Suzuki is aan die brand  

Dit is geen geheim dat dit op die oomblik voor die wind gaan by Suzuki nie. Hulle net geruime tyd gelede koers verander en hul fokus verskuif na dit waarin hulle uitblink… klein tjorrietjies.

Suzuki het oor die afgelope paar maande van krag tot krag gegaan, en breek hul eie rekords maand na maand. Hulle het in Februarie 2022 ʼn allemintige 3 240 voertuie verkoop – en sodoende die derde plek vir meeste verkope in die passasiervoertuigsegment ingeneem.

Ek voorsien nou nóg ʼn tree vooruit. Die Celerio-naam is nie vir ons onbekend nie, maar nie nuwe voertuig is ʼn redelike verbetering op sy voorganger. Die nuwe Celerio is ʼn spiksplinternuwe voertuig, ontwerp en al.

ʼn Oulike buksie wat vir my soos ʼn effense kleiner Swift lyk. Dit self is nie ʼn slegte ding nie want die Swift is Suzuki se gewildste model met ʼn reusemarge. Die binneruim is eenvoudig, en bied billike bougehalte en materiale. Daar is heelwat moderne luukshede soos elektriese vensters, lugreëling en kragstuur. Die raakskerminligtingstelsel bied Android Auto en Apple CarPlay – ʼn puik toevoeging in dié segment.

Aan die veiligheidskant is die Celerio op Suzuki se HEARTECT-platform gebou wat tegnologies gevorderd is in terme van wringvastheid en veiligheid. Die hele reeks beskik oor sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding sowel as vastrap- en stabiliteitsbeheer met twee lugsakke.

Onder die kap is ʼn nuwe DualJet 1.0 driesilinderpetrolenjin. Die atmosferiese enjin bied 49 kW en 89 Nm – dieselfde as die vorige Celerio, maar met beter brandstofverbruik. Die brandstofverbruik word verder verbeter met die toevoeging van outomatiese aan- en afskakeling in die verkeer. Daar is twee ratkaste beskikbaar – ʼn 5-spoed handrat en ʼn 5-spoed AMT outomatiese ratkas. Suzuki voorsien ʼn gemiddelde brandstofverbruik van 4,2 ℓ/ 100 km – en ons het op die toetsroete ʼn fantastiese 4,4 ℓ/100 km gehandhaaf.

Dit is baie maklik om die Celerio op te som. Dit is ʼn oulike klein buksie met alles wat ʼn mens benodig, en niks oortollig nie. Wat die karretjie perfek maak is die kombinasie van twee dinge – ʼn lekker Suzuki-enjin en puik kalibrasie van elke element. Daai kalibrasie maak die Celerio uiters maklik om te ry, en lekker ook. Die nuwe Suzuki Celerio is ʼn bewys dat goedkoop nie altyd ʼn kompromie hoef te wees nie.

Die reeks lyk só:

Suzuki Celerio 1.0 GA handratR174 900
Suzuki Celerio 1.0 GL handratR194 900
Suzuki Celerio 1.0 GL AMT outoR209 900

Die reeks word gedek deur ʼn vyf jaar/200 000 km-waarborg en ‘n twee jaar/30 000 km-diensplan op GL-modelle.

Ons sal weer tyd met die Celerio deurbring en sien hoe hy hom in die daaglikse roetine gedra en hom dan met sy mededingers vergelyk. Indien jy in die mark is toetsbestuur beslis ʼn Celerio.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

andre ·

Glad nie.Drie modelle Toyotas in SA word deur Suzuki vervaardig. Daar word geen Toyota komponente in enige Suzuki gebruik nie . Toyota en Lexus maak gebruik van Yamaha tegnologie in sekere modelle.Vanjaar vervaardig Yamaha n V8 5.0L waterstofaangedrewe enjin vir Toyota.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.