Subaru – waarom so skaars?

 foto's deur Subaru

foto’s deur Subaru

Dit is dikwels onbegryplik dat voertuie so puik soos die hele Subaru-reeks so sukkel om kopers se verbeelding aan te gryp.

Kan dit wees dat Subaru as handelsmerk – veral die meer sportiewe modelle – gesien word as die uitsluitlike gebied van die jeugmark? Praat gerus met boere en grondeienaars in die meer afgeleë gebiede soos die Natalse Middellande om ‘n ware indruk van hierdie puik Japanse motors te kry.

Alhoewel die Forester steeds Subaru se topverkoper is, het die onlangse bekendstelling van die hoë verrigting WRX (World Rally Cross) om verskeie redes die verbeelding aangegryp.

Die hart van die WRX is die nuwe platvier (soos Porsche en ou Kewers) twee liter met sy turbo-aanjaer en kraglewering van 197 kW. Hierdie puik kragbron stel die WRX in staat tot ‘n 0-100 km/h versneltyd van net 6 sekondes (handratmodel), terwyl die Lineartronic (Subaru se groot woord vir sy palwisselratkas – CVT) .3 van ‘n sekonde langer neem.

‘n Tussenverkoeler (intercooler) sorg ook dat ons land se warm klimaat nie die turbo se werkverrigting benadeel nie.

Maar daar is veel meer aan die WRX as sy skitterende enjin.

‘n Volledig gegalvaniseerde bak sorg daarvoor dat roes iets van die verlede is, terwyl die binneruim spog met leerbekleedsel, puik gevormde voorste sitplekke, en ‘n 6-luidspreker klankstelsel wat lang afstande in ‘n plesierigheid omskep.

Verder bied die binneruim ook USB-kontakte, ‘n 4.3 duim kleurskerm wat die bestuurder voortdurend inlig ten opsigte van brandstofverbruik, ritinligting, en selfs die druk wat in die turbo beskikbaar is.

‘n Terugloer-kamera, outo-snelheidsbeheer, outomatiese klimaatbeheer en sagte (rooi, nogal) binnebeligting verkondig luid dat die WRX veel meer is as net ‘n tipiese Japanse sedan wat vier mense gerieflik kan vervoer.

Die WRX is vir die fynproewer – iemand wat waardering het vir die Subaru se briljante AWD-vierwielaandrywing. Vanselfsprekend spog die WRX ook met ‘n 5-ster Euro NCAP veiligheidsgradering. Ander veiligheidskenmerke in die WRX (alles standaard) sluit in ABS-remme met skyfremme aan elke wiel, VDC (dinamiese voertuigbeheer), elektroniese stabiliteitsbeheer, 7 lugsakke en Subaru se gepatenteerde spesiale staal-versterkte ringvormigepassasierskajuit.

Vir die jonger eienaar met ‘n gesin is daar ook Isofix-kindersitplekhegpunte.

Maar hoe gedra die WRX hom op die pad?

Die rit is ferm sonder om te irriteer, padklouvermoë is uit die boonste rakke en die remme en stuur boesem vertroue in.

Behalwe vir die Mercedes-Benz A45 AMG en die Volkswagen Golf R, het die Subaru WRX feitlik geen mededingers nie.

Die WRX kan gemaklik beskryf word as ‘n moderne sportsedan – daardie unieke soort voertuig wat rustig en gemaklik in spitsverkeer kan aankruip, maar wat terselfdertyd sy ware kleure wys wanneer die grootpad oop en wyd lok. Dit is die soort voertuig waarmee ‘n mens gemaklik in een dag van Pretoria tot in Kaapstad (1 460 km) kan ry sonder om uitgeput by jou bestemming aan te kom.

Ander pluspunte sluit in 17″ wiele op spesiale 135/45 Dunlop SP Sport Maxx RT-bande, en ‘n groot bagasieruim wat vier mense se tasse met gemak sal sluk.

Laaste woord:

Omdat die WRX met al vier sy wiele trek, is daar geen sprake van irriterende wringstuur (torque steer) nie. Wegtrek – selfs met ‘n swaar voet – is liniêr maar terselfdertyd dramaties.

Die Subaru WRX staan sterk as ‘n potensiële 2015 Motor van die Jaar-mededinger.

Teen R469 000 vir die outokas en nagenoeg R30 000 meer bekostigbaar as die VW Golf R, bied die WRX ‘n 3 jaar/100 000 km waarborg en 3 jaar/75 000 km diensplan.

Dus nie goedkoop nie, maar tog uitstekende waarde vir geld vir diegene wat hou van top bougehalte, puik verrigting en padklouvermoë sonder weerga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.