Suzuki DL 250 V-Strom: Kleinboet dra ouboet se baadjie

Foto: Brian Cheyne.

Die 650 cc- en 1 000 cc- Suzuki V-Strom is albei onlangs opgekikker. Met die kleinkapasiteit-motorfietsmark wat uit sy nate bars, het Suzuki besluit om sommer op die koop toe ʼn 250 cc-V-Strom bekend te stel. Die fiets is meganies identies aan die GSX 250 R wat ek vroeër getoets het, maar met die voorkoms van ʼn avontuurfiets. Die klein V-Strom kry dit reg om sy groter boeties na te boots en word maklik vir ʼn groter fiets aangesien. Die DL 250 hoef nie met sy voorkoms terug te staan vir sy mededingers nie, maar dit is by verrigting waar die Suzuki effe agter is.

Die enjin is ʼn 248 cc-parallel-twee en ontwikkel maar ʼn skamele 18.4 kW. Die wegtrek gaan gepaard met baie hoë toere en die piepkleine enjin tol gretig tot by die 10 500 rpm- rooi lyn. Aan entoesiasme ontbreek dit die enjin nie. Boonop is hy heeltemal vry van vibrasies, so mens kry glad nie die gevoel dat die enjin onder spanning is nie.

Soos met die GSXR is die ratkas vir my net effe kort gerat, want ek kon net 136 km/h uit die V-Strom kry, ongeag die steilte. Vir my was die verrigting maar papperig, maar toe my vrou die fiets gaan ry het, was sy in ekstase. Die koppelaar is lig en die saal bied baie ondersteuning. Met die regop sitposisie was dit vir haar ʼn uitstekende fiets. Die kraglewering is rustig en dit het haar ervaring van die fiets net soveel beter gemaak. Ek het toe besef, krag is nie alles nie. Party mense verkies ʼn fiets wat gemaklik ry, sonder om jou uit jou sokkies uit te skrik.

Foto: Brian Cheyne.

Op die pad gaan die klein Suzuki met minimum moeite aan met sy taak. Hy loop met uiterste gemak 120 km/h en die kragkurwe is baie egalig. Dit verseker dat jy tog daardie ekstra hupstoot het, sou jy ʼn motor wou verbygaan. Ek het ʼn week lank met hom gependel, en die naald het kort-kort bo 120 gedwaal sonder dat jy bewus is van jou spoed. Die windskermpie lyk klein, maar was verbasend doeltreffend. Die remme het sluitwering en oorgenoeg byt.

Die instrumentepaneel is die bekende Suzuki-vloeikristaleenheid met ʼn swart agtergrond en wit letters. Dit is volledig en uiters leesbaar, selfs in die skerpste lig. Daar is ook ʼn 12 V-sok as standaard, sou jy dalk jou GPS wil inprop. Die instrumentepaneel sit agter die ronde hooflig, en die lig bied ʼn helder straal wat selfs die donkerste nag kan deurklief.

Die Suzuki DL 250 V-Strom is ʼn welkome toevoeging in ʼn propvol mark. Dit bied kalm verrigting wat niemand se oë sal laat rek nie. Die enjin is seepglad en die sitposisie baie gemaklik. Die klein Suzuki het klaar monteerpunte vir kantbagasie, so dit sal van hom ʼn baie goeie pendelfietsie maak. Jy gaan nie in Afrika opjaag nie, maar kort toere met ʼn ligte grondpad of twee sal nie ʼn probleem wees vir die kleinste Strom nie. Met die legendariese Suzuki-betroubaarheid gaan jy hierdie fietsie nog baie jare kan ry ook!

Produkblad: http://suzukimotorcycle.co.za/bikes/dual-purpose-bikes/v-strom-dl250/

Die feite:

Enjin248 cc-parallel-twee
Gewig (Nat)188 kg
Kraglewering18.4 kw teen 8 000 rpm
Wringkrag23.3 Nm @ 6 500 rpm
Saalhoogte800 mm
Tenkkapasiteit17.3 L
Grondvry hoogte160 mm
PrysR73 250

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marco polo ·

Hier in China kos hy so R65k, insluitende drie bagasie bokse. Ek het na een gaan kyk en hoewel hy regtig gemaklik voel, is dit eintlik maar net n padfiets wat opgekikker is om soos n avontuurfiets te lyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.