Só lyk voertuigverkope vir Januarie

motorsleutels

(Argieffoto)

Die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers (Naamsa) het die jongste motorverkopesyfers bekend gemaak en dit dui op ʼn ekonomie wat nog swaar trek.

In Januarie 2020, voor die Covid-19-pandemie Suid-Afrika getref het, is ʼn totaal van 40 413 verkope aangemeld. Dit is nou vir motors, bakkies en vragmotors. Verlede maand is 34 784 nuwe motors, bakkies en vragmotors verkoop – dit is 5 629 of sowat 14% minder as ’n jaar gelede.

Uit die totaal van 34 784 voertuie is 82,6% aangekoop by handelaars, 11,4% aan huurmaatskappye, 3,5% aan die regering en 2,5% aan ondernemings.

As dit kom by passasiersvoertuie, was daar ʼn skerp daling van 18%. Die verkope van bakkies en bussies het nie so skerp geval nie, maar die 4,9%-daling is steeds rede tot kommer. Verkope van middelslag- en groot vragmotors het wel positiewe groei getoon. Groot vragmotors en busse het 6,6% meer verkoop as verlede jaar die tyd.

Die rede vir die stadige verkope is bloot omdat die ekonomie nog nie ten volle aan die gang is nie. Dan is daar ook die wisselkoers, stygende lewenskoste en die feit dat die algemene huishouding nie meer genoeg geld vir luukshede het nie. Die goeie nuus is wel dat motorverkope aanhou toeneem soos die BBP groei. Die Reserwebank reken Suid-Afrika se ekonomie gaan nog met 3,6% groei die jaar, wat goeie nuus is vir motorverkope. Soos mense meer geld het om te bestee, sal hulle terugkeer na ou gewoontes.

Na ʼn jaar soos 2020, gaan dit omtrent drie jaar vat voor motorverkope weer op dieselfde vlak as 2019 sal wees. Die laaste keer toe verkope so swak was, was 18 jaar gelede. Nie eers die groot resessie van 2007 tot 2009 het so ʼn groot impak op motorverkope gehad nie.

As dit kom by uitvoere, is Suid-Afrika ook stadig maar seker besig om weer aan die gang te kom. In Januarie vanjaar het Suid-Afrika 22 771 voertuie uitgevoer, wat ’n uitstekende 39,7%-toename is in vergelyking met verlede jaar die tyd. Toyota het ook onlangs aangekondig dat hy sy nuwe Corolla Cross in Durban gaan bou.

As ons kyk na die vervaardigers se verkope, is Toyota heel bo aan die lys met 8 913 voertuie. Volkswagen is in die tweede plek met 5 822, en Ford in die derde plek met 2 668.

Die toptien lyk so:

Toyota8 913
Volkswagen5 822
Ford2 668
Hyundai2 598
Nissan2 038
Suzuki1 861
Renault1 400
Kia1 256
Haval976
Isuzu958

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos ·

Ek sien op myBB dat die huidige regime 42% van ‘n nuwe voertuig se prys vat as belastings. Dit het die gejeuk in my boude vir ‘n nuwe kar heeltemal genees. Dankie tog, ek kan heelwat iets beter doen met die geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.