Sleeptoets: Tow-reg?

Die nuwe Volkswagen Touareg. Foto: Verskaf

Sedert die bekendstelling van die Volkswagen Touareg in 2002 is daar ʼn alewige gestryery oor hoe presies die naam uitgespreek word. Ek het dit só, in ʼn Ingelse aksent: tour – regg. Ek dink wel dat ek my uitspraak van die naam gaan verander na: tow – rig. Want magties, die Volkswagen Touareg kan ʼn woonwa rekmerke sleep.

Ek praat van die jongste VW Touareg 3.0 V6 TDI Luxury. Dit is Volkswagen se derde Touareg, en is groter dog ligter as sy voorganger. Daar is slegs twee spesifikasievlakke tans in Suid-Afrika beskikbaar, Luxury en Executive. Albei geniet dieselfde romerige 3.0 V6 TDI-turbodieselenjin wat 190 kW en 600 Nm bied. Volkswagen beweer ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 7.1 ℓ/100 km om die gekombineerde siklus – ek dink dit is heel haalbaar. Die Touareg se topspoed is ʼn indrukwekkende 235 km/h … sonder die woonwa, ja.

Die nuwe Volkswagen Touareg. Foto: Verskaf

Die binneruim van die nuwe Touareg is die mees gevorderde Volkswagen van dié era. Die uitleg is vir my pragtig en skoon, sonder te veel fieterjasies wat die paneelbord bederf. Al die skerms is maklik leesbaar en die instrumente se ontwerp vir my mooi. Ek sal graag die Executive model se digitale intrumentepaneel wil sien om te vergelyk met die analoogtipes in die Luxury-model.

Die sitplekke is elektries verstelbaar, en uiters gemaklik en luuks. Die voorste sitplekke kan verhit óf verkoel word, nes jy verkies. Die panoramiese sondak gee die binneruim ʼn uiters ruim gevoel as die skerm oop is. In die nag gee die ambiëntbeligting die binneruim ʼn sagte gloed, heel mooi.

Die nuwe Volkswagen Touareg. Foto: Verskaf

Elke denkbare veiligheidstelsel is in die Touareg te vinde. ʼn Lieflike funksie vir woonwa sleep is die aanpassende spoedbeheer. Mens stel dit op jou verlangde spoed, en indien daar ʼn motor voor jou stadiger ry, sal die spoedbeheer self die voertuig se spoed verminder in ooreenstemming met die ander voertuig. Sodra daai voertuig of jy skuif – dan versnel die voertuig self weer tot die verkose spoed. Daar is min pad en windgeraas wat by die kajuit indring, en die isolering tussen die enjin- en binneruim is baie goed, mens kan skaars die enjin hoor as mens op die snelweg toer.

Die nuwe Volkswagen Touareg. Foto: Verskaf

Die nuwe Touareg ry op lugvering, so die ritgehalte is regtig soepel. Hobbels en slaggate stamp nie deur tot in die kajuit van die voertuig nie. Dit is ook te danke aan die klein (in vandag se standaarde) 19″-wiele met ʼn behoorlike bandprofiel. Padhouvermoë is baie beter as wat mens van so ʼn groot voertuig verwag – dit is te danke aan verskeie redes. Een daarvan is dat daar baie aluminium in die Touareg se bakwerk gebruik word, so die voertuig is lekker lig. ʼn Ander rede is dat die Touareg sy platform met die Porsche Cayenne deel – en daar moet die struktuur baie meer krag en stres baasraak.

Die nuwe Volkswagen Touareg. Foto: Verskaf

Mens pas jou sleepstyl aan by die voertuig waarmee jy sleep, en die sleepwa of woonwa wat gesleep word. Ek’t my 1992 Sprite SuperSport nou al duisende kilometers gesleep, van hoek tot kant in Suid-Afrika. Ek’t hom nou al met klomp verskillende voertuie en voertuigtipes gesleep – van bussies tot bakkies, klein en groot sportnutse. Ek verkies steeds hoe ʼn bakkie se agterste vering met ʼn woonwa werk, maar die enjin-en-ratkaskombinasie van die Touareg is onmiskenbaar. Die 190 kW en 600 Nm sleep ʼn woonwa uit ʼn tolhek asof die oord probeer weghol. Ek’t altesaam so 260 km gesleep, teen 120 km/h, behalwe waar die wind gewaai het – daar het ek spoed verminder tot 100 km/h. Die gemiddelde brandstofverbruik was ʼn billike 13 ℓ/100 km. Heel in die kol vir daai spoed.

Die Touareg is een van die min passasiersvoertuie wat gegradeer is om 3.5 ton te sleep. Dit is te danke aan vierwielaandrywing, die sterk wringkrag van die V6 gepaard met sy 8-spoed- outomatiese ratkas en ʼn nuwe sleepstang wat elektries toevou. Dié trekstang kan ʼn 4-fietsrak akkommodeer. Die Touareg maak sleep nóg makliker met die Trailer Assist. Mens gebruik die parkeerhulp, en die skakelaar vir die elektriese spieëls om te stel waar die sleepwa heen moet gaan, los die stuurwiel en die voertuig stuur self die sleepwa. Baie slim. Kyk hier hoe werk dit:

Die Touareg is nie goedkoop nie, maar dit is ʼn uiters luukse skouperd. Dit is mooi, sonder om uitspattig te wees. Eish, maar daai enjin is net te lekker …

Die reeks lyk só:

Volkswagen Touareg 3.0 V6 TDI 190 kW Luxury190 kW/600 Nm7.1 ℓ/100 kmR998 900
Volkswagen Touareg 3.0 V6 TDI 190 kW Executive190 kW/600 Nm7.1 ℓ/100 kmR1088 200

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Jeep Grand Cherokee 3.0CRD Limited179 kW/569 Nm7.5 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

6 jaar/100 000 km-  omvattende instandhoudingsplan

R1 047 900
Range Rover Velar D300221 kW/700 Nm6.4 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

5 jaar/100 000 km-  omvattende instandhoudingsplan

R1 127 846
BMW X5 xDrive30d190 kW/560 Nm5.9 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km-  omvattende instandhoudingsplan

R1 118 554
Mercedes-Benz GLE350d190 kW/620 Nm6.6 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

6 jaar/100 000 km-  omvattende instandhoudingsplan

R1 138 297

Die kompetisie in die lys is slegs vierwielaangedrewe sessilinderdieselenjin-sportnutsvoertuie. In dié geselskap is die Volkswagen ʼn winskoop – en hoef vir geen van die ander voertuie terug te staan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

André Labuscagne ·

Ek wil graag hê dat die skrywer moet bevestig waar hy die 3.5ton sleep toelaat baarheid statistiek kry?

Brendon ·

Dagsê André,

Baie dankie vir jou kommentaar. Ek lig vir jou dié direk uit Volkswagen se verklaring:

3.5 tonne maximum trailer weight and new towing bracket. The new Touareg is one of the few passenger cars designed for maximum trailer weights up to 3.5 tonne (braked, up to 12% gradient).

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Vraagteken ·

Dit is irrelevant wat VW sê oor sy maksimum sleepvermoë. Die wet verhoed jou om bo ‘n sekere persentasie (ongeveer 85%) van die bruto massa van die voertuig te sleep. Dit will sê, as die voertuig 2 ton weeg, dan mag jy net 1,7 ton sleep.

Gaan gesels ‘n bietjie met van die mense op die karavaan groepe en laat hulle vertel hoe selde van daardie voertuie verplig word om na ‘n weegbrug toe te ry sodat die massa van die karavaan en voertuig geweeg kan word.

Vraagteken ·

Hoe lank is dit voordat hulle altwee langs die pad staan? Gaan koop ‘n Land Cruiser LC200 en kry klaar. Beste van alles – jy kry ‘n V8.

Ag siestog ·

Die arme ou cruiser sal eerste gaan staan langs die pad want hy gee jou 2km / l. Hoe dom kan n mens wees om n cruiser en n WV te probeer vergelyk.

Cherokee ·

My eerste huis het ek laat bou vir R8000. Dit was minder as 50 jaar gelede. ‘n Kolossale R59 per maand op die 20 jaar verband! Kollegas was geskok dat ek soveel geld kon uitlê en het verslae gevra of ek besef dat ek met verband betalings sowat R20 000 vir daardie huis gaan betaal! Dit was ‘n groot 3 slaapkamer huis.
Ek het gevra waar hulle gaan bly as hulle aftree. O.. hulle gaan hul pensioen se ‘lompsom’ gebruik om mee huis te koop.
Ek het gevra of hulle besef dat ‘n huis ‘n miljoen rand gaan kos wanneer hulle aftree. Hulle het geskaterlag daarvoor en my gespot omdat ek so gesê het.
Ek wonder wat hulle sou gesê het as ek sou voorspel het dat ‘n kar meer as ‘n miljoen gaan kos.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.