Só lyk Opel se nuwe Corsa  

Opel het ʼn fantastiese geskiedenis in Suid-Afrika. Hy doen al vir 86 jaar sake in die land en het eens op ʼn tyd ʼn 9%-markaandeel gehad. Sedert die eerste SAGMJ Motor van die Jaar-kompetisie in 1986 het Opel al vier keer die kroon gedra!

Dit is ʼn verskriklike opwindende tyd vir Opel wat nou ʼn volfiliaal van die Stellantis-groep is… die vierde grootste motorgroep ter wêreld met meer as 400 000 werknemers wêreldwyd. Ná GM se verkoop van Opel voor hulle landuit is, was Opel se toekoms duister.

Dit bring ons by die Opel Corsa… verreweg Opel se suksesvolste model in sy geskiedenis in Suid-Afrika. Die Corsa is ʼn B-segment-luikrug want in dieselfde kryt boks as Volkswagen se Polo en Ford se Fiesta. Die B-luikrug-segment ry gemiddeld met 32%-markaandeel weg, so dit is van kardinale belang dat enige handelsmerk ʼn sterk mededinger in dié segment het.

Die nuwe ontwerp is netjies. Dalk effens konserwatief, maar dit bly ʼn aantreklike buksie, en heelwat mooier as die Polo. Aan die binneruim is spasie in die kol vir dié segment.

Daar is een of twee panele met harde plastiek wat moontlik van beter materiaal gemaak kon word, en van die mededingers het klimaatbeheer waar die Corsa meganiese lugreëling het. Dit is die eerste keer wat ek tyd met Corsa deurbring – maar ek sal graag meer opsies op die digitale instrumentasie wil hê. Verder is daar verhitte sitplekke, baanbeheer, outomatiese ligte en -ruitveërs en ses lugsakke!

Daar is tans twee enjins beskikbaar. Die eerste enjin is ʼn atmosferiese 1,2 driesilinderpetrolenjin wat 55 kW en 118 Nm. Dié enjin gaan gepaard met ʼn 5-spoed handrat en bied 5,8 ℓ/100 km.

Die tweede enjin is hul 1,2 driesilinderturbopetrolenjin wat 96 kW en 230 Nm bied. ʼn Reuseverbetering op die atmosferiese enjin. Dié enjin gaan gepaard met Opel se 6-spoed outomatiese ratkas. Hy bied ʼn gemiddelde brandstofverbruik van 6,3 ℓ/100 km.

Op die paaie waarop ons tydens die bekendstelling gery het, was die ritgehalte nie baie goed nie, maar die paaie bitter sleg, so dis te verstane. Ons sal weer praat oor die vering as ons hom voel op paaie wat ons beter ken en weet gladder is. Wat die effens stywe vering wel bied is puik padhouvermoë en lekker direkte stuur.

Die Corsa is ʼn welkome mededinger in die segment. Kompetisie is altyd goed vir die eindverbruiker en Opel kan beslis doen met die hupstoot. Daar is tans 35 Opel-handelaars in hul netwerk met nog wat beplan word.

Ons sal weer tyd met die Corsa deurbring – maar dis ʼn sterk begin.

Die reeks lyk só:

Opel Corsa 1.2 handrat55 kW/ 118 Nm5,8 ℓ/100 kmR274 900
Opel Corsa Edition 1.2 handrat55 kW/ 118 Nm5,8 ℓ/100 kmR294 900
Opel Corsa Elegance 1.2T outo96 kW/ 230 Nm6,3 ℓ/100 kmR386 900

Die reeks word gedek deur Opel se 3 jaar/ 120 000 km waarborg en padbystand sowel as ʼn 3 jaar/ 45 000 km diensplan.

Daar is beslis ʼn gaping in hul reeks vir ʼn turbomodel onder die Elegance-spesifikasie. As ons na die Corsa se stiefboeties in die groep kyk, die Citroën C3 en Peugeot 2008 is daar ʼn 1.2T met effens minder krag en ʼn laer spesifikasievlak om die reeks te voltooi. Tot dán – moet nie die reeks ignoreer nie, dis ʼn lekker alternatief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.