Stryd van die weeldewaens

Dekades gelede toe ek ʼn laaitie was kon ʼn mens baie makliker die motorbedryf in segmente verdeel. Luikrûe soos die Golf en Kadett, sedans soos Corolla en Jetta, groot sedans soos Camry en Sapphire, bakkies, 4×4’s soos ʼn Land Rover. En dan die weeldewaens.

Daar was werklik net twee – BMW se 7-reeks en Mercedes-Benz se S-reeks. Ons het vanjaar twee modelle van elk onder hande gehad – S350d en S500, en 740i en i7. Elkeen uiters spesiaal in sy eie reg. Maar kom ons kyk hoe vergelyk hulle.

Ontwerp

BMW 7-reeksMercedes-Benz S-klas
4/55/5

BMW het al voorheen met ʼn buitensporige ontwerp die publiek onkant gevang en dié 7-reeks is geen uitsondering nie – die reusesierrooster is vir my ʼn treetjie té ver. In dieselfde asem is die S-reeks uiters elegant en bitter mooi. Presies wat ek glo ʼn weeldewa moet wees.

Binneruim:

BMW 7-reeksMercedes-Benz S-klas
5/54,5/5

 Die 7-reeks se binneruim is nie vir my elegant of mooi nie, maar is trommeldik gestop met die jongste tegnologieë. Die deure maak self oop en toe en daar is ʼn 39”-skerm agter vir passasiers om dop te hou soos hulle op die uitskopstoele lê terwyl die chauffeur hulle huis toe neem. Aan die ander kant het die S-reeks minder tegnologie, maar die ontwerp is asemrowend mooi. Daar is ook ʼn uitskopstoel, maar geen groot skerm agter nie. ʼn Mens moet ook maar self die deure oop en toe maak – die lewe is moeilik jong.

Enjin, ratkas en dryfstelsel:

BMW 7-reeksMercedes-Benz S-klas
5/55/5

BMW en Mercedes-Benz is die res van die bedryf ver vooruit met dié twee motors. BMW se M740i en Merc se S500 word albei aangedryf deur ʼn sessilinderturbopetrolenjin. Beide voertuie is baie swaar, tog kan beide luukse voertuie verstommende brandstofverbruik in die hoë 6 ℓ/100 km bied op die oop pad. ʼn Chinese viersilinder kan nie daai syfer haal al staan hy stil nie. Die ratkaste in dié voertuie wissel só glad ʼn mens wonder soms of daar ratte is en al wat dit bevestig is óf die toereteller óf as ʼn mens jou voet in die mat begrawe en die enjin sy stem begin dik maak. Dié is die toppunt van dryfstelselverfyning. Albei ʼn fees om mee te toer.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid:

BMW 7-reeksMercedes-Benz S-klas
5/55/5

ʼn Mens moet niks minder as die beste verwag van dié twee motors nie. Die S- en 7-reeks was die baanbrekervoertuie wat die woord ritgehalte uitgedink het. Albei kan ook ʼn bergpas met groot opwinding aandurf en is uiters veilig. Dit hoef nie ʼn verrassing te wees dat Mercedes-Benz die driepuntsitplekgordel in die S-klas aan die wêreld bekend gestel het nie, en ook sluitweerremme.

Opsomming:

BMW 7-reeksMercedes-Benz S-klas
19/2019,5/20

Dié voertuie is werklik so te sê perfek. Ek hou meer van die elegante Mercedes-Benz as die tegnofees wat die BMW bied. Ander sal van my verskil – maar indien jy in uiterse weelde wil verkeer is die S-klas die antwoord. ʼn Wit S500 met pragtige 21”-wiele.

Prys: 

BMW 7-reeks 740i M SportMercedes-Benz S-klas S500 L 4Matic
R2 312 751R2 893 979

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Bestuur enige van die, en jys al gehigh jack voor die eerste rooi lig.

Michael ·

Daar word so min van die karre verkoop, ek dink nie hijack is enigsins ter sprake nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.