Suzuki DL 650 V-Strom – betroubare reisgenoot

(Foto: Brian Cheyne)

Jare gelede, in die hartjie van Japan, het bakke vol onderdele in ’n fabriek bymekaar gekom en ’n Suzuki DL 650 V-Strom is geskep. Daarna is dit in ’n krat verpak en na Suid-Afrika verskeep. Dit was egter nie sommer enige V-Strom nie. Dit was my V-Strom. Hierdie fiets was my tweede begin na ’n groot ongeluk.

Na ’n toer van twee weke deur die land het ek nog avonture beplan. Swaziland, Lesotho, Paternoster, noem maar op, ons was daar. Een ding het my van my V-Strom bygebly, en dit is dat my beplanning nooit ingesluit het dat my fiets my in die steek sal laat nie. Die enigste keer wat my Strom nie wou saamspeel nie, was toe die battery onklaar geraak het. Verder het ek absolute vertroue gehad dat ek enige plek heen kon ry sonder om my oor my fiets te bekommer.

(Foto: Brian Cheyne)

Sedert my 2006‑model het Suzuki al twee keer die model opdateer. Die eerste keer het Suzuki rondings en kurwes ingebring wat, in my opinie, nie die model enigsins ’n guns bewys het nie. Die volgende opdatering was vir die 2018‑model en het heelwat beter gelyk. Dit het sterk getrek op die DL 1000. My eerste kennismaking met die nuwe model was op die Red Star‑renbaan, en ek was sommer uit die staanspoor baie gemaklik op die fiets omdat dit, in wese, nie veel verskil het van my eie V-Strom nie. Ja, Suzuki het baie komponente verfyn en verbeter, maar die dele wat die V-Strom so betroubaar gemaak het, het behoue gebly.

(Foto: Gerrit Erasmus/Beam Productions)

Tydens Suzuki se padskool-byeenkoms so ʼn paar weke gelede het ek weer ’n kans gehad om met die DL 650 te ry. Nie net op die baan nie, maar ek het sommer met die V-Strom huis toe gery. Ek het net weereens besef wat ’n ongelooflike lekker fiets dit is, selfs al is hierdie model nou al ’n paar jaar oud. Terwyl ander vervaardigers allerhande nuwe foefies probeer om hul fietse te vernuwe, bly Suzuki by dít wat werk. Byvoorbeeld, die nuwe gier om sleutelvrye stelsels na fietse te bring, is vir my ’n oplossing vir ’n probleem wat nie bestaan nie. Suzuki se nuutste modelle het nog ’n tradisionele sleutel. Een ding minder om jou oor te bekommer.

Hierdie fiets verkoop baie goed in Europa, maar in Suid-Afrika word hy misgekyk, want ons is behep met kapasiteit. Hoe meer, hoe beter. Tog bied die DL 650 jou alles wat jy moontlik kan nodig hê vir enige reis. Daar is oorgenoeg woema en na jare se produksie het Suzuki die vering op die DL feitlik vervolmaak. Die DL is ’n avontuurfiets, en tog skrik hy nie vir draaie nie. Met nuwe elektroniese hulpmiddels wat my fiets nie gehad het nie, is die hele ryervaring soveel beter.

Die Suzuki DL 650 V-Strom bied baie motorfiets vir jou geld. En soos ek kan getuig, daar is min plekke waar die DL jou nie sal kan besorg nie. As jy dalk die DL 650 wil gaan toetsbestuur (of selfs die DL 1050 of die nuwe Hayabusa) en jy bly in Gauteng, maak dan ’n aantekening vir 9 April by World of Motorcycles in Centurion. Hul beplan ’n dag waar jy die fietse kan besigtig en sommer ’n worsrolletjie kan kry terwyl jy wag vir jou beurt vir ’n toetsrit.

Die feite:

Enjin645cc 90° V-Twee
Gewig (Nat)216 kg
Kraglewering52 kW
Saalhoogte83 cm
Tenkkapasiteit20 L
PrysR148 950

Klik hier vir meer inligting oor die DL 650 Strom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Die fiets vertoon baie mooi maar is effens gewigtig vir sy groote, bv 1200 Bmw GS weeg in die omgewing van tussen 203 kg tot 223 kg met 20 Kw meer tot jou beskikking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.