Skryf nou in vir 2020 se Honda Quest True Adventure

Foto: Honda

Ek het by die onlangse bekendstelling van die nuwe Honda Africa Twin met twee van verlede jaar se deelnemers gesels en hierdie kompetisie is veel meer as net ’n toets van jou ryvernuf. Laasjaar se wenner het my vertel van die besondere bande wat hy op hierdie kompetisie gesmee het.

Honda is op soek na ware motorfiets-avonturiers in suidelike Afrika. Die Quest gaan oor spanwerk, so as jy goed in ’n span kan werk, en tog leiding kan neem waar nodig, dan moet jy dit oorweeg. Die kompetisie is oop vir mans en vroue.

Foto: Honda

Quest is nie ’n resies of ’n rustige kuier om ’n kampvuur nie. Dit gaan oor uithouvermoë en aanpasbaarheid. Deelnemers word onder andere gemeet aan hulle ryvernuf, meganiese vaardigheid en hoe hulle vaar in die uitdagings wat aan hulle gestel word. Ek het nou al die nuwe CFR 1100 Africa Twin gery, en die fiets behoort darem die ry gedeelte makliker te maak.

As jy kans sien, kan jy op hulle webtuiste gaan inskryf. Nadat die inskrywings ontvang is, sal Honda Suid-Afrika en Specialised Adventures 30 persone kies om die uitdunne by te woon. Vanjaar se uitdunne word van 10 tot 12 Maart in Kaapstad aangebied. Dit is baie belangrik dat jy wel vir die uitdunne beskikbaar is; die koste om tot in Kaapstad te kom, is vir jou eie rekening.

Foto: Honda

Tydens die uitdunne sal 14 finaliste gekies word wat dan aan ’n 2 500 km-ekspedisie sal deelneem wat oor nege dae strek. Dit vind plaas in die Noord- en die Wes-Kaap vanaf 2 April.

As jy en jou spanmaat die kompetisie wen, wen julle nie net die titel van Honda Quest True Adventure 2020 nie, maar kan julle ook die Africa Twin waarmee julle deelgeneem het, huis toe vat!

Meer besonderhede en die inskrywingsvorm is beskikbaar by www.quest-trueadventure.com.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 23 Februarie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.