Die Suzuki Hayabusa het geen bekendstelling nodig nie. Tog het Suzuki besluit om die nuwe Hayabusa na Suzuki-handelaars reg oor die land te neem. Elke handelaar kon dan ’n paar potensiële klante nooi om die fiets eerstehands te kom besigtig.
Om motorfietspublikasies ook ’n kans te gee om die fiets te ry, het Suzuki van joernaliste gebruik gemaak om tussen die handelaars te ry. Gelukkig vir my het ek die been van Kaapstad na Upington gekry! Omdat dit op ’n Vrydag geval het, en die fiets die Saterdag in Bloemfontein moes wees, het ek aangebied om daardie been ook te ry. Ek sou dan die Sondag vanaf Bloemfontein huis toe vlieg.
My eerste ontmoeting met die nuwe Hayabusa was by die Suzuki-handelaar in Plumstead. Vandaar moes ek die fiets vat tot in Vredenburg. Dit is maar net oor die 150 km, so dit sou ’n ideale opwarming wees. Die fiets is onmiskenbaar ’n Hayabusa. Die rede is eenvoudig: Die raam en die meeste van die basiese komponente is nog presies dieselfde as die tweede generasie Hayabusa. Die bakpanele is egter heeltemal nuut, en het ’n splinternuwe LED-hooflig. Die voorkant lyk baie skerper, maar het steeds die twee gate aan weerskante van die hooflig om vars lug by die nuwe enjin uit te bring.
Die 1340 cc-enjin is breedvoerig verfyn en daar is aandag gegee aan letterlik elke komponent in die enjin om dit te verbeter. Natuurlik moes die enjin ook voldoen aan die nuutste Euro5-standaarde. ’n Ongelukkige uitvloeisel van al hierdie veranderinge is die yslike uitlaatpype aan weerskante van die fiets. Die brandstoftenk is nou kleiner as voorheen, maar die enjin is heelwat ligter op brandstof as die vorige model en die kraglewering is meer egalig. Alhoewel die enjin minder krag as die vorige model lewer, is die nuwe Hayabusa vinniger oor die kwartmyl. Die topspoed word elektronies beperk tot 299 km/h.
Om die fiets meer gemaklik te maak, is die handvatsels nader aan die ryer geskuif en dit was iets wat gesoute Hayabusa-ryers dadelik agtergekom het. Aanvanklik het ek gedink die ryposisie gaan ongemaklik wees, maar die fiets was verbasend gemaklik. Voor jou is die nuwe instrumentepaneel met vier analoogwysers vir brandstofvlak, toere, spoed en enjintemperatuur. In die middel is die nuwe TFT-skermpie waar al die elektroniese verstellings weggesteek word. Daar is drie voorafopgestelde ryprogramme om uit te kies en nog drie wat die ryer self kan stel. Suzuki het ook ’n stelsel wat help dat die fiets nie stol as jy wegtrek nie.
Ons het die volgende oggend vroeg uit Vredenburg vertrek in die rigting van Clanwilliam. Ek was oortuig dat ek teen Calvinia al spierspasmas sou hê, maar selfs met ’n verdwaalslag het ek die Hayabusa baie geniet. Selfs in draaie was die fiets nie ’n handvol nie. Dit was egter op die lang, reguit paaie van Calvinia na Kenhardt wat die fiets al my selfbeheersing getoets het. Dit sou so maklik wees om net die krane oop te draai, maar een skilpad in die pad sou rampspoedig wees. Boonop was hierdie die enigste Hayabusa in die land, so ek moes myself inhou. Die geringste raak aan die versneller het die fiets laat versnel, ongeag die rat waarin jy is, of die spoed waarteen jy ry. Wat my die meeste beïndruk het, was hoe stabiel hierdie fiets was in dwarswinde. Daar was ’n DL 1050 saam met my op die pad en wanneer ons trokke verbygesteek het, het die wind die DL skoon uit sy baan gewaai, maar die Hayabusa het sy lyn behou.
Van Upington af na Bloemfontein was so gemaklik dat ek my vlug uit Bloemfontein gekanselleer het, net sodat ek verder kon ry die volgende dag. Ek het ongeveer 1 900 km ver gery met dié fiets oor vier dae en ek sou kon aanhou as daar nog ’n been oor was om te ry. Ek het nooit verstaan hoekom die Hayabusa soveel aanhang geniet nie. Ek verstaan nou.
Spesifikasies:
Enjin | 1340 cc-viersilinder |
Gewig (Nat) | 264 kg |
Kraglewering | 187 hp @ 9 750 rpm |
Wringkrag | 150 Nm @ 7 000 rpm |
Tenkkapasiteit | 20 l |
Prys | R329 000 |
Dis rerig vir my een van die mooiste motorfietse op die mark. Sou dit eerder in Swart wou he, maar dis mooi.
Ek het twee van die vorige generasies gehad en baie van hulle gehou. In 2021 is hierdie styl fietse egter aan die uitsterf. Die veel ligter en kragtiger “Super Naked” en “Hyper Naked” fietse is uiters gewild, het almal 200 – 215 perdekrag, uitstekende elektronika, remme ens… Ek het twee van hulle (Ducati en KTM) en ek kyk nie terug nie! As mens hulle nog nie gery het nie, kan jy nie saampraat nie!
Lekerrrrr