Selfde prys, uiteenlopende voertuie

Mercedes-Benz. (Foto: Unsplash)

Mercedes-Benz het twee asemrowende voertuie in sy arsenaal. Albei is sportnutsvoertuie, maar albei het hul eie unieke benadering. Die een is ʼn vuurwarm sportmotor en die ander is ʼn uiters bekwame sportnutsvoertuig met wêreldberoemde 4×4-vernuf.

Die twee voertuie is Mercedes-AMG se GLE 63 S en Mercedes-Benz se G400d. Albei kos naastenby R2,9 miljoen. Kom ons vergelyk hulle:

Ontwerp:

Mercedes-AMG GLE 63 SMercedes-Benz G400d
4/55/5

 Die GLE 63 is ʼn mooi voertuig, maar moontlik ietwat ongeïnspireerd. Die G400d is ʼn fantastiese hernuwing van die oorspronklike Gelandewagen. Die G-klas is onmiskenbaar, oor die hele wêreld.

Binneruim:

Mercedes-AMG GLE 63 SMercedes-Benz G400d
4/55/5

 Die G-klas se binneruim is fantasties. Dit is hiperluuks. Die skerms wat al die inligting vertoon, is van ʼn fantastiese gehalte. Die GLE se paneelbord is nie dieselfde mooi ontwerp wat in die E-klas-sedan beskikbaar is nie. Die GLE se binneruim is wel effens meer ruim as dié van die G-klas. Albei voertuie vervoer sy passasiers in uiterste weelde.

Enjin, ratkas & dryfstelsel:

Mercedes-AMG GLE 63 SMercedes-Benz G400d
5/55/5

Albei voertuie kry volpunte in die afdeling. Die een het Mercedes se vuurvretende 4.0 V8 wat 466 kW en 850 Nm bied. 0–100 km/h neem ʼn blitsige 3,8 sekondes en hy is beperk tot 250 km/h. Sonder die elektroniese beperking hoort hy bitter naby aan 290 km/h te haal.

Die G400d is heelwat stadiger. Hy word deur Merc se 2.9 V6-diesel aangedryf. Hy bied 243 kW en 700 Nm. 0–100 km/h neem ʼn ratse 6,4 sekondes en die Gelandewagen sal voluit 210 km/h haal. Wat hy verloor in spoed, maak hy voor op in sy 4×4-vernuf, drie ewenaarslotte (agter, middel en voor) en al.

Ritgehalte, padhouvermoë & veiligheid:

Mercedes-AMG GLE 63 SMercedes-Benz G400d
5/55/5

Waar die GLE ekstra punte wen in die padhouvermoë-afdeling, kry die Gelandewagen weer punte terug in die ritgehalte-afdeling. Die GLE bied nege lugsakke en die G sewe, maar met twee meer as opsionele ekstra. Albei voertuie het ʼn volle suite aktiewe veiligheidstelsels soos noodremhulp, baanhulp en blindekolwaarskuwing. Dit is benewens standaardfunksies soos sluitweerremme, elektroniese remkragverspreiding, vastrap- en stabiliteitsbeheer en dies meer.

Opsomming:

Mercedes-AMG GLE 63 SMercedes-Benz G400d
18/2020/20

Geen voertuig is perfek nie, maar sjoe, die G400d is bitter naby. Albei voertuie kos dieselfde én dra dieselfde waarborg en diensplan. Waar die GLE punte verloor, is die onvermydelike redenering dat ʼn sportmotor nie ʼn SNV moet wees nie. Ek dink die G400d is meer bruikbaar, vir ʼn groter tydgleuf en vir meer mense. Sy waardevermindering is ook beter as met amper enige ander Mercedes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.