Superleggera laat jou soos 007 voel

Aston Martin se DBS Superleggera. Foto: Verskaf

Toe ek ʼn laaitie was, het ons oor twee handelsmerke gedroom – ʼn Ferrari óf ʼn Lamborghini. Party pelle het ʼn F40 op hul mure gehad – en ander ʼn Countach.

Eendag ná skool het ek ʼn DB9 in lewende lywe gesien. Sjoe … dit was pragtig. Toe bring Aston Martin die V8 Vantage Suid-Afrika toe en die klank was asemrowend.

Soos die tyd aanstap leer ek dat daar nie net luikrûe en supermotors is nie, maar ook iets soos ʼn Grand Tourer. Dit moet vinnig wees om heen en weer oor Europa te reis in die somer, sonder om ongemaklik te wees. Die pragtige Aston Martin DB5 is ʼn vroeë Grand Tourer.

Aston Martin se DBS Superleggera. Foto: Verskaf

Grand Tourers was ongelukkig net vir die Engelse se Joneses beskore – en mettertyd het ʼn spesifieke formaat gewild geraak. Dit is agterwielaandrywing met ʼn enjin voor … en meeste van die tyd ʼn verstommende V12-enjin.

Aston Martin is tans in die kol met hul ontwerpe, en Maroela Media was bevoorreg genoeg om genooi te word om met die asemrowende DBS Superleggera te gaan ry. Die formaat is eenvoudig. Kom na Aston Martin in Sandton, en gaan ry 200 km saam met Aston Martin se handelsmerkbestuurder as passasier.

Aston Martin se DBS Superleggera. Foto: Verskaf

Wat vir my aanvanklik opvallend was, is die feit dat die Aston Martin die stadsverkeer soos enige luukse motor kan aandurf. Dit is glad nie intimiderend nie. Die fantastiese turboaangejaagde V12 bied 900 Nm-wringkrag. Die 8-spoed ZF outomatiese ratkas is puik. Die Aston soek nooit na ratte nie en is altyd perfek in die kragband. ʼn Mens sê kragband – maar dit is eintlik meer soos ʼn krag-tsoenami.

Dit is moeilik om nie soos ʼn nar te glimlag soos mens in die verkeer ry nie. Elke keer as jy in die spieëltjies kyk sien jy daai stywe Aston Martin-boudjies en jy moet jouself knyp om seker te maak dis nie ʼn droom nie. Die ontwerp van die Aston is asemrowend mooi.

Aston Martin se DBS Superleggera. Foto: Verskaf

Die eerste 15 km is doodrustig om net ʼn bietjie gewoond te raak aan die krag wat ek weet onder die kap skuil. Die oomblik toe die geleentheid homself aanbied, begrawe ek die versneller in die mat, snak na my asem en glimlag maar soos ʼn hanswors.

Die 5.2 tweelingturboaangejaagde V12 bied 533 kW en 900 Nm-wringkrag. Wringkrag is tot 70% beperk in eerste en tweede rat anders sal ʼn mens net die bande in rook laat opgaan. Die verstomming kom in derde. As die ratkas eers derde geselekteer het, is dit soos die wegraping. 0 – 100 km/h neem 3,4 sekondes en die DBS Superleggera sal aanhou en aanhou, en aanhou tot ʼn enorme 337 km/h. Die syfers alleen is wel nie die hele ervaring nie. Daar is ʼn romerige 12-silinder geluid wat soos louwarmwater oor jou spoel soos die omwentelinge bou.

Aston Martin se DBS Superleggera. Foto: Verskaf

Die binneruim van die DBS is heel luuks, al is die toetsmodel so te sê heeltemal standaard. In dié klas is die opsielys amper oneindig en mens kan jou eie DBS verpersoonlik nes jy dit wil hê. Die inligtingstelsel is nou effe lank in die tand sonder Carplay en Android Auto teenoor van die stelsels daar buite. Die effe vierkantige stuurwiel lyk aanvanklik vreemd, maar ʼn mens kan al die instrumente mooi lees, en mooi bo-oor die stuurwiel sien, so die funksionaliteit daaragter is puik.

Aston Martin se DBS Superleggera. Foto: Verskaf

ʼn Aston Martin is nie ʼn speelding wat iemand opgewarm het nie, en elke sent van sy verkoopprys werd. Daar is baie slim tegnologie in sy vering, remme én aërodinamika. Al die tegnologieë saam maak ʼn verskriklik stabiele produk. Die beperkte-glip agterste ewenaar dra ook by tot algehele stabiliteit. Die aanpasbare vering wat in GT-modus lieflik soepel is sal een van die DBS se troefkaarte wees waar die pad baie sleg raak. Al die stelsels wat in harmonie saamwerk maak die Aston eerstens gemaklik, maar belangrikste van alles – veilig. Die Aston Martin kan verskriklik versnel – maar te danke aan sy koolstofveselkeramiek-remme, kan hy net so goed stilhou.

Een ding wat by my opkom terwyl ek die Aston Martin deur die Magalies-omgewing ry is hoe asemrowend dit nie moet wees om op ʼn Autobahn in Duitsland met die DBS te kan ry nie. Eendag.

Dit is maklik om die Aston Martin DBS Superleggera op te som. Dit is ʼn asemrowende ryding. Dit is beeldskoon en ʼn mens kan die ingenieurswese voel in elke deel van die Super GT. Dit is nie vir almal beskore nie – maar vir die wat kan, is dit ʼn fantastiese manier om van R5,6 miljoen ontslae te raak … dan kan jy darem ook so ʼn bietjie soos James Bond, oftewel 007, voel.

Die Aston Martin reeks lyk só:

Vantage
Aston Martin Vantage375 kW/ 685 Nm4.0 Twin Turbo V8R2 899 000
DB11
Aston Martin DB11375 kW/ 675 Nm4.0 Twin Turbo V8R3 499 000
Aston Martin DB11 Volante375 kW/ 675 Nm4.0 Twin Turbo V8R3 799 000
Astin Martin DB11 V12447 kW/ 700 Nm5.2 Twin Turbo V12R3 699 000
Aston Martin DB11 AMR470 kW/ 700 Nm5.2 Twin Turbo V12R4 199 000
Aston Martin DBS Superleggera533 kW/ 900 Nm5.2 Twin Turbo V12R5 499 000
Astin Martin DBS Superleggera Volante533 kW/ 900 Nm5.2 Twin Turbo V12R5 899 000
DBX
Aston Martin DBX SUV404 kW/ 700 Nm4.0 Twin Turbo V8R3 600 000

Indien jy wil sien hoe 0,001% van die bevolking leef, gaan maak gerus ʼn draai by jou naaste Aston Martin-handelaar. Dis ʼn belewenis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hond se Baas ·

Ek ry Hyundai en diens my motors by Hyundai om seker te maak my waarborg bly in plek. Oorkant my Hyundai handelaar is daar ‘n goedkoper Auto Works diens sertrum en hulle is altyd vol Astin Martins. So m.a.w. jy kan R4 miljoen betaal vir ‘n motor maar jy diens hom by ‘n Auto Works diens setrum want jy kannie die Astin Martin handelaar se dienste bekostig nie. LOL!

Smurf ·

En dan stamp n taxi jou……….en dan huil jy ……….ek kry sommer n koue rilling.Maar ek is seker daar is van die “tender brigade” wat dit kan bekostig as n taxi jou raakry….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.