Sportiewe voorkoms nie alles

Hyundai se i20 is ʼn gewilde buksie onder Suid-Afrikaners.

Ek kon egter nog nooit vatplek aan die i20 kry nie, so ek het vir ons redakteur, Nico Strydom, gevra hy moet sy mening ook gee – net om seker te maak ons gee vir julle ʼn gebalanseerde indruk.

Die ontwerp van die nuutste i20 is rewolusionêr. Daar is allerhande hoeke en lyne wat die ontwerp beslis uniek maak. Dit is nie vir my die mooiste buksie nie – daai toekenning gee ek vir Peugeot se 208, maar Nico dink die sportiewe ontwerp is mooi.

Die binneruim se materiale en gehalte is ook nie op die Peugeot of Polo se standaard nie, maar dit beteken nie dat die spesifikasievlak afsteek nie. Die leerstuurwiel, sportsitplekke, metaalpedale en rooi aksente het vir Nico beïndruk – veral die draadlose Apple CarPlay en Android Auto – met die laaimatjie.

Onder die kap sit Hyundai se 1.0-driesilinderturbopetrolenjin. Hy bied 90 kW en 172 Nm. Dit sal die i20 van 0-100 km/h in 9,9 sekondes haas, 1,1 sekondes stadiger as Peugeot se 208, maar 1,4 sekondes vinniger as die Polo.

Die Polo en 208 is egter onderskeidelik 11 km/h en 13 km/h vinniger as die i20. Ek en Nico stem ook saam dat die Volkswagen ʼn baie beter ervaring bied. Hy is eenvoudig beter gekalibreer, en sy ratkas werk lekkerder met sy enjin.

Op die pad toer die i20 heel goed. Sy ritgehalte is in die kol, maar daar is heelwat windgeraas binne die kajuit. Die i20 se padhouvermoë is heeltemal goed vir wat enige koper sal benodig.

Dit maak dit bitter moeilik om die i20 N Line op te som. Dit is ʼn goeie tjor, en Hyundai as handelsmerk is uiters betroubaar, maar ongelukkig het Hyundai homself hier bietjie uit die mark uit geprys. Die Polo is al jare lank ʼn gunsteling in Suid-Afrika én hy is R30 000 goedkoper. Die Peugeot 208 kos maar R3 000 minder, maar bied heelwat meer krag. Ek én Nico sal graag die Polo koop, maar hy is baie gewild onder die boewe – so dalk is die minder gewilde i20 ʼn veiliger opsie? Gaan toetsbestuur beslis eers almal.

Die reeks lyk só:

Hyundai i20 1.2 Motion handrat61 kW/115 Nm5,9 ℓ/100 kmR285 900
Hyundai i20 1.2 Fluid handrat61 kW/115 Nm5,9 ℓ/100 kmR300 500
Hyundai i20 1.4 Motion outo74 kW/133 Nm6,9 ℓ/100 kmR316 500
Hyundai i20 1.0T Fluid handrat90 kW/172 Nm6,5 ℓ/100 kmR342 500
Hyundai i20 1.0T Fluid DCT90 kW/172 Nm6,9 ℓ/100 kmR367 900
Hyundai i20 1.0T N Line90 kW/172 Nm6,9 ℓ/100 kmR405 900

 

Die kompetisie lyk so:

Citroën C3 1.2T Shine81 kW/205 Nm6 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

R369 900
Volkswagen Polo 1.0TSI 85kW Life85 kW/200 Nm5,4 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R374 400
Peugeot 208 1.2T Allure auto96 kW/230 Nm6,3 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

R402 900
Nissan Micra 84kW turbo Tekna84 kW/180 Nm5 ℓ/100 km6 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/90 000 km-diensplan

R404 900
Opel Corsa 1.2T 96kW Elegance96 kW/230 Nm6,3 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R409 900

Elkeen van dié mededingers is bitter sterk. Gaan toetsbestuur almal – een sal jou hart roer. Vir my is dit die Citroën, Polo of 208 – en vir Nico is dit vir seker die Polo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

andre ·

In hierdie prysklas sal die Swift Sport amok maak. Japanese bougehalte teen n baie medeingende prys en natuurlik die pret faktor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.