Sewe sitplekke vir net meer as R160 000

Die Renault Triber. Foto: Verskaf

Renault het pas sy allernuutste model in Suid-Afrika bekendgestel.

Aanvanklik het ek gedink die Renault Triber is op die Kwid gegrond, maar dit is heeltemal onwaar. Die Triber word op sy eie splinternuwe platform gebou. ʼn Platform wat hy met nóg ʼn model sal deel wat later in 2020 in Indië bekendgestel word.

Wat is die Triber?

Die Renault Triber. Foto: Verskaf

Die voorlegging het ʼn klomp praatjies ontlok oor sportnuts en allerhande sulke dinge, maar dis nie ʼn sportnuts nie. Dink eerder aan ʼn klein, regop stasiewa met sewe sitplekke. Nie heeltemal verskillend van Honda se BR-V nie.

Waar word dit gebou?

Die Triber word in Indië in die Chennai-aanleg gebou. Renault het reusevordering gemaak in die Indiese aanvanklikegehaltestudie wat JD Power doen. Renault lê tans derde agter ʼn handelsmerk soos Hyundai (wat dit al vir ʼn paar jaar wêreldwyd gewen het).

Binneruim

Die Renault Triber. Foto: Verskaf

Die Triber is ʼn fantastiese konsep. Daar is drie rye sitplekke – sewe sitplekke altesaam. Die kajuit voel werklik ruim. Daar is ʼn goeie inligtingstelsel met CarPlay en Android Auto, asook driesonelugreëling vir die voorste, middelste en agterste ry sitplekke. Teen die pryspunt is dit fantasties. My enigste kwaal is dat die derde ry sitplekke nie rukstop-veiligheidsgordels het wat self oprol nie.

Enjin

Die Triber maak gebruik van ʼn nuwe 1.0- atmosferiese driesilinderpetrolenjin. Die enjin bied 52 kW en 96 Nm. Renault beweer ʼn brandstofverbruiksyfer van 5,5 ℓ/100 km op die gekombineerde siklus. Ons het die arme Triber op die bekendstellingsroete in Natal uitermatig hard gery, bultop en bultaf … So, die beste wat ek kon haal, was 12,2 km/ℓ oftewel 8,1 ℓ/100 km – maar dit is beslis nie die Triber se natuurlike habitat nie, én mens kan dit beslis vat as die swaarste wat ʼn Triber óóit sal wees. Kwaai bulte kan vir die Triber woes raak, maar ʼn mens moet dan net bietjie meer geduldig wees. Wat die bulte ook kwaai maak, is die feit dat van die ratverhoudings effe ver uitmekaar is. Daar is wel ʼn oplossing wat in 2021 kom, en dis ʼn turboaangejaagde enjin vir die Triber.

Ritgehalte en padhouvermoë

Die Renault Triber. Foto: Verskaf

Die Triber ry lekker sag op ondeunde paaie. Die vering is baie soepel. Die ingenieurs kon dit wel óók regkry dat daar amper geen bakrol is nie. Een ding wat ek wel sal sê, is – ons het die Triber baie vinniger gery as wat Indiese ingenieurs dink enige mens op aarde ry. So, as ʼn mens deur draaie gaan teen 120 km/h in die Natalse Middelland, dan voel die agterent nogal lewendig. Ek is wel oortuig dat geen koper dit ooit sal ervaar nie.

Opsomming

Die Renault Triber is ʼn puik produk teen ʼn fantastiese prys. Indien jy sitplekke soek (én op ʼn begroting), is ek oortuig dat daar nie tans ʼn beter oplossing in die mark is nie. Gaan toetsbestuur self een, jy is dalk aangenaam verras.

Die reeks lyk só:

Renault Triber ExpressionR164 900
Renault Triber DynamiqueR174 900
Renault Triber PrestigeR189 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-waarborg en 2 jaar/30 000 km-diensplan.

Ons sal weer binnekort tyd met die Renault Triber deurbring en sien hoe hy hom op die Hoëveld in die verkeer en daaglikse roetine gedra. Ons sal hom dán ook met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

E ·

Ek het net exited geraak, toe bid ek dis nie ‘n Renault nie (of derglike ander visblikkie wat deesdae in SA verkoop word nie. ) Mense ek bly maar by ons SA geboude motors. VW, Ford, Mazda, BMW, Mercedes.

Wielspore ·

Lyk na ‘n goeie koop vir ouers met jong kinders op skool, kan die maats saamry na sport geleenthede, skool toe en terug ….
Lekker ry.

andre ·

Dis jammer dat SA vervaardigers nie so n motor teen hierdie prys kan beskikbaar stel nie .Indie se produktiwiteit en arbeidskoste maak dit moontlik .Hierdie is n ware winskoop en ideaal vir ons swakkerwordende paaie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.