Sewe sitplekke teen ʼn spotgoedkoop prys

Die Renault Triber. Foto: Verskaf

Nuwe motors is peperduur. Met die rampspoedige wisselkoerse tans gaan dit egter net slegter word vir Suid-Afrikaners. Die afgelope paar jaar het ons ʼn magdom goedkoper rygoed gesien wat van Indië af hierheen gevaar het … nie altyd met die gewenste resultate nie.

Gelukkig is die nuutste buksies wat vanuit Indië hierheen uitgevoer word al van baie beter gehalte, en ware mededingers in hul segmente. Een só ʼn buksie is die splinternuwe Renault Triber. Dit is ʼn sewesitplek- veeldoelige motor wat beskikbaar is vanaf R171 900. Die Triber het een mededinger, en dis die Datsun Go+ wat ook in Indië vervaardig word.

Die vraag wat by my opkom, is of mens daarvoor moet val net omdat dit beskikbaar is?

Die Renault Triber. Foto: Verskaf

Indien jy sewe sitplekke nodig het, en jy’s op ʼn baie stywe begroting – ja wat. Die Triber is ʼn mooi tjor. Hy lyk goed afgewerk en is heel aantreklik. Die binneruim voel regtigwaar baie groter as wat sy buiteproporsies wys en is heel gemaklik. As mens ouer motors in ag neem, is die Triber tog heel luuks met CarPlay en Android Auto, elektriese vensters, kragstuur en dubbelsone-lugreëling. Die agterste lugreëling sit met ʼn aparte knoppie aan en af. Baie oulik vir ons kokende somers.

Dit is by die enjin en ratkas waar dinge effe skeefloop. ʼn 1.0-driesilinderpetrolenjin is piekfyn vir só ʼn karretjie – maar dan moet hy perfek gekalibreer wees. Die Triber sʼn is nie.

Die Renault Triber. Foto: Verskaf

Die verhouding tussen die versneller, enjin en koppelaar is effe uit. Mens kan die Triber egalig ry, maar dan moet mens bitter sag met hom werk en die omwentelinge baie laag hou. Ongelukkig beweeg Suid-Afrika se verkeer baie vinniger as Indië sʼn, en dis nie altyd moontlik nie. Daar kom wel ʼn turboaangejaagde enjin binnekort, en hy sal waarskynlik ʼn sterker koppelaar hê – dalk los dit die probleem op, maar dit sal kom teen ʼn prys. Die enjintjie bied 52 kW en 96 Nm. Hy sluk saggies teen 5.5 ℓ/100 km aan die brandstof ook.

Die Renault Triber. Foto: Verskaf

Indien mens rustig is, toer die Triber eintlik heel lekker. Hy ry sag genoeg, en is gemaklik genoeg. Hy kan 120 km/h met ʼn glimlag handhaaf – maar hy is by 100 km/h op sy gelukkigste. Ritgehalte is soepel en daar is ʼn bietjie bakrol – maar niks slegs nie. Padhouvermoë is in die kol vir só ʼn tipe karretjie, mens gaan mos nie pylvakrenne toe met hom nie. Die Triber het ook nie ʼn slegte veiligheidspesifikasie nie met twee lugsakke, ABS en EBD.

My opsomming is heel maklik, al stry ek met myself. Ek dink ek verwag net te veel van die enjin en ratkas … maar aan die ander kant het ek al met ʼn Suzuki S-Presso gery, en sy enjin en ratkas is perfek – ook ʼn vyfspoedhandrat op ʼn 1.0-driesilinder, so dit kán gedoen word. Sy prys is nie sleg nie, en hy’s mooi. Ek dink wel dat vir diegene wat kinders moet vervoer, gaan die Datsun Go+ se outomatiese ratkas ʼn groot voordeel bied.

Die reeks lyk só:

Renault Triber 1.0 ExpressionR171 900
Renault Triber 1.0 DynamiqueR181 900
Renault Triber 1.0 PrestigeR196 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-waarborg en 2 jaar/30 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

 Datsun Go+ 1.2 LuxDatsun Go+ 1.2 Lux outo
Enjin1.2-driesilinder1.2-driesilinder
Krag50 kW/104 Nm57 kW/104 Nm
RatkasvyfspoedhandratPalwisseltransmissie-outo
Brandstofverbruik5.5 ℓ/100 km5.0 ℓ/100 km
Waarborg & diensplan6 jaar/150 000 km-waarborg

Diensplan opsioneel

6 jaar/150 000 km-waarborg

Diensplan opsioneel

 R177 000R192 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.