Skoonmaakgoed vir jou motorfiets

(Foto: Brian Cheyne)

As ek motorfietse kry om te toets, kry ek hulle skoon en vol brandstof. Dit is ook hoe ek verkies om hulle terug te besorg. Die brandstof is die maklike deel, maar van kar was en motorfiets was, het ek nog nooit juis gehou nie. Ek doen dit maar uit pligsbesef.

En so kom dit toe dat ek my lot bekla by Mercia Jansen, areabestuurder vir Motul in Suidelike en Oos-Afrika. Sy bied toe aan om vir my ’n produk of twee te stuur wat my lewe makliker behoort te maak. Ek was egter nie voorbereid vir die pakkie wat hier aangekom het nie. Goeie Griet, die mense by Motul dink aan alles! Daar is vele produkte om jou fiets mee te was, en selfs twee botteltjies vir jou valhelm.

Vir jou fiets

(Foto: Brian Cheyne)

Motul het ’n hele rits produkte wat elke deel van jou fiets kan skoonmaak. Motul se Motowash is ’n produk wat jy net aanspuit en wag. Dit verwyder die meeste vuilheid en al wat dan kort, is ’n tuinslang en jy is so te sê klaar. Voor jy egter daarmee wegspring, raai ek Motul se Insect Remover aan. Goggas kan nogal ’n mens se fiets bemors. Hierdie produk maak gou werk van daardie droë insekkarkasse op jou windskerm. Om jou wiele skoon te kry, het hulle ’n doelgemaakte wielskoonmaker.

Vir die verfwerk het Motul twee produkte: een vir mat-verf (dof) en een vir glans-verf. Daar is selfs ’n doelgemaakte skoonmaakmiddel vir jou saal. Sou jy ’n krappie of twee op jou fiets opmerk, kan jy dit met Motul se Scratch Remover uitpolitoer.

Vir jou valhelm

(Foto: Brian Cheyne)

Jou valhelm is jou grootste veiligheidsitem en jy kan nie sommer enige skoonmaakmiddel gebruik om dit te was nie. Motul het nie net ’n produk om jou valhelm buite skoon te maak nie, maar selfs een om die binnekant weer vars soos ’n lenteblommetjie te kry. So, as jou pletterpet ruik soos ou skilfers en slegte sjampoekeuses, dan is hierdie produk net vir jou! Wees net versigtig om nie van die produk aan die binnekant van jou helm se skerm te kry nie. Jy gaan sukkel om die pad raak te sien!

Vir jou hande

(Foto: Brian Cheyne)

As jy jouself nou goed afgesloof het om jou fiets te was, dan het Motul ook ’n handreiniger.

Die meeste motorfietswinkels verkoop Motul se reeks produkte; gaan loer dus gerus op die webwerf vir jou naaste Motul-handelaar. Nou moet hulle nog net ’n botteltjie maak waaruit ’n klein mannetjie spring wat die fiets namens my was, dan sal die reeks volledig wees!

(Foto: Brian Cheyne)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
SjN

Elbow grease en seep maak enige fiets silwer skoon.

Boerkind

Ek gebruik jare lank Motul olie vir my fietse asook hul ketting smeermiddels… nogal redelik duur geword…