SA Bike Festival draai weer by Kyalami

SA Bike Festival (Foto: SA Bike Festival)

Wie onthou nog die Pretoria-skou? Die alles-in-een-skou waar jy beeste, karre en selfs ʼn nuwe stofsuier kon koop. Dit was voor selfone, so as jy verdwaal het, was jou enigste redding die BP-toring, die hoofuitsaaipunt van die skou. Daar het altyd huilende kinders rondgehang wat ná ʼn afkondiging weer met hulle bekommerde ouers herenig is.

Deesdae is skoue meer gefokus, met nuwerwetse terme soos “ekspo”. Daar is een vir bruide, een vir stokperdjies, vir die hengelaars, noem maar op. In Mei is dit die beurt van alles met twee wiele. Die South African Bike Festival word weer gehou die naweek van 25 tot 27 Mei by die legendariese Kyalami-renbaan. Maak maar ʼn nota, plak hom op die yskas en moenie hierdie een misloop nie. Nou in sy derde inkarnasie, beloof dit om weereens die hele spektrum van motorfiets-tendense te dek, en terselfdertyd ʼn heerlike dag saam met jou mense te wees.

SA Bike Festival (Foto: SA Bike Festival)

Laas jaar was daar meer as 20 000 entoesiaste teenwoordig en die fees bied vir almal, groot en klein, iets aan. Net soos laas jaar is daar verskeie vervaardigers wat hulle fietse beskikbaar gaan stel dat jy om die baan kan ry. Die besprekings open in Maart. As jy jou kaartjie gekoop het, sal jy in kennis gestel word wanneer en waar jy vir jou ʼn fiets kan bespreek. Bespreek maar vroegtydig, want hierdie aktiwiteit is baie gewild.

As jy iets spesiaals soek, dan is Jamie’s Italian VIP Experience dalk net die opsie om te kies. Van voorkeurparkering, komplimentêre drankies en afslag op verskeie items, klink hierdie ervaring alte heerlik.

Vanjaar is daar spesifiek voorsiening gemaak vir die kleinspan. Daar sal kleinkapasiteit- en elektriese motorfietsies beskikbaar wees om te ry, en die hele terrein gaan ʼn karnaval-atmosfeer hê.

SA Bike Festival (Foto: SA Bike Festival)

Laas jaar was daar toertjieryers wat vir die aand se opwinding gesorg het. #FMX FlightNight is weer terug vanjaar, so jy kan gerus tot laat bly en die skouspel geniet.

Sondag is daar geleentheid vir jou om met jou eie motorfiets om die baan te ry ten bate van liefdadigheid. Die South African Bike Festival ondersteun Ride for a reason – Claws and Paws en jou inskrywingsgeld gaan na hierdie waardige liefdadigheidsprojek. Jy kan ook bydra tot die Rambo blanket drive wat ná die fees na die omliggende gemeenskappe sal uitreik met komberse en kruideniersware. In Mei kruip die winter al nader, dus maak hierdie saak ook ʼn groot verskil in die lewe van mense.

Daar is verskeie pakette beskikbaar met pryse van R150 tot R950. Vir meer inligting, besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.