Speed Triple word net beter

(Foto: Brian Cheyne)

Alhoewel Triumph weet hoe om mooi motorfietse te bou, het ek aanvanklik my bedenkinge gehad oor die Triumph Speed Triple RS se voorkoms. Dit is ’n pragtige fiets, sy koddige voorligte ten spyt. Wat hy dalk aan voorkoms te kort skiet, maak hy op met verrigting. Nou het Triumph die RR‑weergawe van die Speed Triple plaaslik bekend gestel en dit is vir my die mooiste Triumph nog!

Ek sal jou nie verkwalik as jy dink die RR is net ’n RS met ’n ronde voorlig nie. Trouens, ek het ook so gedink, tot ek gaan oplees het. Waar die RS ’n kaalfiets is met die ergonomie wat jy sal verwag, is die RR meer ʼn sportfiets as jy kyk na die veranderinge wat hulle aangebring het.

(Foto: Brian Cheyne)

Wat jy heel eerste oplet, is die ronde voorlig. Dit word omhul deur ’n uiters elegante stroomlynkap met koolvesel aksente. Hierdie aksente is nie net visuele elemente nie, maar dra by om die fiets ligter te maak. Met alles wat Triumph bygevoeg het, moes hulle noodwendig van ligter materiale gebruik maak. Selfs die voorste modderskerm is van koolvesel. Teen 199 kg, weeg die RR slegs een kilogram meer as die RS.

Die instrumentasie is presies dieselfde as die RS s’n en is die eenvoud vanself. Dit is ook hier waar jy die meeste van die fiets se funksies en verstellings kan doen. Dit kan aan jou slimfoon koppel en selfs aan jou GoPro‑kamera. Ek dink dit is ’n wonderlike byvoeging sodat jy kan sien of jou kamera opneem of nie. Dan kan jy net op die pad konsentreer.

(Foto: Brian Cheyne)

Die RR beskik oor Öhlins se semi-aktiewe vering wat elektronies kan verstel. Wat hierdie stelsel so wonderlik maak, is dat dit saam met die ryprogramme werk om die optimale vering vir elke toestand te stel. Triumph bied ook ’n persoonlike ryprogram waar jy self kan besluit hoeveel sluitwering en tolbeheer jy wil hê, en hoe hard of sag die vering moet wees.

Wanneer jy op die RR klim en sien hoe ver voor die handvatsels is, dan bevestig dit net die bedoeling van die RR. Die voetstukke is verder agtertoe gemonteer as op die RS en ook opwaarts om die fiets meer grondvryhoogte op die baan te gee. Ek kon amper nie glo dat hierdie twee klein veranderings die fiets ’n totale anderse karakter gee nie. Die spieëls is voor op die bakwerk gemonteer en bied ’n duidelike beeld van jou elmboë. Om agter jou te sien moet jy jou arms reguit maak en oorleun na die kant wat jy wil sien. Of jy moet omkyk.

As jy die aansitter druk, dan klink hy net soos die RS. Dit het dieselfde sagte dreuning wat die Euro5‑klankpolisie gelukkig hou as die fiets luier. Van Triumph se winkel in Sandton tot by die snelweg is ’n kort entjie. Net genoeg vir my om gemaklik te raak met die fiets. Weens die vooroor ryposisie kan ek voel dat jy nie lank in stadsverkeer gaan wil sit voor jy die snelweg wil gaan opsoek nie. Die kort stukkie oprit tot by die N1 was genoeg om jou net weer te herinner waar die 177 perde skuil. Draai jy die krane oop, suig die RR verbete lug in en dan sing die inlaat en die uitlaatpyp die mooiste duet. Die snelskakeling werk foutloos sodat jy die samesang van voor af kan ervaar. Die voorwiel wil-wil lig, maar die elektronika hou alles mooi in toom. En as jy jou kruissnelheid bereik, dan sit jy die spoedbeheer aan en bewonder net die gemak waarmee hierdie fiets snelheid hanteer.

Die Speed Triple RR is ’n stukkie kuns waarmee jy, met gemak, baie vinnig kan ry. En vir die meer ervare ryers is dit ’n wonderlike wapen om op die baan mee te ding. Vir my was dit ’n ervaring, maar die bekoring lê in sy voorkoms. Ek kan net bly staar. Wel gedaan Triumph, nou is selfs die Speed Triple vir my mooi!

Die feite:

Enjin1160 cc-driesilinder
Gewig (Nat)199 kg
Kraglewering132,4 kW/ 177,5 pk @ 10 750 r.p.m.
Wringkrag125 Nm @ 9 000 r.p.m.
Tenkkapasiteit15,5 ℓ
Saalhoogte830 mm
PrysR315 000

Klik hier vir die produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.