km/h kan haal. Dis verstommend. Maar terselfdertyd is dit amper minder indrukwekkend as om ʼn begrotingsbuksie van redelike gehalte te bou wat nie goedkoop voel nie.

Die Suzuki S-Presso is die goedkoopste splinternuwe tjor in Suid-Afrika. Ons het hom in Januarie 2020 in Indië gaan beloer, en ek was beïndruk. Ek was bekommerd oor sy prys – want ek was toe al oortuig daarvan: As hulle hom teen die regte prys kan bring, gaan hy soos soetkoek verkoop. Wel, ek kan met ʼn geruste hart sê die splinternuwe Suzuki S-Presso het selfs Suzuki Suid-Afrika se verwagtinge oortref.

Die Suzuki S-Presso. Foto: Verskaf

Dis ʼn oulike ontwerp, ʼn klein sportnutsie as jy wil. Meer regop, en beter grondvryhoogte om vir hom die hoër bestuursposisie te gee waarna almal só smag. Ek weet nie hoe nie, maar Maruti Suzuki in Indië se ingenieurs het hulle puik van hul taak gekwyt om ruimte te bied. Die beenruimte vir agtersittendes is indrukwekkend, én daar is ʼn billike kattebak.

Die S-Presso bied elektriese vensters voor, twee lugsakke met ABS en EBD, asook lugreëling. Die klankstelsel bied Android Auto en Apple CarPlay – ʼn moet in dié segment. Oorsese modelle kry Suzuki se SLDA-radio, maar teen die pryspunt is dit net nie moontlik nie.

Die Suzuki S-Presso. Foto: Verskaf

Dit bring my by die Suzuki S-Presso se troefkaarte. Eerstens, hoe hy ry … Suzuki kon nog altyd baie trots wees op sy enjins en die kalibrasie van die versneller en koppelaar. Sy karre ry regtig maklik, en die lugreëling het ʼn baie klein invloed op die enjin – selfs op die platorand. Dan het die S-Presso nog ʼn truuk in sy mou. Sy enjin is werklik gretig. ʼn Mens kan hom voorwaar hard ry, en hy kla nie. Suzuki kon die wringkragpiek laag hou, en die kW-piek lekker hoog – so, dit gee ʼn mens ʼn groot kragband om mee te werk. Dít – gepaard met ʼn goeie ratkas en lekker koppelaar – maak van die S-Presso ʼn droom in die verkeer, én die oop pad.

Die Suzuki S-Presso. Foto: Verskaf

Tydens my tyd met die S-Presso, as ek rustig is, kry ek 21 km/ℓ of 4.7 ℓ/100 km – en toe vat ek hom snelweg toe om te sien hoe hy hom op hoë spoed gedra. In Indië ry hulle bitter stadig – en ek wou weet hoe is sy stabiliteit en padhouvermoë. Lelike rukwinde skuif hom ʼn bietjie rond, maar teen 159 km/h hanteer die S-Presso baie beter as sy twee direkte mededingers – die Renault Kwid én die Datsun Go. Daar is merkbaar minder bakrol as met die Go, en die Kwid loop vreeslik rond op hoë spoed. Ná ek die sewe soorte wit waks uit die S-Presso’tjie gery het, is sy gemiddelde brandstofverbruik op 15.7 km/ℓ – steeds goed.

Is daar enige kwale? Persoonlik is ek nie gek na ʼn wieldop nie, so dalk kan ʼn mens mettertyd ʼn stel sierwieletjies opsit, en die bestuurder se sitplek kort beslis ʼn hoogteversteller. Verder – niks. Dit is ʼn eerlike rydingetjie, ʼn ware winskoop. En sy enjin en ratkas is lekkerder as die meeste ander 1.0-driesilinders in die mark, selfs dié wat R200 000 kos.

Die reeks lyk só:

Suzuki S-Presso 1.0 GL50 kW/90 Nm4.9 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

2 jaar/30 000 km-diensplan

R134 900
Suzuki S-Presso 1.0 GL+50 kW/90 Nm4.9 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

2 jaar/30 000 km-diensplan

R139 900
Suzuki S-Presso 1.0 S-Edition50 kW/90 Nm4.9 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

2 jaar/30 000 km-diensplan

R147 900
Suzuki S-Presso 1.0 GL+ outo50 kW/90 Nm4.9 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

2 jaar/30 000 km-diensplan

R152 900
Suzuki S-Presso 1.0 S-Edition outo50 kW/90 Nm4.9 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

2 jaar/30 000 km- diensplan

R160 900

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Celerio 1.0 GL50 kW/90 Nm4.7 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

2 jaar/30 000 km-diensplan

R162 900
Renault Kwid 1.0 Climber50 kW/91 Nm4.7 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-waarborg

Geen diensplan

R170 900
Datsun Go 1.2 Lux50 kW/104 Nm5.5 ℓ/100 km6 jaar/150 000 km-waarborg

Geen diensplan

R182 300

Tussen dié mededingers staan die S-Presso kop en skouers bó sy mededingers uit om twee redes. Hy is die goedkoopste, voel die beste én het ʼn tweejaardiensplan by … en jou eerste jaar se versekering is gratis. Ek kan aan geen rede dink hoekom ʼn mens nié een sou koop as jy in die mark is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Boerkind ·

O dierbaarheid, maar dit is loshande die lelikste voertuig op die pad!

Suzette ·

hehehe giggel ek nou – hy is eintlik oulik van lelikgeit.

Racheltjie Debeer ·

Nooit gesien nie, daar is baie ander leliker voertuie op die pad!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.