Sewesitplek-sportnutse – watter een is beter?

Ons het ʼn geruime tyd terug twee sportnutsvoertuie uitgetoets: Hyundai se Santa Fe en Ford se Everest Sport.

Albei bied sewe sitplekke, maar het uiteenlopende benaderings. Hyundai se Santa Fe maak gebruik van ʼn skulpromp waaraan alles vasgebout word, soos die dryfstelsel en dies meer. Die Everest is op sy Ranger-boetie gegrond, en soos met die bakkie maak hy gebruik van ʼn romp-op-raam-styl en ʼn leerraamonderstel.

Ontwerp:

Ford Everest Sport 2.0 SiT 4WD XLT SportHyundai Santa Fe 2.2D 4WD Elite
4/54/5

Albei voertuie het ʼn aantreklike ontwerp. Die Everest het vir my ʼn meer konserwatiewe voorkoms en die Santa Fe is meer gewaagd om by hul nuwe ontwerptaal te pas. Die Santa Fe steek sy proporsies mooi weg en selfs die Everest is glad nie lomp nie.

Binneruim:

Ford Everest Sport 2.0 SiT 4WD XLT SportHyundai Santa Fe 2.2D 4WD Elite
5/54/5

Hier loop die Everest skrams voor. Die binneruim van die Everest bied fantastiese spasie, goeie beenruimte in die middelste ry en die derde ry is nie te versmaai nie. In die Santa Fe voel die derde ry effens meer knap en albei voertuie het nie ʼn enorme kattebak met die derde ry oop nie, maar vou daai ry toe in die vloer en mens sit met ʼn enorme bagasieruim. Die bougehalte op albei voertuie is indrukwekkend, maar die Everest se materiale voel meer luuks as dié in die Santa Fe. Albei voertuie het fantastiese spesifikasievlakke met al die moderne luukshede wat mens sou verwag van dié klas voertuig.

Enjin, ratkas en dryfstelsel:

Ford Everest Sport 2.0 SiT 4WD XLT SportHyundai Santa Fe 2.2D 4WD Elite
4,5/54/5

Mens speel hier tussen die groot manne. Hyundai se 2.2-viersilinderturbodiesel is ʼn juweel. Hy bied 148 kW en 440 Nm … werklik puik. Hy is selfs lekker lig op brandstof teen 7,9 l/100 km en maak gebruik van ʼn fantastiese 8-spoed-wringkragomsitter- outomatiese ratkas. Die Everest maak gebruik van Ford se 2.0-enkelturbodieselenjin wat 132 kW en 420 Nm bied – lekker sterk. Ford se 10-spoed-ratkas word gebruik en stuur krag aan al vier wiele. Ford sê sy Everest kan 7,1 l/100 km handhaaf, maar in werklikheid is die Santa Fe ligter op brandstof as die Ford. Die Everest kry ʼn ekstra halfpunt danksy sy sleepvermoë. Die Santa Fe kan 2,5 ton trek, maar die Everest ʼn indrukwekkende 3,1 ton – en Ford se teenswaaibeheer is ʼn juweel as mens sleep.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid:

Ford Everest Sport 2.0 SiT 4WD XLT SportHyundai Santa Fe 2.2D 4WD Elite
4,5/54/5

Die rit is effens beter in die Santa Fe danksy sy skulpraam. Ek sal wel byvoeg ná ʼn onlangse sloertoer in ʼn Everest dat sy padhouvermoë klasleidend is vir ʼn romp-op-raam-onderstel. Die Everest se padhouvermoë in die reën het my werklik verbaas. Die Santa Fe spog met ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap- en stabiliteitsbeheer asook remhulp. Die Ford bied dieselfde, maar een ekstra lugsak vir ʼn totaal van sewe.

Opsomming:

Ford Everest Sport 2.0 SiT 4WD XLT SportHyundai Santa Fe 2.2D 4WD Elite
18/2016/20

Albei voertuie is werklik goeie voertuie. Die binneruim van die Everest voel effens luukser, bied bietjie meer spasie en kan meer sleep. Daarom oes hy meer punte in.

Die twee vergelyk só:

 Ford Everest Sport 2.0 SiT 4WD XLT SportHyundai Santa Fe 2.2D 4WD Elite
Enjin2.0-viersilinderturbodiesel2.2-viersilinderturbodiesel
Krag132 kW/420 Nm148 kW/440 Nm
Ratkas10-spoed-outo8-spoed-outo
Brandstofverbruik7,1 l/ 100 km7,9 l/ 100 km
Lugsakke76
Diensplan & waarborg4 jaar/120 000 km-waarborg

Diensplan opsioneel

5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg

6 jaar/90 000 km-diensplan

PrysR895 900R734 000

As mens die prys ook in ag neem, selfs met die diensplan wat by die Ford nie ingesluit is nie weens verbruikers wat nou vrye keuse het oor waar om voertuie onder waarborg te laat nasien, is die Ford steeds ʼn winskoop en sal dit my keuse wees aangesien dit perfek werk vir my groot gesin en woonwa sleep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Hyundai moet nog net leer om ‘n enjin te maak wat langer as 3 jaar hou, dan is hulle perfek.

Kirst ·

Amper R900 000 ‘n winskoop! My beursie is duidelik baie platter as die skrywer s’n. Ek ry nog met my 2011 Everest wat ek in 2014 met 78 000km op gekoop het en sal moet probeer om dit te laat hou tot ek aftree oor 15 jaar en hopelik ‘n aftree ryding kan koop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.