Spieëltjie, spieëltjie aan die wand…

Is dit die mooiste motor in die land? (Foto: Peugeot)

Watter motor is die mooiste in die land? Vir my is die antwoord eenvoudig: Dis die splinternuwe Peugeot 2008.

Maroela Media was onlangs bevoorreg om by Peugeot Suid-Afrika aan te sluit vir die bekendstelling van sy splinternuwe B-segment-sportnutsvoertuig.

Die B-sportnutsegment is op die oomblik aan die brand.

Dit is dié soort voertuig wat tans die gewildste onder Suid-Afrikaanse motorkopers is. Die landwye inperking van verlede jaar het verwoesting gesaai in die motorbedryf, maar hierdie segment het steeds groei getoon.

Peugeot, nou ʼn volfiliaal van die Stellantis-groep – een van die grootste motorgroepe ter wêreld met meer as 400 000 werkers wêreldwyd – kan nou werklik sy spiere begin bult. Stellantis besit die ou Groupe PSA en FCA Automobiles.

Die handelsmerke wat tans aan die groep behoort is: Abarth, Alfa Romeo, Chrysler, Citroën, Dodge, DS, Fiat, Fiat Professional, Jeep, Lancia, Maserati, Mopar, Opel, Peugeot, Ram en Vauxhall.

Die Peugeot 2008 is ‘n indrukwekkende voertuig (Foto: Peugeot)

In Suid-Afrika sal FCA wel in die toekoms deel vorm van Stellantis, maar in hierdie stadium is dit Peugeot, Citroën en Opel.

Terug na Sneeuwitjie.

Die ontwerp is stylvol en modern. (Foto: Peugeot)

In ʼn uiters mededingende segment, staan Peugeot se 2008 doodeenvoudig kop en skouers uit bo die res. Dit is ʼn pragtige, moderne ontwerp wat uiters stylvol lyk.

Dan betree ʼn mens die binneruim. Nie net is die ontwerp fantasties nie, die bougehalte beïndruk ook.

In die reeksleidende GT-weergawe is die spesifikasievlak verstommend hoog. Verhitte sitplekke, ʼn raamlose selfverduisterende truspieëltjie, ʼn pragtige nuwe 3D-ontwerp waarop die meters uitgebeeld word, ʼn 10”-raakskerm met Apple CarPlay en Android Auto, klimaat- en spoedbeheer, die hele lot.

Die sitplekke bied fantastiese steun en die bekleedsel is lekker luuks.

Een ontwerpelement wat my nou nie juis welgeval nie, is die piepklein stuurwiel, maar ʼn mens raak dit darem vinnig gewoond.

Onder die kap skuil Peugeot se goed bekroonde 1.2-driesilinderturbopetrolenjin wat 96 kW en 230 Nm bied – werklik sterk en ekonomies.

Ons het op ʼn 500 km-reis uit Gauteng in Marble Hall se rigting en terug in die omgewing van 6 ℓ/100 km gehandhaaf – sonder om suutjies met die versneller te werk. Die enjin stoot sy krag aan die voorwiele deur ʼn outomatiese ratkas. Van nul tot 100 km/h is in 9,1 sekondes beskikbaar en hy sal 198 km/h voluit snol.

Op die pad is die 2008 se ritgehalte aanvanklik effe hard, maar as die pad mooi is, is die rit puik. ʼn Mens raak die rit ook vinnig gewoond. Die padhouvermoë is wel in die kol vir dié segment … tot jy per toeval by so ʼn 20 km lange grondpad kom wat deel van die roete vorm.

Die 2008 se gehalte slaan ver bó sy eie gewigsklas. (Foto: Peugeot)

Daai grondpad het in die ure voor ons aankoms seker negentien duisend millimeter reën gehad. Ek en my reismaat gee die pad een kyk en wonder hoe ons in ʼn voorwielaangedrewe tjorrie deur dié modder gaan kom wat selfs ʼn Cruiser skrik op die lyf sal jaag.

Peugeot se Advanced Grip Control het die 2008 sonder enige probleme deur verskriklike modder getrek. Ons monde het oopgehang.

Ek is heeltemal uitgeboul deur die 2008. Die gehalte slaan ver bó sy eie gewigsklas.

Dit is ʼn pragtige produk en Peugeot het nou al mooi huis skoongemaak en kan sy produkte behoorlik ondersteun.

Ek hoop regtig dat die 2008 in groot getalle gaan verkoop. Peugeot verdien dit met dié pragmotor en dit sal aan hom weer ʼn lekker voorsprong in Suid-Afrika gee.

Die reeks lyk só:

Peugeot 2008 1.2T 74 kW Active handrat74 kW/205 Nm6,4 ℓ/100 kmR359 900
Peugeot 2008 1.2T 96 kW Active outo96 kW/230 Nm6,5 ℓ/100 kmR399 900
Peugeot 2008 1.2T 96 kW Allure outo96 kW/230 Nm6,5 ℓ/100 kmR429 900
Peugeot 2008 1.2T 96 kW GT96 kW/230 Nm6,5 ℓ/100 kmR479 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km waarborg en 3 jaar/60 000 km-diensplan.

Die mededinging lyk só:

Volkswagen T-Cross 1.5 TSI 110 kW R-Line110 kW/250 Nm5,5 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R449 000
Mazda CX-3 2.0 Hikari115 kW/206 Nm6,7 ℓ/100 km3 jaar/onbeperkte km-waarborg en diensplanR469 700
Kia Seltos 1.4T-GDI GT-Line103 kW/242 Nm6,3 ℓ/100 km5 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/ 90 000 km-diensplan

R493 995
MINI Cooper Countryman100 kW/220 Nm6,3 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R591 524
Audi Q2 35TFSI sport S Line110 kW/250 Nm5,2 ℓ/100 km1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R602 800
Volvo XC40 T3 R-Design outo110 kW/265 Nm6,7 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR671 000
Mercedes-Benz GLA200 AMG Line120 kW/250 Nm6,0 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R679 040
Lexus UX 250h EX135 kW/180 Nm4,5 ℓ/100 km7 jaar/105 000 km-voertuigwaarborg

8 jaar/195 000 km-batterywaarborg

7 jaar/105 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R705 500
BMW X2 SDrive 18i M Sport103 kW/220 Nm6,3 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R708 224

(Foto: Peugeot)

Die lys mededingers lyk dalk wild, maar ek het die 2008 spesifiek met dié voertuie vergelyk want die segment waarin hy meeding – met Volkswagen se T-Cross en dies meer – kan eenvoudig nie kers vashou by die 2008 in terme van ontwerp óf gehalte nie.

As ek die naaste mededinger moet kies, is dit waarskynlik MINI se Countryman. Maar die Countryman kos R110 000 meer en het nie die Peugeot se spesifikasievlak nie.

Doen asseblief vir my ʼn guns en gaan toetsbestuur die 2008, dit is ʼn fantastiese ryding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.