Spirit of Amarok sorg weer vir hope pret

Volkswagen se Spirit of Amarok het op 22 April afgeskop. Dit is die 11de jaar wat dié wedren vir amateur 4×4-bestuuders plaasvind en 560 spanne van Suid-Afrika, Namibië en Botswana sal nou tot 27 Junie om die Wolf-trofee meeding.

Vanjaar is daar egter nie ʼn internasionale kompetisie nie, maar die plaaslike spanne sal oor die volgende paar maande deur die kamp beweeg en hul staal probeer wys teen die bekende renjaer Sarel van der Merwe se uitdagings.

Die afgelope naweek het ek vir die derde keer aan Volkswagen se Spirit of Amarok Media Challenge deelneem. Die eerste keer het ek – tot my eie verbasing – ʼn derde plek verwerf. Verlede jaar het ek en Jeanette Kok-Kritzinger van Wiele2Wiele net-net die boonste troon gemis. Ons het darem die spoedrondtes en geestrofee gewen – en algeheel tweede gekom.

Jeanette was besig om haar klein Yaris óm Zwartkops se renbaan te jaag – so dit was ek en Willem van de Putte van IOL wat vanjaar die uitdaging saam aangedurf het. Ek en Willem het die afgelope twee jaar duisende myle saam getoer en die man is ietwat van ʼn 4×4-foendi.

Teen middagete het ons gelykop met ʼn ander span gestaan vir die eerste plek. Die enorme tegniese rondte het egter ons planne vir algehele oorwinning in die wiele gery.

Die finale punteleer lyk só:

Wenner, spoedrondtes           –           Willem (IOL) & Brendon (Maroela Media)

Wenner, tegnies                     –           Mike (Wiele2Wiele) & Ernest (Performance with Page)

Derde, algeheel                      –           Charlen (Wheels24) & Melinda (Vryskut)

Tweede, algeheel                   –           Lawrence (AutoTrader) & Mark (Volkswagen)

Algehele wenners!                 –           Ernest (Performance with Page) & Mike (Wiele2Wiele)

Van der Merwe, stigter van Spirit of Amarok-wedren, word vanjaar 75 – en is nie van plan om sy voet binnekort van die versneller af te haal nie.

Soos ons ná die dag se kompetisie om die kampvuur sit en gesels begin almal vir “oom Sarel” uitvra oor wat die beste voertuig is en wat ry die vinnigste? Wat sou hy oordoen?

Indien jy nog nie sy boek SuperVan & I, The Memoir of SA’s Greatest Driver & and His Alter Ego Sarel Van Der Merwe, gelees het nie, doen gerus. Dis fantastiese leesstof.

Om die vuur vertel Van der Merwe dat twee manne hom eendag by die kampvuur nader. Hulle vra: “Oom, as ons ʼn paar brandewyne in het, dan dink ons ons is Sarel van der Merwe . Wie de hel dink oom is óóm dan?”

Volgende jaar kry ons mekaar weer op dieselfde plek, maar dié keer in Volkswagen Amarok’s wat plaaslik hier in Suid-Afrika gebou word. Ek kan nie wag nie.

(Foto: Mpumelelo Macu)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.