SA se goedkoopste motortjie opgeknap

Suzuki het oor die afgelope paar jaar vreeslik gewild geraak vir sy bekostigbare, betroubare karretjies. Die bekostigbaarste is die S-Presso.

Ons ken die S-Presso goed nadat ons hom die eerste keer onder hande gehad in sy tuisland, Indië. Die karretjie het in die tussentyd werklik gewild geraak op eie bodem.

ʼn Klein, regop karretjie en nou met sitplek vir vyf (dalk vier en ʼn half), en ʼn lekker kattebak. Daar is moderne luukshede soos elektriese vensters, lugreëling en Apple CarPlay of Android Auto met ʼn raakskerminligtingstelsel.

Daar is nie nét ʼn paar tierlantyntjies bygevoeg nie – daar is sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, stabiliteitsbeheer en twee lugsakke sowel as ISOFIX-monteringspunte. Indrukwekkend vir dié klas voertuig.

Onder die kap is ʼn nuwer Dualjet‑1.0‑driesilinderpetrolenjin. Hy bied dieselfde 49 kW en 89 Nm as die vorige enjin, maar brandstofverbruik is wesenlik verbeter tot 4,4 ℓ/100 km. Teen 4,4 ℓ/100 km en sy piepklein 27 ℓ-brandstoftenk bied die S-Presso ʼn reikafstand van 613 km. Teen vandag se petrolprys van R22,64 per liter sal dit R611,28 kos om hom vol te maak (of byna R1 per kilometer). Ek het die afgelope Paasnaweek my karavaan met ʼn Ford Everest V6 gesleep. Dit het my R3,40 per km gekos, en R1 608 om vol te maak.

Op die pad kan ʼn mens die opknappings in die S-Presso voel. Dis ʼn oulike buksie en die toevoeging van sierwiele rond die pakket baie mooier af. Die skoner ontwerp vertoon ook heelwat beter as sy voorganger.

Daar is egter een enkele kwaal. Die stuur draai nie self terug na nul grade toe nie. Daar is ʼn paar grade om nul waar die stuur heel vaag is en vir die S-Presso laat voel asof hy bietjie ronddwaal. Ek is oortuig dit is ʼn kalibrasieprobleem en kan reggestel word.

Ek sal die S-Presso só opsom: Dis die bekostigbaarste tjor in die land. Suzuki is al vir ʼn hele paar maande die derde grootste handelsmerk in Suid-Afrika wanneer dit by verkope kom. Suzuki bied ʼn 5 jaar/200 000 km-waarborg en ʼn diensplan teen dié prys. Indien die begroting knyp, kan ek aan geen rede dink hoekom mens nie na een sou kyk nie.

Die reeks lyk só:

Suzuki S-Presso 1.0 GL handratR165 900
Suzuki S-Presso 1.0 GL+ handratR173 900
Suzuki S-Presso 1.0 GL outoR179 900
Suzuki S-Presso 1.0 GL+ outoR187 900
Suzuki S-Presso 1.0 S-Edition handratR189 900
Suzuki S-Presso 1.0 S-Edition outoR203 900

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Celerio 1.0 GA49 kW/89 Nm4,4 ℓ/100km5 jaar/200 000 km‑waarborg

2 jaar/30 000 km‑diensplan

R178 900
Renault Kwid 1.0 Life50 kW/91 Nm4,9 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km‑waarborg

2 jaar/30 000 km‑diensplan

R184 999
Suzuki Swift 1.2 GA61 kW/113 Nm4,9 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km‑waarborg

2 jaar/30 000 km‑diensplan

R194 900

 

Tussen dié mededingers verkies ek die ontwerp van die Celerio bó die S-Presso, maar die S-Presso bied meer spasie in die binneruim. Indien die begroting effens gerek kan word, is die Swift beslis die beste kar hier met ʼn sterker enjin plus meer spasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.