Simola se heuwelkonings gekroon  

Deur Leo Kok

(Foto: Verskaf)

Drie nuwe Heuwelkonings is die afgelope naweek in die Simola-heuwelren in Knysna gekroon.

Die Simola-heuwelren is in 2009 deur ʼn groep motorsport-entoesiaste begin.

Daardie jaar het Sarel van der Merwe, ook bekend as SuperVan, kom deelneem en het hy ʼn tyd van 43,040 sekondes op die 1,9 km kronkelpad teen die Simola-heuwel opgestel. Hy het in ʼn V8 Ford Mustang-baanmotor gejaag.

Vandag lyk dinge heel anders. Die hele dorp word op horings geneem en reuseblinkvragmotors met doelgeboude heuwelren-motors en groot tegniese spanne kom deelneem.

(Foto: Verskaf)

Vanjaar het André Bezuidenhout boonop ʼn nuwe baanrekord opgestel met ʼn tyd van 34,965 sekondes en ʼn gemiddelde spoed van 195,624 km/h, dit is amper 10 sekondes vinniger as SuperVan se eerste wentyd. Dit is ʼn ongelooflike prestasie, aangesien hierdie heuwelren, anders as ander bekende heuwelrenne soos die Amerikaanse Pikes Peak, met ʼn stilstaande wegtrek begin.

Bezuidenhout neem deel in ʼn doelgeboude heuwelren-motor – ’n Gould GR55 – wat in Brittanje gebou is.

Die Simola-heuwelren is vanjaar sonder toeskouers gehou om aan alle Covid-19-protokolle te voldoen. Daar was altesame 75 motors op die wegspringrooster vir Saterdag se oefen- en uitdunrenne en die Sondag se kwalifiserings- en finale top-tien.

(Foto: Verskaf)

Soos gewoonlik het die organiseerders ook Vrydag ʼn veteraanmotor-heuwelren gehou. Dit was ʼn unieke geleentheid om veteraanmotors wat wissel van ʼn 1935 Austin 7 met Ulster-enjin tot ʼn 1989 Minardi Formule 1 renmotor in aksie te sien.

Vrydag se ren is deur die bekende renjaer Franco Scribante gewen. Scribante het in ʼn 1972 Chevron B26 gejaag. Die Scribante-renspan het egter die ou V8 enjin vervang met ʼn doelgeboude V8-enjin wat saamgestel is van twee viersilinder Suzuki Hayabusa-enjins.

Scribante en die F1 Minardi van Andre Schofield het mekaar behoorlik die stryd aangesê vir die titel as die Classic Conqueror, en laasgenoemde het in die finale ronde die vinnigste tyd opgestel. Ongelukkig het die baanamptenare beslis dat Schofield ʼn hoek gesny het (slegs haarfyn, maar steeds) en aangesien dit ʼn doodsonde in heuwelrenne is, het sy laaste ren nie getel nie.

Dit het beteken dat Scribante sy sesde Classic Conqueror-titel na sy blink ren-vragmotor kon neem.

(Foto: Verskaf)

Daar was natuurlik iets anders wat in Scribante se vragmotor geskuil het – sy monsteragtige R35 Nissan GT-R wat na gerugte 2 000 perdekrag lewer en so vinnig teen die heuwel opjaag dat hy die agterste drukvlerk van sy Porsche-renmotor teen hierdie GT-R se neus moes vasmaak om vir hom genoeg afwaartse drukkrag te gee.

Saterdag en Sondag het die monsters van die moderne Simola-heuwelren aangetree. In teenstelling met die padmotors en sporadiese renmotors van Sarel van der Merwe se era, word die King of the Hill-titel nou beding deur tientalle gemodifiseerde GT-R’s, Lamborghini’s, Lotus Exige- renmotors met Ferrari- en GT-R-enjins en doelgeboude heuwelren-renmotors soos die Gould van Bezuidenhout.

Dit is juis om hierdie rede dat die organiseerders van die heuwelren reeds in 2016 die King of the Hill-titel verdeel het in ʼn algehele wenner en ʼn standaard-supermotor-wenner. In 2017 is dit verder verdeel tussen enkelsitplek doelgeboude ren- en sportmotors, opgewarmde padmotors (sogenaamde saloon cars) en ongemodifiseerde pad- en sportmotors.

(Foto: Verskaf)

Met sy ongelooflike tyd van 34,965 sekondes het André Bezuidenhout geen mededinging gehad nie en kon hy die King of the Hill-trofee vir doelgeboude renmotors vir die vierde agtereenvolgende keer omhoog lig. (Neem in ag dat die laaste heuwelren in 2019 gehou is, weens die Covid-19-pandemie).

Die enkelsitplek-ren is wel oorheers deur Bezuidenhout, maar daar was heelwat om te sien. Twee renmotors wat veral uitgestaan het, was die Suzuki-gedrewe Radical SR1 en XTREM Racing Buggy. Eersgenoemde word ook deur ʼn Hayabusa-superfiets-enjin aangevuur (ʼn gewilde keuse onder die enkelsitplek-renmotors) en die laasgenoemde het ʼn GSX-R600-enjin in gehad.

Suzuki het self hierdie twee renjaers – Devin Robertson en Megan Verlaque – ondersteun en het as borg vir die heuwelren ingetree om hulle te help om die baanrenne op die internet uit te saai. Hulle het op die koop toe ook hul nuwe 2022 Hyabusa aan die renjaers gewys. Hierdie fiets word tans bekend gestel, en die eerste twee besendings op die water is reeds uitverkoop.

(Foto: Verskaf)

In die klas vir gemodifiseerde padmotors was daar ʼn titaniese stryd tussen die twee voormalige kampioene – albei in GT-R’s. Scribante se monster GT-R is die indrukwekkendste en hy was die eerste motordeelnemer om vinniger as 40 sekondes te jaag tydens die uitdunrondes. Hy het natuurlik ook Vrydag reeds die hele dag teen die heuwel opgejaag met sy Suzuki-gedrewe Chevron, so sy “oog was in”, soos hy gespot het.

Baard het gesukkel met petrol-toevoerprobleme en ʼn arme tegnikus moes gaan onderdele haal in Johannesburg om reg te wees vir Sondag se uitdunne.

Sondag het Scribante én Baard ʼn paar goeie rondes en ʼn paar slegte rondes gehad. Hierdie GT-R-supermotors word so ver gemodifiseer om die meeste moontlike krag te lewer dat hul later soos fynbesnaarde renperde is. Soms is hulle die vinnigste monsters op die baan, en niemand kan kers vashou nie, en soms wil hulle beswaarlik van die lyn af kom.

(Foto: Verskaf)

As agtergrond moet ʼn mens onthou dat slegs die laaste heuwelren-ronde geld. So al het jy die beste rekordtye tydens die oefen- en uitdunrondes opgestel het, is jou prestasie (en senuwees) in die laaste ren van die dag al wat tel.

En dit is waar Pieter Zeelie toe sy staal wys.

Zeelie is welbekend as ʼn gedugte renjaer in sy gemodifiseerde Toyota MR2, maar niemand het geglo hy kan Baard, Scribante en die ander voorlopers uitstof nie. Dié renjaers het immers almal meer as ʼn duisend perde voor die wa ingespan.

Deur die loop van die laaste dag het mense egter meer en meer na Zeelie se tye gekyk. Hy was blitsig, het geen voet verkeerd gesit nie en het ronde na ronde verbeter.

In die laaste ronde van die dag het Zeelie aangetree saam met die ander vinnigste deelnemers vir die top-tien uitklopren vir die gemodifiseerde Motor King of the Hill-titel, maar alle oë was steeds op die monster-GT-R’s.

(Foto: Verskaf)

Zeelie het voor die GT-R’s weggetrek en het ʼn goeie tyd van 40.402 sekondes opgestel. Daarna was dit Baard se beurt. Sy kopsere was nie verby nie en die motor wou nie die nodige krag lewer nie. Sy tyd van 40.829 was steeds vinniger as die tyd wat hy vir sy oorwinning in 2011 opgestel het, maar vanjaar was dit slegs die vyfde vinnigste.

Dit het die deur oopgelaat vir Scribante, wat die 2019 Heuwelren in dieselfde kar en kategorie gewen het. In die hitte van die oomblik het hy die verkeerde rat gehaak en vir ʼn sekonde “het dit gevoel of ek ʼn ratkas vol neutrale ratte gehad het”. Sy tyd was 40,552 sekondes.

Dit het Zeelie die nuwe King of the Hill- kampioen gemaak en hom beloon vir twee dae se harde en foutlose jaagwerk.

(Foto: Verskaf)

In die laaste kategorie (ongemodifiseerde motors) was die mededinging ewe straf. Daar word dikwels geskerts dat mans en vroue slegs een keer in ʼn ongemodifiseerde motor deelneem, waarna die gogga byt en hulle begin geld en tyd bestee om hul motors vinniger te maak.

Aan die einde van die ren is hierdie kategorie gewen deur JP van der Walt in sy Porsche 911 GT3 RS. Hy het vroeër die dag homself in ʼn draai misgis en tussen die bome beland, maar die ander renjaers het bygestaan met onderdele en bande en hy kon sy kategorie wen in ʼn tyd van 46,807 sekondes.

Die Simola-heuwelren keer volgende jaar heel moontlik terug op sy tradisionele tyd, naamlik die eerste naweek in Mei. Tot dan is die heersende 2021 Konings van die Simola-heuwel André Bezuidenhout, Pieter Zeelie en JP van der Walt.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.