Sportback of sportnuts?

Die Audi Q5 40 TDI

Maroela Media het onlangs twee Audi Q5-modelle toetsbestuur – die Q5 40 TDI en die 45 TFSI Sportback.

Audi maak nog altyd bitter mooi motors wat sinoniem is met weelde, luuksheid en goeie vakmanskap.

Nico Strydom, Maroela Media se redakteur, het die 45 TFSI Sportback toetsbestuur en is weer eens nie teleurgestel nie. Brendon Staniforth, Maroela Media se motorjoernalis, het die Q5 40 TDI beproef.

Die Q5 Sportback vang dadelik die oog met sy skuins daklyn wat sorg vir ʼn koepee-agtige voorkoms en hom van agter heel anders laat lyk as sy voorganger. Sommige meen dit gee die Q5 ʼn meer sportiewe voorkoms terwyl ander meen dit lyk soos ʼn krom rug. Ek hou van die ontwerp – dit lyk weelderig, dog sportief.

Die Q5 en die Sportback is albei gesinsportnutse en dit is die luukse kajuit wat veral beïndruk. Die sitplekke is uiters gemaklik en daar is baie beensruimte voor en agter. Die instrumentpaneel is alles digitaal terwyl die groot raakskerm geïntegreerde gerief en konnektiwiteit, soos Apple Carplay en Android Auto, verseker. ʼn Laaimat by die konsole tussen die twee voorste sitplekke en USB-konneksiepunte agter verseker dat almal hul toestelle gelaai en gekoppel kan hou.

Daar is verskeie ekstras beskikbaar – jy kan kies tussen sportsitplekke of nappa-leersitplekke en of die sitplek jou moet masseer en koud of warm hou. Die Bang & Olufsen-klankstelsel (ook opsioneel) is puik en jy gaan gereeld die volumeknoppie al harder wil draai.

Die Audi Q5 40 TDI

Die kattebak van 510 ℓ is billik en wanneer die sitplekke platgeslaan word, is daar baie ruimte. Om klein kindertjies by die skool af te laai is maklik en vinnig danksy Isofix wat help om die karstoeltjie sommer vinnig in plek te kry en weer uit te haal.

Die Q5 beskik oor al die bestuurderbystandstelsels wat jy in ʼn luukse motor sal verwag soos aanpasbare spoedbeheer en aktiewe baanbeheer. Afhangend van die pakket is daar ook ander stelsels beskikbaar soos baanwisselwaarskuwing, kruisverkeersbystand en parkeerhulpfunksie.

Die Audi Q5 40 TDI

Die Q5 Sportback 45 TFSI Quattro S Line het ʼn 2.0 viersilinderturbopetrolenjin wat 183 kW en 370 Nm bied. 0 tot 100 km/h vat net 6,3 sekondes, met ʼn topspoed van 237 km/h (elektronies beperk). Die agtspoed-Tiptronic-ratkas sorg vir vinnige en gladde wisselings terwyl Audi se bekende Quattro-vierwielaandrywing die wringkrag veranderlik soos nodig na die voor- en agterasse oordra.

Die Audi Q5 40 TDI

Die Q5 40TDI het ʼn 2.0 vierslinderturbodieselenjin wat 140 kW en 400 Nm Bied. Dit is egter die gladde karakter en kalibrasie van die dieselenjin en dubbelkoppelaar outomatiese ratkas wat beïndruk. Die diesel is beslis nie stadig nie en haal 100 km/h in 8,1 sekondes, en sal aanhou draf tot 220 km/h.

Op die pad is dit waar die Q5 uitblink. Daar is hope krag en die rit is uiters sag en gerieflik. Aanpasbare lugvering beteken die grondvryhoogte kan met soveel as 45 mm verhoog word wanneer op ongeplaveide paaie gery word, terwyl die bak met 15 mm verlaag kan word wanneer vinnig gery word.

Die reeks lyk só:

Audi Q5 40TDI Quattro140 kW/ 400 Nm6,2 ℓ/100 kmR852 000
Audi Q5 40TDI Quattro Advanced140 kW/ 400 Nm6,2 ℓ/100 kmR871 000
Audi Q5 40TDI Quattro S line140 kW/ 400 Nm6,2 ℓ/100 kmR897 000
Audi Q5 45TFSI Quattro S line183 kW/ 370 Nm8 ℓ/100 kmR947 000
Audi Q5 Sportback 40 TDI Quattro Advanced140 kW/ 400 Nm6,2 ℓ/100 kmR960 000
Audi Q5 Sportback 40TDI Quattro S line140 kW/ 400 Nm6,2 ℓ/100 kmR1 000 000
Audi Q5 Sportback 45 TFSI Quattro S line183 kW/ 370 Nm8 ℓ/100 kmR1 050 000
Audi SQ5 TFSI Quattro260 kW/ 500 Nm9,2 ℓ/100 kmR1 208 000
Audi SQ5 Sportback TFSI Quattro260 kW/ 500 Nm9,2 ℓ/100 kmR1 355 000

Die reeks word gedek deur ʼn een jaar/onbeperkte km-waarborg en ʼn vyf jaar/100 000 km-omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Volvo XC60 B5 AWD Momentum183 kW/ 350 Nm7,3 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplanR889 498
Mercedes-Benz GLC220d 4Matic143 kW/ 400 Nm5,4 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R952 12
BMW X3 xDrive 20d140 kW/ 400 Nm5,6 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R997 176
Jaguar E-Pace D200 AWD R-Dynamic SE147 kW/ 430 Nm5,3 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 026 180
Porsche Macan195 kW/ 400 Nm8,8 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km waarborg

3 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 050 000
Alfa Romeo 2.0T Super Q4206 kW/ 400 Nm7 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 188 900

Hier is ʼn magdom mededingers. Elkeen verskil baie van die ander. Toetsbestuur almal, want een gaan jou beïndruk. Vir my is dit waarskynlik die Porsche Macan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Herpiet

Hierdie Tv of raakskerms wat hulle op baie nuwe motors se paneelbord bo-op vasmonteer vloei net nie vir my reg op die oog nie. Dalk is dit te duur om die ” dash” te verander on die skerms mooi te laat inpas.

quartus

” Op die pad is dit waar die Q5 uitblink ” Wate sinsbou is dit ?