Suzuki Karoo Adventure – Motors en ysterperde op dieselfde avontuur  

(Foto: Rob Till)

Hoe beskryf mens stilte? Die tipe stilte wat jou omvou dat jy amper jou eie hartklop kan hoor? Dit was wat ek ervaar het, diep in die Bosluiskloof. Wat dit nog meer spesiaal gemaak het, was die twee voertuie wat ons gebruik het om hier te kom.

Die storie het so paar weke terug begin toe daar ’n ongewone uitnodiging van Suzuki by my aangekom het. Suzuki, Honda en BMW is vervaardigers wat beide motors en motorfietse in Suid-Afrika verkoop. Suzuki het die inisiatief geneem en besluit om ’n motor én ’n motorfiets saam op dieselfde avontuur te stuur. Vir die motorfiets het Suzuki hul DL 1050 V-Strom beskikbaar gestel, maar die motor was vir my nogal ’n verrassing. Die logiese keuse sou sekere die Jimny of die nuwe Brezza wees, maar Suzuki het hulle Ignis gekies vir hierdie taak. Die DL kos R221 950 en die Ignis GLX wat ons gery het, kos R 229 900. Ten opsigte van prys, verskil hulle dus nie veel nie.

Ons avontuur het in Grabouw begin. Ek het dadelik my motorfietsklere aangetrek, want dit is mos wat ek doen. Ek ry motorfiets. Daar was egter ’n logistieke probleem. Daar was meer motorfietsryers as wat daar motorfietse was. Ek sou dus, noodgedwonge, tyd in die Ignis moes deurbring om die ander ook kans te gee. Omdat ons presies geweet het waarheen ons sou ry, het ons gou die motorfietsrooster beplan om te verseker dat dié van ons wat nog nie sekere passe gery het nie, nou kans sou kry.

Diesel & Crème. (Foto: Rob Till)

Uit Grabouw is ons na die bekende Diesel & Crème in Barrydale vir ’n melkskommel en iets om te eet. Op pad het ons al die eerste stukkie grondpad gery om op te warm. In Barrydale het ek my motorfiets verruil vir die Ignis. ’n Rit op die R62 sal seker nie volledig wees sonder om by Ronnie’s Sex Shop te stop nie. Hier het die hemele die eerste salvo gevuur en die manne op die fietse liggies natgegooi. Seweweekspoort was interessant, maar beide die V-Stroms en die twee Ignis-motortjies is deur sonder enige probleme.

Bosluiskloofpas is waar my siening van die Ignis totaal verander het. Hierdie voertuig het 180 mm grondvryhoogte. Vergelyk dit met die 160 mm van die V-Strom, dan begin jy sien dat hierdie klein karretjie wydsbeen oor die klippe kan dans.

(Foto: Rob Till)

Die pad na die kloof is nou en sekere dele is verspoel, en tog het die klein Ignis nie een keer sy onderkant gekrap nie. Die V-Stroms en hul ryers was behoorlik vuil toe ons by ons eindbestemming aangekom het. Ek hou van alleen toer, en daarvoor sou ek die DL enige tyd vat, maar die manier hoe die Ignis die paaie hanteer het, het my regtig beïndruk.

Die volgende oggend is ons weer uit met die pas in die rigting van Calitzdorp. Ek het weer ’n motorfiets gehad vir die pragtige Groenfonteinpad wat lei tot by die begin van die Swartbergpas. By die eetplek, Kobus se Gat, het ons weer geruil, want ek het regtig die Ignis begin geniet. Daar het ons ook vir Riana ontmoet, ’n vroueryer wat op ’n volgelaaide Suzuki DR 650 toer.

Ons is oor die Swartbergpas en tot in Klaarstroom, waar ons oorgebly het in die Klaarstroom Hotel. Aandete was bedien op ’n plaas en ons het pas gaan sit, toe maak die hemele behoorlik oop. Hier was ons vasgekeer, want die enigste toegangsroete is heeltemal oorstroom en die rivier het nie gelyk of dit gou sou sak nie. Gelukkig was die rolprentmaker Koos Roets daar om vir ons stories te vertel, en natuurlik pampoenkoekies, lamsbredie en bobotie!

Die volgende oggend is ons deur Meiringspoort, maar weens tydsbeperkings kon ons nie Montagupas ook ry nie. Ons het wel by die Tolhuis gestop vir pannekoek en kondensmelkkoffie. Die Tolhuis is pragtig gerestoureer nadat dit onlangs verwoes is deur die brande in die gebied.

Die Tolhuis. (Foto: Rob Till)

Die Suzuki V-Strom en Ignis is beide omtrent dieselfde prys, en ek het gedink dat Suzuki mal is om ’n motorfietsryer soos ek te nooi na so geleentheid, want ek het klaar my keuse gemaak nog voor die rit begin het. Die Ignis het my egter diep beïndruk. Die plekke waar ons gery het, sou ek nie goedsmoeds aangepak het nie, en tog was dit asof die klein karretjie in sy element was.

Ek hou baie van die V-Strom, en dit bly maar een van my gunstelingfietse, maar die Ignis maak baie sin. Ek het gedink al die plekke wat ek nog wil besoek, is net bereikbaar met iets soos die V-Strom, maar die Ignis het my siening heeltemal verander. Soveel so, twee weke later, besit ek nou een!

Dankie Suzuki vir hierdie ongelooflike avontuur!

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.