Ek het onlangs ʼn Honda HR-V 1.8 Elegance getoets. ʼn Lieflike ryding – maar as ek na die prys kyk, dan sidder ek. Ek’t gesukkel om aan ʼn invalshoek te dink – toe val dit my by. Ek het net só gesukkel met twee ander kruismodelle: Mitsubishi se Eclipse Cross en Nissan se Qashqai. Kom ons vergelyk hulle dan sommer al drie met mekaar.
Ontwerp
Honda HR-V 1.8 Elegance 4/5 | Mitsubishi Eclipse Cross 2.0 GLS AWD 4/5 | Nissan Qashqai 1.2T Tekna 5/5 |
Al drie voertuie se ontwerp is soortgelyk. Dit is basies ʼn groot opgepompte luikrug met beter grondvryhoogte om die idee te gee dat dit ʼn sportnuts kan wees as hy wil. Die Honda se ontwerp is skoon en elegant, die Mitsubishi hoekig en aggressief – maar die Qashqai tref die beste middeweg wat my betref. Dit lyk modern en netjies.
Binneruim
Honda HR-V 1.8 Elegance 5/5 | Mitsubishi Eclipse Cross 2.0 GLS AWD 4/5 | Nissan Qashqai 1.2T Tekna 4/5 |
Al drie mededingers is van Japannese afkoms. Gewoonlik is hul binneruime eerder harde plastiek as luukse leer. Dit is wel nie meer die geval nie. Die Honda se binneruim is ʼn kort kop voor die ander twee omdat sy bougehalte effe beter voel. Verder is daar nie veel tussen hulle nie. Al drie is propvol truuks, klimaat- en spoedbeheer, outo-ligte en ruitveërs, tot verhitte sitplekke – de lot.
Enjin, ratkas en dryfstelsel
Honda HR-V 1.8 Elegance 4/5 | Mitsubishi Eclipse Cross 2.0 GLS AWD 5/5 | Nissan Qashqai 1.2T Tekna 3/5 |
Hier vergelyk ons nie heeltemal appels met appels nie. Die pryse is almal appels, maar die drie voertuie verskil heelwat. Die Honda het ʼn lekker atmosferiese 1.8-viersilinderpetrolenjin met ʼn CVT-palwisseltransmissie wat die voorwiele aandryf. As mens die versneller begrawe, kan hy dreun – maar dis elke CVT se lot.
Die Nissan het ʼn 1.2- turboaangejaagde viersilinderpetrolenjin wat deur ʼn CVT sy krag aan die voorwiele stoot. Hy is agter in kragsyfers teen die ander twee; al beloof Nissan dat hy beter brandstofverbruik kan bied, vind ek die turbo-enjins net so swaar soos die atmosferiese weergawes in die werklikheid. Die CVT’s help wel dat die karre bitter lig is op brandstof, veral op die oop pad.
Die wenner hier is die Mitsubishi. ʼn 2.0- atmosferiese viersilinderpetrolenjin is lekker sterk … Hier is ook ʼn CVT, maar daar is vierwielaandrywing vir wanneer jy jou kruismodel regtig gebruik waarvoor hy bedoel is – en as jy daai grondpad aandurf in die gietende reën, is daar viertrek om jou uit te help.
Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid
Honda HR-V 1.8 Elegance 4/5 | Mitsubishi Eclipse Cross 2.0 GLS AWD 5/5 | Nissan Qashqai 1.2T Tekna 4/5 |
Ek het met die bekendstelling kwaai geraak met die Eclipse Cross weens sy stywe vering. Dit was toe nie net vering nie, maar eerder harde bande. In die daaglikse roetine ry die Honda vir my die sagste en die lekkerste, moontlik omdat hy die kleinste wiele het op 17”. Die padhouvermoë van al die voertuie is in die kol, maar die Mitsubishi sal voorloop weens sy vierwielaandrywing as jy ooit sneeu of modder teenkom. Dus loop hy voor. Die Mitsubishi het ook sewe lugsakke teenoor die ander twee se ses, verder het al drie ʼn magdom veiligheidstelsels soos ABS, EBD, vastrap en stabiliteitsbeheer, remhulp en ISOFIX.
Opsomming
Honda HR-V 1.8 Elegance Puntetotaal: 17/20 | Mitsubishi Eclipse Cross 2.0 GLS AWD Puntetotaal: 18/20 | Nissan Qashqai 1.2T Tekna Puntetotaal: 16/20 |
Die Qashqai val effe uit die bus en bied die minste vir die meeste geld. Wat dit erger maak, is dat Nissan ʼn fabriek hier in Suid-Afrika het en uitvoerkrediete kan verreken teen invoere in terme van invoerbelasting, ʼn luuksheid wat Honda en Mitsubishi nie het nie. Die Honda ry vir my die lekkerste, maar die Mitsubishi se waarde is onweerlegbaar.
Die drie vergelyk só:
Honda HR-V 1.8 Elegance | Mitsubishi Eclipse Cross 2.0 GLS AWD | Nissan Qashqai 1.2T Tekna | |
Enjin | 1.8-viersilinderpetrol | 2.0-viersilinderpetrol | 1.2-viersilinder-turbopetrol |
Krag | 105 kW/172 Nm | 110 kW/198 Nm | 85 kW/165 Nm |
Ratkas | CVT | CVT | CVT |
0–100 km/h | 10.1 sek | 13 sek | 12.9 sek |
Topspoed | 188 km/h | 188 km/h | 173 km/h |
Brandstofverbruik | 6.8 ℓ/100 km | 8.1 ℓ/100 km | 6.2 ℓ/100 km |
Grondvryhoogte | 170 mm | 180 mm | 182 mm |
Diensplan & waarborg | 4 jaar/60 000 km- diensplan 5 jaar/200 000 km- waarborg | 5 jaar/90 000 km- diensplan 3 jaar/100 000 km- waarborg | 3 jaar/90 000 km- diensplan 6 jaar/150 000 km-waarborg |
Prys | R472 500 | R449 995 | R488 600 |
Die kompetisie lyk só:
Hyundai Kona 2.0 Executive | Subaru XV 2.0i-S ES | Suzuki Vitara 1.4T GLX outo | |
Enjin | 2.0-viersilinderpetrol | 2.0- bokserviersilinder- petrol | 1.4-viersilinder-turbopetrol |
Krag | 110 kW/180 Nm | 115 kW/196 Nm | 103 kW/203 Nm |
Ratkas | Wringkragomsitter outo | CVT | Wringkragomsitter outo |
0–100 km/h | 10 sek | 10.4 sek | 9.5 sek |
Topspoed | 194 km/h | 194 km/h | 200 km/h |
Brandstofverbruik | 7.2 ℓ/100 km | 7.3 ℓ/100 km | 5.9 ℓ/100 km |
Grondvryhoogte | 170 mm | 220 mm | 185 mm |
Diensplan & waarborg | 5 jaar/90 000 km- diensplan 5 jaar/150 000 km- voertuigwaarborg 7 jaar/200 000 km- dryfstelselwaarborg | 3 jaar/75 000 km- omvattende instandhoudingsplan 5 jaar/150 000 km- waarborg | 4 jaar/60 000 km- diensplan 5 jaar/200 000 km- waarborg |
Prys | R419 500 | R488 000 | R405 900 |
Tussen die mededingers kan die Suzuki se waarde nie betwyfel word nie. Die Subaru XV het puik grondvryhoogte en vierwielaandrywing. Die segment groei en al die mededingers is sterk in hul eie reg. Gaan toetsbestuur almal.